Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kleiner Zeder swyg nog oor pad vorentoe
Zeder is 'n landboubeleggingsmaatskappy.

Die waarde van die landboubeleggingsmaatskappy Zeder se beleggings het einde September R4,8 miljard beloop vergeleke met die R11,5 miljard einde Februarie voordat sy belang in Pioneer Foods en Quantum Foods verkoop is.

Niks is Woensdag met sy halfjaarresultate gerep oor die strategieverandering waarvan beleggers skielik op 10 September verwittig is toe Norman Celliers, die uitvoerende hoof, ook onverwags bedank het nie.

LEES OOK: Zeder se toekoms in die weegskaal

Die hele belang in Pioneer Foods is in Maart vanjaar vir R6,4 miljard aan PepsiCo verkoop.

Dit het die maatskappy die geleentheid gegee om sy skuld van R1,5 miljard terug te betaal en om ’n spesiale dividend van R3,9 miljard of R2,30 per aandeel aan aandeelhouers te betaal.

Die belang van 32,1% in die hoendergroep Quantum is in Junie teen R308 miljoen aan Country Bird verkoop. In die halfjaar is R262 miljoen se aandele teruggekoop.

Sy halfjaarresultate tot einde Augustus wat Woensdag uitgereik is, toon sy beleggingsportefeulje se waarde beloop R4,8 miljard en hy hou nog R1 miljard se kontant oor.

Ingesluit die kontant beloop die waarde van die portefeulje R3,73 per aandeel.

Sy aandeelprys was Woensdagmiddag onveranderd rondom die vorige dag se aandeelprys van R2,45.

Zeder sê die verandering in die grootte en samestelling van sy beleggingsportefeulje ná afloop van die verkoop van Pioneer en Quantum, het daartoe gelei dat die direksie besluit het om die maatskappy se strategie te heroorweeg.

Geen finale besluit is al geneem hieroor nie.  

Die grootste belegging in sy portefeulje is nou die 95,7%-belang wat in Zaad gehou word, wat R2 miljard werd is.

Zaad het in die halfjaar tot einde Julie ’n herhalende kernwins van R23 miljoen getoon.

The Logistics Group, wat Capespan se logistieke afdeling is wat begin 2019 afgeskei en ontbondel is aan aandeelhouers, is die tweede grootste belegging van R1 miljard. Zeder hou 98,6% van die maatskappy. Dié onderneming se herhalende kernwins het in die halfjaar tot einde Junie R31 miljoen beloop.

Die belang van 96,7% in die vrugtemaatskappy Capespan is R999 miljoen werd. ’n Wesensverlies van R27 miljoen is gely.

Die belang van 41% in die genoteerde Kaap Agri beloop R642 miljoen.

Geen tussentydse dividend is verklaar nie omdat die direksie besluit het om sy konserwatiewe dividendbeleid gedurende die Covid-19-pandemie voort te sit en in die lig van die onlangse spesiale dividend wat verklaar is.

Meer oor:  Zeder Investments  |  Zeder  |  Pioneer Foods  |  Landbou  |  Resultate  |  Maatskappye
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.