Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kosprys-kommer dalk onnodig danksy goeie reën

Kommer oor kospryse vir die jaar is waarskynlik onnodig nadat die jongste oesskattings wys goeie reën in sekere dele van die land het 2020 op ’n goeie noot laat begin.

Die landbou boer weer vooruit danksy goeie reën. Foto: AP

Die Nasionale Oesskattingskomitee (CEC) het Donderdag sy jongste verslag oor die someroes bekend gestel.

Volgens Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Agri, is die jongste syfers vanuit die CEC “baie goeie nuus vir ons verbruikers in dié opsig dat ons laer kosprysinflasie vir die res van die jaar verwag”.

Dit kom slegs ’n week nadat Statistieke Suid-Afrika (SSA) se jongste inflasiesyfers vir Desember skielik tot 4% vanaf 3,6% gestyg het, deels danksy kosprysinflasie. Dit was die eerste keer in vier maande waarin inflasie gestyg het.

Kosprysinflasie het in Desember tot 3,9% opgeskiet (vanaf 3,5% in November). Dit het deur die loop van die jaar stadig maar seker gestyg – van net 3% in Januarie tot Desember se 3,9%.

Die groot probleem bly egter die prys van brood en graanprodukte, wat as kategorie weer 8% duurder geword het in Desember as ’n jaar gelede.

Net nog een swak seisoen sou katastrofies vir die hele waardeketting en die land gewees het.
Paul Makube

Volgens die CEC se jongste verslag is dit egter juis graan wat vanjaar nie verdere prysstygings sal ervaar nie en dus die druk op kospryse sal verlig.

“Die onlangse reën was baie positief,” sê Maree. “Op lang termyn is die oesskattings goeie nuus omdat ons laer inflasie in die graankompleks verwag, wat beteken dat kosprysinflasie nie op kort termyn noemenswaardig behoort te styg nie.”

Seisoenale omstandighede het volgens Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Agri, ’n positiewe draaipunt bereik. Volgens Makube sou die lang reeks swak oeste weens onder meer langdurige droogte nie nog ’n seisoen van min reën kon oorleef sonder dat kosprysinflasie meer as 10% sou bereik nie.

“Net nog een swak seisoen sou katastrofies vir die hele waardeketting en die land gewees het,” het Makube Donderdag in ’n verklaring gesê.

“Die landbouvooruitsigte bly toenemend afhanklik van die weer en ons sal waarskynlik dié seisoen op ’n positiewe noot afsluit as groeitoestande hul huidige momentum kan behou.”

Droogte het egter steeds boere in die Noord- en Oos-Kaap in ’n wurggreep, sê Makube.

Someroesskattings van die CEC toon dat die bedryf goed herstel met 2,54 miljoen ha mielies wat geplant is – 10% meer as ’n jaar tevore. Dié oppervlakte behoort sowat 13,64 miljoen ton mielies op te lewer.

Meer oor:  Droogte  |  Kospryse  |  Graanbedryf  |  Voedselinflasie  |  Oesskatting  |  Mielie-Oes  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.