Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kool, tamaties baie duurder as ’n jaar gelede

Produsente kry die laaste tyd laer pryse vir baie vars produkte, onder meer weens verlaagde vraag, maar die prysvoordeel word nie deurgegee aan verbruikers nie.

Groentetuin
Kool is aansienlik duurder as ’n jaar gelede. Foto: Marguerite Vermeulen

Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom by Absa Agri-besigheid, sê hul jongste syfers oor die vyf grootste varsproduktemarkte in die land, wys in baie gevalle oorskry die aanbod die vraag en produsente kry minder. Hoewel ’n mens verwag kleinhandelaars behoort die laer pryse na verbruikers deur te gee, is dit nie altyd die geval nie, sê hy.

Kool is een voorbeeld. Middel Julie was die markprys 18% laer op ’n jaargrondslag en die volume verkoop was 37% laer, sê Lemmer.

Tog wys die nasionale landbou-bemarkingsraad (NLBM) se voedselprysmonitor vars kool per kilogram was in Mei 17,9% duurder op die winkelrak as ’n jaar gelede en 1,4% duurder as in April. In April vanjaar was kool 33,5% duurder op ’n jaargrondslag en 3% op ’n maandgrondslag.

Lemmer verduidelik die lewering en voorraad van vars produkte is goed, maar die daling in verkope het daartoe gelei dat daar meer voorraad is. Dit druk markpryse laer. Vars produkte bly langer vars in die winter, en verbruikers koop dus minder gereeld vars produkte.

Kosmandjie

Volgens die NLBM se voedselprysmonitor was die nominale koste van sy kosmandjie (28 items) vir stede in Mei R874,70. Dit is laer as April se R879,38 én laer as Maart se R883,16.

’n Jaar gelede was dit onderskeidelik R849,11 (Mei), R857,61 (April) en R857,10 (Maart).

Van die items in die mandjie is appels, lemoene, aartappels, kool, tamaties, uie (almal per kg), 410 g bone in tamatiesous, 500 g droë bone, beesmaalvleis en -afval (albei per kg), brood, 5 kg-mieliemeel, 500 g margarien, een volroom-langlewemelk, 400 g grond­boon­tjie­bot­ter, polonie (per kg), 2 kg rys, 2,5 kg suiker, 750 ml sonneblomolie, kitskoffie en tee (albei 250 g) en 18 eiers.

Volgens die NLBM het die koste van die kosmandjie in April 59,1% uitgemaak van die gemiddelde maandelikse inkomste van die armste 30% van die bevolking. Vir die rykste 20% van die bevolking was dié persentasie 3,1%.

Syfers van Absa Agri-besigheid wys die volume tamaties verkoop in die week tot 19 Julie, was 7% laer op ’n jaargrondslag en die markprys 1,7% laer. Op ’n maandgrondslag was die volume sowat 3,7% laer en die prys sowat 14,2% laer.

Dit lyk of verbruikers wel op kort termyn hieruit voordeel getrek het, want volgens die NLBM was tamaties in Mei 9% goedkoper as in April, maar 15% duurder as ’n jaar gelede. Tog was April se prys 38% hoër as ’n jaar gelede.

Die verkope van uie daal ook. In die maand tot 19 Julie is 5,4% minder uie op varsproduktemarkte verkoop as die week tevore. Dit volg ná flink vraag in die wintermaande, maar kan toegeskryf word aan die middel-van-die-maand-effek, sê Lemmer.

Uie is net 2,3% duurder as ’n jaar gelede. Foto: Pixabay

Op ’n jaargrondslag is die volume uie verkoop 24,8% laer, maar die prys aan produsente was 13,3% hoër. Dit stem ooreen met ’n styging in die prys van uie volgens die NLBM. In Mei was die prysstyging 2,3% teenoor Mei 2018 en 1,8% teenoor April 2019.

Lemmer sê die lewering van aartappels was goed, maar verkope op die varsproduktemark swak. Die verkoopsvolume is 18,4% laer op ’n jaargrondslag, maar pryse 1,1% hoër. Per kilogram was dit in Mei 6,3% duurder op ’n jaargrondslag en 2,5% duurder as in April 2019.

Lemmer sê om hul rande te rek, kan verbruikers self by die varsproduktemarkte gaan koop.

Meer oor:  Wessel Lemmer  |  Groente  |  Aartappels  |  Kospryse  |  Tamaties  |  Kool  |  Kosprysinflasie  |  Uie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.