Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Koskrisis dreig weens tekort aan diesel

’n Koskrisis is op hande. Stapelvoedsel soos mieliemeel kan weens die voortslepende dieseltekort nie op winkelrakke gelewer word nie.

Talle boere kan tans nie mielies oes nie weens ’n gesukkel om dieselvoorraad te bekom.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van die landbousakeorganisasie Agbiz, waarsku die dieseltekort lyk asof dit net vererger op ’n kritieke tydstip waarop boere in die binneland nou hul mielies moet begin stroop.

Purchase verduidelik dis nie net die primêre landbou wat daaronder ly nie, maar die hele waardeketting.

Stropers gebruik diesel, en om die mielies te vervoer – eers na die silo’s, dan na die meulens, en van die meulens na die kleinhandel – verg ook diesel.

Intussen lyk dit of die Suid-Afrikaanse brandstofbedryf bloot sy skouers optrek en sê dis ’n logistieke probleem.

Die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfvereniging (Sapia), wat al die groot brandstofmaatskappye verteenwoordig, het op 12 Junie nog gesê die beskikbaarheid van diesel- en petrolvoorraad is aan’t verbeter sedert skepe met ingevoerde brandstof in die Durbanse hawe aangekom het en Transnet se pypleiding weer in bedryf is.

Die pypleiding was by tye die afgelope maande uit bedryf weens diefstal, terwyl plaaslike raffinaderye weens die Covid-19-inperking hul produksie gestaak het.

Volgens Purchase vergader rolspelers weekliks met Sapia, maar hy is skepties oor Sapia se verduideliking dat alles nou weer in die haak is. Sapia meen dis bloot ’n logistieke probleem om die voorraad by depots uit te kry.

Veral boere in Noordwes wat nou moet begin mielies oes, kla oor die tekorte, en in sekere dele van Gauteng kon gewone motoriste die afgelope naweek nie eens petrol in die hande kry nie.

Volgens Sapia sal die ingevoerde brandstof binne sewe tot 14 dae die binnelandse markte bereik.

LEES OOK: Diesel-diewe 'ekonomiese sabotasie,' sê Transnet

Natref, die olieraffinadery by Sasolburg wat gesamentlik deur Sasol en Total besit word, is nog in die proses om op te warm en produksie te hervat nadat dit tydens die vlak 5- en vlak 4-inperking gesluit was.

Volgens Purchase lyk dit asof daar opeenhopings in Durban is soos wat tenkvragmotors voorraad probeer kry wat nog van skepe afgelaai moet word.

Dr. John Purchase, uitvoerende hoof van Agbiz.

Hy meen die verskoning van die brandstofbedryf dat hy nie die skerp hervatting van brandstofvraag verwag het nie, is sommer flou. Die mielie-oes begin immers elke jaar dié tyd, en daar is ook vrugte wat dié tyd van die jaar na uitvoerhawens vervoer moet word.

Dit lyk volgens hom asof die raffinaderye ook nie gekoördineer het oor wie wanneer hul bedrywighede sluit nie.

“Dis ’n gemors,” sê Hugo Viljoen, ’n boer van Schweizer-Reneke. Sy stropers staan stil en hy moet nou ten duurste ’n tenkvragmotor huur om diesel uit die Kaap te bestel teen R1,70 per liter duurder as wat hy dit gewoonlik in grootmaat by dieselhandelaars in die omgewing kan kry.

Volgens hom kan ’n handelaar soos Mack’s Petroleum met takke in Noordwes, die Vrystaat en die Noord-Kaap, ook nie dieselvoorraad in die hande kry nie. “Hulle kan nie vir my sê of hulle volgende week diesel gaan hê nie, en as ek kan kry, is dit net 1 000 liter, wat ek binne ’n dag opbrand.”

Boeta du Toit, bestuurshoof van Agri SA in Noordwes, sê as mielie-oeste weens die dieseltekort vertraag word, kan dit die voggehalte en gevolglik die gehalte en gewig van die oes affekteer. Dit ontwrig die hele landbousiklus, want ná die oes moet boere betyds voor die reëntyd die lande voorberei vir planttyd.

Nicolene Smalman van die landboumaatskappy NWK sê boere, asook delwers, sukkel weens die dieseltekort. Boere word gerantsoeneer met die hoeveelheid diesel wat hulle op een slag kan aankoop.

Daar is selfs gerugte dat sekere handelaars dieselvoorraad doelbewus terughou, want hulle wag eerder op die verwagte prysstyging aan die begin van Julie.

Netwerk24 het verneem van gerugte dat daar drie miljoen liter diesel by ’n depot in Klerksdorp is wat nie verkoop word nie omdat handelaars wag vir die eerste Woensdag in Julie, wanneer dieselpryse gaan styg. Die jongste syfers van die Sentrale Energiefonds dui op ’n verwagte styging van tussen R1,60 tot R2 per liter op diesel op 1 Julie.

Sapia het nog nie op navrae hieroor gereageer nie.

Meer oor:  Agbiz  |  Transnet  |  Dieseltekort  |  Brandstof  |  Diesel  |  Energie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.