Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kleinhandel se hulp ’n hupstoot vir katoenbedryf
Frans Malela, ’n kleinboer van Marble Hall, by Joseph Kempen van Loskop Cotton, wat sy katoen koop.

’n Paar jaar gelede was die Suid-Afrikaanse katoenbedryf as’t ware in die waakeenheid, maar danksy ’n vyfjaarprogram waarvoor die regering R200 miljoen bewillig het, groei katoenverbouing tans teen ’n verstommende tempo.

Dit het reeds groot beleggings uit die private sektor tot gevolg gehad in plattelandse gebiede waar werkloosheid en armoede hoogty vier.

Een so ’n belegging is die splinternuwe en hipermoderne katoenpluismeule wat pas buite Marble Hall in bedryf gestel is.

Die eienaars, Loskop Cotton, het R72 miljoen in die pluismeule belê waar hulle nou 45 bale katoen per uur kan verwerk, pleks van die agt bale wat die ou pluismeule kon haal.

Die katoenprogram, bekend as die Sustainable Cotton Cluster, het sowat vyf jaar gelede afgeskop met navorsing oor elke afdeling van die hele verskaffingsketting en die plaaslike vraag na katoen.

’n Deurbraak het gekom toe die kleinhandelaars Mr Price en Edcon hulle vooruit en op skrif verbind het tot die aankoop van plaaslike katoen vir spesifieke produkte.

Woolworths raak ook nou betrokke.

Met die ondernemings in die hand, het die boer (en sy finansiers) die gemoedsrus dat sy oes verkoop is nog voordat hy geplant het.

Danksy dié benadering het katoenproduksie van 25 000 bale vesel in 2013 tot meer as 200 000 die afgelope seisoen gestyg.

Frans Malela, ’n kleinboer buite Marble Hall, kan nou sy katoen plaaslik verkoop. Foto: Verskaf

Die getal kleinboere net in die Marble Hall-omgewing het van minder as tien toegeneem tot 240.

Dit is nie net die hoeveelheid katoen wat verhoog het nie, maar al hoe meer boere pas beter produksiemetodes toe. Die afgelope seisoen het 32% van die bale wat gelewer is voldoen aan die Better Cotton Initiative (BCI) se vereistes. Met die dramatiese toename in die katoenoes het Loskop Cotton besluit om die nuwe pluismeule buite Marble Hall te bou.

Frans Malela, ’n kleinboer van die Marble Hall-omgewing, sê danksy die sukses van katoen het sy boerdery gegroei van vier hektaar tot 150 hektaar.

Hy het aanvanklik mielies, sonneblom en neute verbou, maar fokus nou op katoen.

Malela sê sy en ander kleinboere se vooruitsigte is egter beperk omdat hulle nie die grond waarop hulle boer, besit nie.

“Ons huur die (kommunale) grond van gemeenskappe hier. Hulle gebruik nie andersins die grond nie.”

Met ’n titelakte in die hand, sal hy finansiering kan kry en infrastruktuur kan oprig, sê Malela. Die belangrikste is dat hy sou kon boor vir water en sy afhanklikheid van reën verminder.

“Op die oomblik is my opbrengs 1,2 tot 1,5 ton per hektaar. As ek water het, kan dit verhoog tot 6 of 7 ton per hektaar,” sê hy.

Hy verkoop sy katoen aan Loskop Cotton. “As die regering sy benadering tot grond verander, kan dit ’n groot verskil maak aan kleinboere se vooruitsigte,” sê Joseph Kempen, bestuurder van Loskop Cotton se pluismeule.

Kempen sê die bloeitydperk vir katoen het ’n positiewe uitwerking op die hele omgewing se ekonomie. Werkloosheid en armoede vier hoogty, maar vir elke ekstra hektaar katoen wat aangeplant word, word minstens een werkgeleentheid geskep.

En daar is nog baie groeipotensiaal, sê hy. Die plaaslike kleinhandelaars benodig 1,5 miljoen bale katoen per jaar, meer as sewe maal die afgelope seisoen se plaaslike oes.

Joseph Kempen by Loskop Cotton se nuwe pluismeule buite Marble Hall Foto: Verskaf

Kempen sê daar is baie grond beskikbaar wat tans in onbruik lê. “Goeie grond vir katoen,” sê hy.

Tans word 45% van die plaaslike oes na Mauritius uitgevoer om verder verwerk te word.

Vir kleinhandelaars sou dit egter sin maak om verwerking alles plaaslik te doen, want dit bespaar tyd en koste.

Vandat die kleinhandelaar die bestelling plaas totdat die produk op sy rak is, neem sowat 18 maande. Deur alles plaaslik te doen, kan dit verkort word tot ses maande. Dit stel die kleinhandelaar in staat om rats te reageer op veranderinge in modegiere en marktendense – en só verminder sy risiko.

Die Sustainable Cotton Cluster se program eindig einde Maart, maar ’n aansoek is ingedien om dit te verleng.

Meer oor:  Woolworths  |  Kleinhandel  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.