Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Koffieverkope daal sowaar
’n Landboukundige van Nestlé beduie vir ’n koffieboer in die Ivoorkus hoe koffiebome gesnoei kan word vir beter produksie. Foto: Nescafé

Die Switserse kosreus Nestlé spog met die sukses van sy program om koffieboere in Afrika te help om hul produksie op te stoot.

Die koffieboer Francois Dadi Serikpa van die Ivoorkus sê sy koffieproduksie het binne vier jaar nadat hy deel van Nestlé se program geword het, vyfvoudig gegroei, met ’n styging in opbrengs van meer as 2 ton per hektaar, volgens ’n verklaring van Nestlé Donderdag ter viering van Internasionale Koffiedag op 1 Oktober.

Nestlé het in die Ivoorkus gehelp om koffieboere se inkomste met 25% te verbeter, en meer as 2 000 ton ekstra koffie per jaar word sedert die begin van die program in 2010 geproduseer.

Nestlé se landboukundiges help die boere in die Ivoorkus asook die Demokratiese Republiek van die Kongo om boerderytegnieke te verbeter te midde van die druk op waterbronne weens klimaatsverandering.

Volgens Nestlé waarsku klimaatwetenskaplikes dat stygende temperature die grondoppervlak wat gepas is vir koffieverbouing teen 2050 met tot 50% kan laat krimp.

In die Ivoorkus, die grootste koffieprodusent in Wes-Afrika en op twee na die grootste een in Afrika suid van die Sahara, het produksie onlangs met 15% gekrimp weens swakker reënval as gewoonlik. Normaalweg lewer die Ivoorkus sowat 100 000 ton koffiebone per jaar.

Afrika lewer 12% van die wêreld se koffievoorraad, maar dit is heelwat laer as in die 1970’s toe byna ’n derde van alle koffie op die vasteland verbou is.

’n Fonds van $950 miljoen is verlede jaar deur ’n groep gelei deur die Inter African Coffee Organization begin om koffie-uitvoer vanaf Afrika met 40% te verhoog.

Die Ivoorkus se departement van landbou het in 2018 ’n veldtog begin om koffieboere beter snoeitegnieke te leer, met die teiken om sy koffieproduksie tot 350 000 ton per jaar te verhoog.

Koffieverkope daal sowaar

Maar hoewel dit voel asof mense wêreldwyd vanjaar baie meer koffie as gewoonlik drink weens die Covid-19-inperkings, wys werklike verkoopsyfers dat koffieverkope tot dusver vanjaar skerp geval het.

The Guardian het verlede maand berig Amerika verwag die verkope by spesialiskoffiewinkels sal vanjaar met byna 11% val ná jare van sterk groei. Dít terwyl Amerika die grootste mark vir koffie is.

Die Internasionale Koffieorganisasie vermoed die ekonomiese onsekerheid en druk wat die pandemie geskep het, het verbruikers in baie gevalle genoop om aanvanklik paniekaankope te doen, maar ook om van spesialiteitskoffies na goedkoper opsies soos kitskoffie te skuif.

In China is verwag dat koffieverkope met 40% sou groei, maar nou word net 1,6%-groei verwag. Italië en Spanje, wat in Europa se groot koffieverbruikers is, het ook ’n skerp afname in verbruik aangeteken.

Die pryse van koffiebone het volgens The Guardian in Februarie en Maart skerp gestyg soos wat mense voorraad opgegaar het te midde van die pandemie. Maar teen Junie het pryse met meer as ’n kwart geval namate baie koffiewinkels gesluit het, net om daarna weer skerp te styg.

’n Ontleder van Rabobank meen die pryswisselings is nie net geraak deur veranderende vraag en die dollar se wisselkoers nie, maar ook weens beleggingsfondse wat geld in kommoditeite soos koffiekontrakte belê het as alternatief tot dalende aandeelmarkte.

Meer oor:  Nestle  |  Landbou  |  Koffieverkope  |  Koffie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.