Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Klasgee steeds Vink se passie

Twee dekades van voortreflike navorsing het aan prof. Nick Vink, voorsitter van die Universiteit Stellenbosch (US) se departement landbou-ekonomie, die gesogte kanselierstoekenning vir gemeenskapsinteraksie en navorsing besorg.

Dié toekenning is verlede maand tydens die universiteit se Desember-gradeplegtighede aan Vink toegeken. Sy departement is in die fakulteit agriwetenskappe gesetel.

Prof. Nick Vink, voorsitter van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.

Luidens ’n verklaring wat deur die fakulteit uitgereik is, is Vink beloon vir sy volgehoue uitmuntende prestasie en navorsingsuitsette oor die jare.

Hy is onder meer die outeur van 167 publikasies, insluitende 11 boeke as redakteur of mede-redakteur, en meer as 50 artikels en boekhoofstukke in internasionale publikasies. Vink is ook by die Afrika- sowel as die Internasionale Vereniging vir Landbou-ekonome (IAAE) betrokke. Hy is tans die president van die laasgenoemde vereniging.

Vink is in 1996 as dosent in die departement aangestel.

“Ek was aan die begin van 1979 nog ’n ingeskrewe student op Stellenbosch toe ek ’n pos as dosent aan die destydse Universiteit van die Noorde (nou Limpopo) – of ‘Turf-loop’ soos daarna verwys is, aanvaar het,” vertel hy.

“Ek kan nog die dag wat ek my motor volgepak het en departement toe gekom het om vir prof. (Eckard) Kassier, my studieleier, te kom groet, goed onthou. Ek was van plan om terug te kom na Stellenbosch, my geboortedorp, maar het nie geweet hoe of wanneer nie. Ná sewe jaar in die verre noorde van die land het ek eers ’n draai by die Ontwikkelingsbank in Johannesburg gemaak, en toe ná 17 jaar teruggekom.

“Ek is my lewe lank ’n navorser en beleidsanalis, maar wat my eintlik akademie toe gelok het, was klasgee. As departementele voorsitter gee ek nou nog vir ons nuwelingstudente klas, want ek dink dis belangrik dat hulle die senior dosente eerstehands ervaar en so vroeg in hul (akademiese) program as moontlik.

“En ek gee ook in hulle finale jaar weer vir hulle klas, want teen daardie tyd het hulle al mens geword en is die taak net soveel makliker!” sê hy.

Die fakulteit agriwetenskappe se medaljewenners vir 2018 is (van links) Matthew Peter Greenwood (Hofmeyer-Van Schaik-medalje), Michaela Ann Boshoff (A.I. Perold-medalje) en Naulette Pollard (P.A. van der Bijl-medalje) Saam met hulle op die foto is prof. Danie Brink, dekaan van die fakulteit. Foto: EJ LANGNER

Vink sê benewens die geleentheid om klas te gee bied Maties hom akademiese vryheid. “Dit het my toegelaat om my eie navorsingsbelangstellings te volg en publikasies te laat verskyn. Ek kon ook meer as 60 keer die afgelope 18 jaar oorsee reis, insluitend na omtrent elke uithoek van Afrika, om konferensies by te woon.”

Hy kon ook leidende rolle speel by verenigings en diens doen as nie-uitvoerende direkteur van Rooibos Beperk en die Suid-Afrikaanse Reserwebank.

“Hierdie toekenning kom naby aan die einde van my loopbaan, maar ek sien dit nie as ‘dankie vir jou lang diens’ nie – eerder as ’n aansporing om in hierdie laat skof nog al die voordele en voorregte van my alma mater te geniet, en hopelik in die proses darem iets nuttig vir die nuwe oes studente te leer!”

Vink het onder meer gedien as voorsitter van die raad van die Elsenburg-landboukollege van 2000 tot 2004 en as raadslid daarvan 2012 tot 2016. Hy het oor die jare verskeie redaksionele pligte vir wetenskaplike tydskrifte vervul, onder meer as die redakteur van die African Journal of Agricultural and Resource Economics en as redaksielid van Development Southern Africa en die Journal of Wine Economics.

Landboustudente vereer

Die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe het in Desember weer sy toppresteerders vir die jaar vereer.

Michaela Ann Boshoff het die Prof. A.I. Perold-medalje ontvang. Dit word jaarliks toegeken aan een van die twee topstudente wat ’n BScAgric-graad behaal het. Boshoff het ’n gemiddeld van 79,5% oor die afgelope vier jaar in haar kursus (spesialis-wynkunde) behaal.

Die Prof. P.A. van der Bijl-medalje word jaarliks toegeken aan een van die twee beste studente wat die BScAgric-graad voltooi het. Die 2018-medaljewenner is Naulette Pollard. Sy het haar graad in grondkunde en hortologie met ’n gemiddeld van 78,3% die afgelope vier jaar behaal.

Matthew Peter Greenwood, wat ’n gemiddelde van 80% behaal het, het die Hofmeyer-Van Schaik-medalje ontvang. Dit word toegeken aan die student met die beste punte in genetika in die BScAgric- of die BScHons-kursus. Die medalje word jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Genetika-vereniging toegeken.

Grade vir Afrika!

Die fakulteit agriwetenskappe het in 2018 met meer studente gespog wat graad gekry het as die vorige jaar.

Op die Desember-gradeplegtigheid het 247 studente die eerste keer graad verwerf, 10 het nagraadse diplomas ontvang en aan 13 is HonsBSc-grade toegeken. Daarbenewens is 31 meestersgrade en 15 doktorsgrade in die fakulteit toegeken, lui ’n verklaring.

Dr. Lara Alexander, ’n voedselwetenskaplike, het onder meer ondersoek ingestel na die bitter smaak van heuningbostee. Sy het die fenolitiese verbindings in groen (“ongefermenteerde”) en gefermenteerde heuningbostee ondersoek as moontlike aanduiders van bitterheid.

Dr. Bonginkhosi Edward Dlamini, ’n entomoloog, het die soeklig laat val op die gebruik van nematodes en swamme om die gebande vrugtekalander (Phlyctinus callosus) te beheer. Hierdie kewer kan groot skade op vrugte- en wynplase veroorsaak.

Dr. Sune Henning, ’n voedselwetenskaplike, het op haar beurt visspesies bestudeer wat deur parasiete (Kudoa thyrsites en K. paniformis) besmet word. Hoewel dit skadeloos is vir diegene wat dit eet, veroorsaak sodanige besmetting grootskaalse verliese in die plaaslike visbedryf.

Dr. Carlien Vorster, ’n bewaringsekoloog, het ’n naaldekoker-studie gedoen wat ’n nuwe hulpmiddel bied om varswaterbronne se stand in Afrika te ontleed.

Dr. Shepherd Mudavanhu, ’n landbou-ekonoom, het weer volhoubare grondbestuurbeplanning bekyk in gebiede wat indringerplantvry gemaak is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.