Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
KYK: Dis (hoender)oorlog tussen SA en VSA

Herman Pretorius is die soort wit Suid-Afrikaanse boer oor wie pres. Donald Trump van die VSA sy kommer uitgespreek het.

Trump het onlangs tot die debat oor grondhervorming in Suid-Afrika toegetree toe hy ’n ondersoek gelas het na die “grootskaalse moorde op boere in Suid-Afrika.”

Maar vir dié 58-jarige boer wat tussen sowat 35 000 hoenders op sy plaas in Noordwes staan, is dit eerder die VSA se uitvoer van goedkoop hoender wat ’n bedreiging is.

“Ons kan nie ons hoenders met Amerika s’n vergelyk nie. Die prysverskil maak ons dood,” het Pretorius in ’n onderhoud aan Reuters gesê.

Die twee lande voer ’n jarelange geveg oor hoender. Washington hou Suid-Afrikaanse hoender uit sy mark met streng gesondheids- en fitosanitêre regulasies terwyl die Suid-Afrikaanse hoenderbedryf sy eweknie in die VSA daarvan beskuldig dat hy hoender hier stort teen pryse wat laer is as wat dit plaaslik geproduseer kan word.

Daarom het Suid-Afrika stywe invoertariewe op Amerikaanse hoender gehef wat dit jare lank onekonomies gemaak het vir die VSA om sy bevrore hoenderstukke hierheen uit te voer.

Maar in 2015 moes Suid-Afrika se invloedryke pluimveebedryf die knie buig voor die VSA. ’n Toegewing is gedoen om 65 000 ton Amerikaanse hoender tariefvry in te voer in ruil vir die hernuwing van die Amerikaanse wet op groei en geleenthede in Afrika (Agoa), ’n handelsooreenkoms wat Afrika-lande se produkte tariefvry en sonder invoerkwotas op die Amerikaanse mark toelaat.

In ruil daarvoor verwag die VSA dat alle hindernisse teen sy invoer in die begunstigde lande verwyder moet word.

Agoa was tot nou toe tot groot voordeel vir Suid-Afrikaanse uitvoerprodukte, onder meer motors, yster en staal.

Daar broei 'n hoenderoorlog tussen SA en die VSA. Foto: Unsplash

Maar Trump se handelstrategie wat sy eie land se belange voorop stel, America First, het daartoe gelei dat die VSA besluit het om invoertariewe op Suid-Afrikaanse staal en aluminium te hef. Die tariewe van 25% op staal en 10% op aluminium is op 8 Maart vanjaar aangekondig en hou ernstige nadelige gevolge in vir die Suid-Afrikaanse staal- en aluminiumbedryf.

Suid-Afrikaanse pluimveeboere sê omdat die VSA nou staal- en aluminiumtariewe op Suid-Afrika hef, selfs al behoort dit ingevolge Agoa tariefvry te wees, is die ooreenkoms wat die plaaslike pluimveebedryf in 2015 met die VSA gesluit het, nie meer van krag nie en dis tyd om weer invoertariewe op Amerikaanse hoender in te stel.

Ná maande van dreigemente het die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (Sapa) verlede week besluit om op te tree. Hy het ’n hofgeding teen die regering begin waarin hy vra die tariefvrye kwota vir hoender uit die VSA moet opgehef word.

Die Suid-Afrikaanse regering is in ’n onbenydenswaardige posisie. In die Trump-regering se veldtog om sy handelsverhoudings te herbalanseer gee hy nie ’n aks toe nie, en vriend en vyand loop deur. Selfs ’n land soos Rwanda was in ’n dispuut met die VSA oor tekstielinvoer betrokke, so selfs nie eens die kleinste handelsvennote word oorgesien nie.

“Ons is nie die oorsaak van enigiemand se probleme nie, tog word ons geraak,” het Rob Davies, minister van handel en nywerheid in Julie aan Reuters gesê.

Indien hy weer die teenstortingstarief op Amerikaanse hoender instel, kan Washington se weerwraak ’n verreikender uitwerking op ons ekonomie in geheel hê.

“Ons beland in die spervuur van ’n handelsoorlog wat ons nie aangevoer het nie.”

Toe Pretorius sy eerste hoenderhokke 27 jaar gelede opgerig het, was mededinging van ingevoerde hoender nie ’n probleem nie.

Die skade het nou ’n punt bereik waar ek nie my onderneming kan uitbrei of meer werkers aanstel nie; die oorsese invoer maak my seer.
Herman Pretorius

Nou bedryf hy 14 hoenderhuise waar meer as ’n halfmiljoen hoenders elke paar weke geproduseer word.

Maar in die onlangse jare het sy onderneming gestagneer en hy pak die skuld op goedkoop ingevoerde hoender wat pryse afdruk.

“Die skade het nou ’n punt bereik waar ek nie my onderneming kan uitbrei of meer werkers aanstel nie; die oorsese invoer maak my seer en ek wil hê die Suid-Afrikaanse regering moet invoertariewe verhoog.”

In die 20 jaar tussen 1995 en 2015 het Suid-Afrika se verbruik van hoendervleis byna verdriedubbel tot meer as twee miljoen ton. Maar plaaslike produksie het teen ’n stadiger koers as invoer gegroei. Tot ’n kwart van die hoender wat plaaslik verbruik word, word nou ingevoer.

Volgens data wat deur die Suid-Afrikaanse pluimveevereniging byeengebring is uit invoerstatistiek, het die VSA in 2017 meer as 87 000 ton hoender na Suid-Afrika ingevoer, ’n styging van meer as 200% teenoor 2016. Dit was net oortref deur Brasilië se 337 476 ton.

James Sumner, president van die VSA se pluimvee- en eier-uitvoerraad, het aan Reuters gesê sy raad sal die Amerikaanse regering vra om stappe teen Suid-Afrika te doen indien die invoerkwota herroep word oor Trump se instelling van tariewe op Suid-Afrikaanse metale.

“Dit het absoluut niks te doene met pluimveehandel tussen Suid-Afrika en die VSA nie. Sapa is opportunisties en verhoog die handelspanning onnodig.” – Reuters, verwerk

Meer oor:  Donald Trump  |  Herman Pretorius  |  Vleisbedryf  |  Hoender  |  Hoenderbedryf  |  Invoere  |  Handelsoorlog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.