Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Kospryse: Só dra suikertaks by tot hoër inflasie
Die prys van die meeste basiese voedselsoorte, met die uitsondering van melk, kaas en eiers, het in April stadiger gestyg as in Maart of selfs goedkoper geword. Foto: Unsplash

Die prys van kos en niealkoholiese drank het weer in April vinniger gestyg nadat dit in Maart die stadigste styging in meer as vyf jaar behaal het.

Verbruikers wat hul kele met koeldrank, wyn of bier probeer nat hou, sal veral swaar sluk aan die styging in drankpryse, wat toegeskryf kan word aan hoër belastings wat in April van krag geword het. Dit sluit in die suikerbelasting, hoër BTW en hoër aksyns.

Die slegte nuus oor kos- en drankpryse kom terwyl die algemene inflasiekoers ook opgeskiet het, van 3,8% in Maart tot 4,5% in April, het Statistieke Suid-Afrika (SSA) vroeër Woensdagoggend bekend gemaak.

Lees ook: Inflasie skiet op ná 7-jaar-laagtepunt

Kos en niealkoholiese drank was in April 3,9% duurder as ’n jaar gelede en slegs kos 3,7%. Kyk ook na die grafika hieronder.

Die hoër kosprys- en ander inflasie vir April beteken die armste 10% van Suid-Afrikaners se inflasiekoers het van 1,3% in Maart tot 2,1% opgeskiet. Arm mense moet ’n groter persentasie van hul inkomste aan kos bestee.

Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê as die skerp styging in drinkgoed tersyde gelaat word, het die inflasiekoers van die meeste kosprodukte verlangsaam danksy “groot voorrade”.

Soos die afgelope maande ervaar is, was daar ’n daling in die prys van brood- en graanprodukte, olies en vette en vrugte. Dit was onderskeidelik 3,7%, 1% en 8,2% goedkoper as in April 2017. ’n Minder basiese kossoort wat in April goedkoper was as ’n jaar gelede, was suiker, lekkers en poeding, wat 1,5% goedkoper was.

Sihlobo verwag dat die jaar-tot-jaar-daling in brood- en graanpryse sal voortduur, gegewe die groot mielieoorskot wat Suid-Afrika het danksy 2017 se rekordoes.

Tussen Maart en April het drie kategorieë voedsel goedkoper geword. Dit is olies en vette (-1,4%), vrugte (-2,9%), suiker (-1,5%).

Sluk swaar aan dié stygings

Die prys van byna alle soorte drinkgoed het in April skerp gestyg vergeleke met ’n jaar gelede en ook vergeleke met Maart.

Koeldrank – wat van April onderhewig is aan die suikerbelasting – is 6,1% duurder as ’n jaar gelede en ’n hele vier persentasiepunte meer as die Maart-inflasiekoers van 2,1% vir dié kategorie.

Koeldrank kos ook 3,6% duurder as in Maart, wat die regstreekse uitwerking van die suikerbelasting én die hoër BTW-koers weerspieël. Dis die grootste maandstyging nóg vanjaar.

Wat alkoholiese drank betref, lyk die stygings as volg:

  • Wyn is 7,9% duurder as ’n jaar gelede en 1,4% duurder as in Maart.
  • Bier is 8% duurder as ’n jaar gelede en 1,4% duurder as in Maart.
  • Spiritualieë is 7,6% duurder as ’n jaar gelede en 2,3% duurder as in Maart.

Dié stygings is deels te wyte aan die hoër aksyns en BTW wat in April van krag geword het, maar die wyn- en bierbedryf waarsku ook al lank dat die jare lange voortslepende droogte in die Wes-Kaap die produksie van wyndruiwe, hops en gars knou.

Suiwelpryse skiet op

Die gesamentlike prys van melk, kaas en eiers het in April met meer as ’n persentasiepunt vinniger gestyg as in Maart. Die inflasiekoers vir dié kategorie beloop nou 5,3%, vergeleke met 4,2% in Maart.

Die skerp styging in die prys van melk, kaas en eiers in April is kommerwekkend gegewe dat dié kategorie gewoonlik eers in die wintermaande baie duurder word.

Dis ’n styging wat die wenkbroue laat lig gegewe dat die prys wat melkboere per liter ontvang het, juis in April met tot 30c per liter gedaal het ten einde produksie aan te moedig, het Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, in April gesê.

Melk en eiers is van BTW vrygestel en daarom kan die prysstyging nie toegeskryf word aan die styging in BTW-koerse nie. Kaas word wel belas, maar verteenwoordig ’n betreklik klein gewig in die mandjie.

Die styging is ook kommerwekkend gegewe dat dit nog nie eens winter is, wanneer suiwel dikwels duurder word weens ’n tekort aan melk nie.

In die winter produseer koeie ook normaalweg minder melk en boere moet hulle bykomend voer om produksie te stimuleer.

“Dit lei tot hoër produksiekoste van melk in die winter en die bedryf betaal dikwels ’n premie vir vars melk in dié tyd,” het dr. Chris Lerm, voorheen verbonde aan Clover en ’n kenner van die plaaslike suiwelmark, voorheen verduidelik.

Vleisprysinflasie verlangsaam

Vleisprysinflasie was in April vir die eerste keer in meer as 18 maande in enkelsyfers op 9%. Dit beteken steeds vleispryse styg die vinnigste van enige kossoort, maar nie meer teen die 15,6%-jaarkoers van September 2017, die boonste draaipunt, nie.

Sihlobo sê vleisprysinflasie se verlangsaming kom danksy die goedkoper varkvleis. Daarby was daar in Maart ’n styging in die hoeveelheid vee wat boere geslag het (dié vleis sou in April op winkelrakke gewees het).

Meer oor:  Kospryse  |  Inflasie  |  Wyn  |  Melkprys  |  Suiwel  |  Kosprysinflasie  |  Vleispryse  |  Inflasiekoers  |  Statistieke Suid-Afrika  |  Eierpryse  |  Ssa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.