As jy dit enigsins kan bekostig, moet jy dit dalk nou oorweeg om veral rooivleis in grootmaat aan te skaf en te vries.

Kospryse gaan na verwagting in die eerste helfte vna 2021 skerp styg. Foto: Unsplash
unsplash
Ná die uitreiking van die inflasiesyfers vir Desember is ontleders ietwat oor die skerp styging in vleispryse, maar ook in kospryse in die algemeen bekommerd.
’n Gemiddelde trollie kos styg nou twee keer so vinnig – teen 6,2% – as die hele kombinasie produkte en dienste wat SSA meet, wat in Desember 3,1% duurder was.
Dit is 6,2% as koffie, tee en koeldrank uitgesluit word. Met nie-alkoholiese drinkgoed ingesluit, was die gemiddelde verbruiker se trollie 6% duurder oor die vakansietyd – mits hulle nie effens duurder kos gekoop het soos baie mense maar oor Kersfees doen nie.
Die styging in kospryse is sedert Julie 2017 die hoogste in drie en ’n half jaar.
Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Woensdag bekend gemaak dat vleispryse met gemiddeld 7,3% gestyg het. Dis veel hoër inflasiekoerse as November se 6,6%.
Die inflasiekoers vir vleis weerspieël dat hoender, die vleis waarvan Suid-Afrikaners die meeste eet, nie soveel duurder as rooivleis geword het nie. Stowebeesvleis was egter 12,4% duurder as ’n jaar tevore.
Die pryse van ander basiese kossoorte het ook baie skerp gestyg – kookolie met 11,3% en witsuiker met 10%.
Met vleispryse wat 5,5% van die totale inflasiemandjie verteenwoordig, maan Nedbank se ekonome dat die stygings iets is om dop te hou.
Die Investec-ekonoom Kamilla Kaplan beskou die styging in vleispryse bloot as “normalisering” van lae inflasiekoerse vroeër in 2020.
Nog ’n syfer wat vanjaar in enige rigting kan gaan, is die styging van 5% in die prys van brood en graanprodukte, wat mieliemeel insluit. Dis heelwat hoër as November se koers van 4,2%.
Die landbousakekamer Agbiz wys op gunstige weervooruitsigte en graanboere se planne om hul aanplantings in 2021 te verhoog. “Hoewel dit kospryse vanjaar gedemp kan hou, is dit nog te vroeg om te sê,” maan Kaplan.
Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, is ook
bekommerd oor die verwagte stygings in kospryse oor die volgende paar maande.
Sy verwag wel dat dinge in die tweede helfte van die jaar beter sal lyk.