Standard and Chartered Bank, ’n Britse bank, het die Landbank amptelik gedagvaar om sy geld terug te kry nadat dié bank al maande lank sukkel om sy skuld terug te betaal.

Die Landbank se skuldeisers begin ongeduldig raak. Foto: Pixabay
Die Landbank het op 9 Julie gesê hy sou nie die R29,15 miljoen wat op 13 Julie betaalbaar geword het, kon betaal nie.
Dié aankondiging het gevolg op soortgelyke aankondigings op 24 April en 18 Junie en was dus die derde keer dat hy versuim het om skuldbetalings te maak en homself aan kruiswanbetaling skuldig gemaak het.
Die bank het in Mei laste van R45 miljard en bates van net R5 miljard gehad. Hy sou dus nie kon voortgaan sonder herkapitalisering deur die aandeelhouer, die staat, nie.
Die Landbank was die enigste staatsonderneming wat ’n reddingsboei van die staat gekry het toe Tito Mboweni, minister van finansies, sy aanvullende begroting op 24 Junie bekend gemaak het.
’n Bedrag van R3 miljard is aan die bank toegeken.
Mboweni het in sy toespraak gesê omdat die Landbank 29% van Suid-Afrika se landbouskuld finansier, gaan die tesourie help om ’n oplossing vir sy probleme te vind.
Die Landbank sê Dinsdag in ’n Sens-verklaring dat hy Standard and Chartered se regstappe teen hom gaan teenstaan terwyl hy voortgaan met sy omkeerplan om alle agterstallige skuldbetalings in te haal danksy sy nuwe kapitaalinspuiting.