
Die Landbank gaan waarskynlik eers vroeg volgende jaar sy skuld herstruktureer. Foto: Johan Norval
Die Landbank gaan nie die aanvanklike spertyd vir die herstrukturering van sy skuld – 30 November – haal nie. Die finansierder voorsien nou dat dit op die laatste teen einde Maart volgende jaar gaan gebeur, maar hopelik vroeër.
Die uitstel kom omdat die transaksie “ingewikkeld” is en daar talle krediteure is waarmee hy in gesprek moet tree.
Ondanks dié aankondiging sê die Landbank hy vorder met planne om die staatsinstelling op volhoubare voet te kry.
Die Landbank, wat lenings aan boere en landbou-ondernemings verskaf, is verantwoordelik vir nagenoeg 27% van die finansiering in die sektor en speel ’n belangrike rol om voedselsekerheid in die land te verseker.
Die Landbank is in Junie se aanvullende begroting ’n kapitaalinspuiting van R3 miljard belowe wat intussen ten volle uitbetaal is.
Daarmee is agterstallige rente aan sy notahouers en finansiële krediteure betaal en sal hy rente kan betaal soos dit verskuldig word. Hy het R1,8 miljard opsy gesit waarmee 5% van die uitstaande kapitaal op sy skuldinstrumente terugbetaal sal word.
Die bank sê hy gaan met sy werksaamhede voort, insluitend beperkte uitbetalings aan boere.
Die Landbank verwys daarna dat hy die voortgesette steun van die regering, sy aandeelhouer, geniet. Tito Mboweni, minister van finansies, het in Oktober in sy mediumtermynbegrotingsrede gesê die Landbank sal op mediumtermyn (dus oor die drie jaar tot 2023) nog R7 miljard se steun vir sy herstrukturering benodig.
Besonderhede van die toewysings word in Februarie se begrotingsrede verwag.
Die uitreiking van die Landbank se resultate word intussen weer, na verwagting tot einde Desember, uitgestel.
Dis vertraag omdat die ouditeur-generaal nog nie die oudit, onder meer weens gesprekke oor die herstrukturering, kon voltooi nie.
Die bank is steeds in ’n hofgeding met Standard Chartered oor agterstallige skuld gewikkel. Die saak word op 2 Desember aangehoor.