Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kommer oor volhoubaarheid van melkproduksie

Melkprodusente in die Oos-Kaap sowel as in die res die land ervaar ’n ernstige kosteknyptang nadat skerp verlagings in produsentepryse veroorsaak het dat sommige melkprodusente reeds die bedryf moes verlaat.

Die Melkprodusente-organisasie (MPO) is bekommerd oor die volhoubaarheid van melkproduksie weens die skerp daling in produsentepryse sedert Maart vanjaar.

Dr. Chris van Dijk, uitvoerende hoof van die MPO, wys melkkopers op die negatiewe invloed van soortgelyke prysseine in die verlede en die hoë koste verbonde daaraan om die voorsiening van melk reg te stel ná drastiese prysverlagings.

Laer produsentepryse het reeds die toename in melkproduksie negatief beïnvloed en syfers van Melk SA wys dat die totale melkinname sedert Mei vanjaar teen ’n veel stadiger koers groei as in vorige maande,” sê Van Dijk.

Hy vra medeverwerkers en -verspreiders om produsentepryse verantwoordelik te bestuur.

Amptelike syfers verskaf deur Statistieke Suid Afrika (SSA) dui aan dat produsentepryse sedert Maart met 5,5% gedaal het terwyl fabriekpryse van suiwelprodukte met 2,2% gestyg het.

Invoere, met spesifieke verwysing na langlewemelk, het sterk afgeneem tot minder as 340 ton in Julie.

Kleinhandelpryse van melk, kaas en eiers het oor dieselfde tydperk bykans onveranderd gebly.

“Melkinnamesyfers dui daarop dat produsente reeds begin het om produksie in te kort, terwyl verskeie faktore kan bydra tot ’n verdere inkorting van produksie in komende maande.

“Die droogte in sekere dele van die Oos- en Wes-Kaap asook die styging in die pryse van boerderybenodigdhede soos brandstof en energie het ook ’n negatiewe uitwerking op melkproduksie.

“Goeie reën in die droër weidingstreke, soos wat die afgelope paar dae in die droër streke voorgekom het, sal ook produksie in hierdie gebiede negatief beïnvloed wanneer produsente terugsny op die kragvoer wat hulle tans aan die diere voer,” sê Van Dijk.

Die suiwelbedryf het in Julie vanjaar, net soos in Junie, ’n sterk uitvoermaand beleef. Die totale uitvoere vir die maand beloop 13 500 ton en die randwaarde daarvan is R239 miljoen. Die uitvoere bestaan hoofsaaklik uit langlewemelk, 43% (5,8 miljoen liter), melkpoeier en ingedampte melk, 28% en jogurt 15%.

Die top vyf uitvoerbestemmings is Botswana (37%), Namibië (15%), Mosambiek (14%), Swaziland (10%) en Lesotho (9%).

Invoere, met spesifieke verwysing na langlewemelk, het sterk afgeneem tot minder as 340 ton in Julie. Totale invoere vir die maand beloop 5 154 ton en die randwaarde daarvan is R191 miljoen.

Die invoere bestaan hoofsaaklik uit melkpoeier, 41%, wei, 23%, kaas, 15% en langlewemelk, 6%. Die drie lande vanwaar die meeste ingevoer is, is Nieu-Seeland, 37%, Frankryk, 22% en Nederland, 7%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.