Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Landbank verdien hulp van regering’

Die Landbank is een van die min staatsondernemings wat te midde van groot uitdagings winsgewend bly. Hy verdien nou staatshulp om te keer dat ’n sistemiese risiko in die landbousektor ontstaan wat voedselsekerheid in die land kan bedreig.

Só sê die landbou-organisasie Agri SA nadat die Landbank Maandag aangekondig het hy sal krediteure aan wie hy R50 miljard skuld, waarskynlik nie kan betaal nie weens ’n “kontantvloeiprobleem”.

Omnia
Voedselsekerheid kan bedreig word as die Landbank vou. Foto: Unsplash

Die Landbank het in sy vorige boekjaar, tot Maart 2019, wins gemaak. Die dreigende wanbetaling spruit uit die bank se afgradering op 21 Januarie deur Moody’s Investors Service, wat die koste van sy skuld duurder gemaak het. Daar was ook ’n skerp stygings in wanbetalings deur boere weens droogtes in die eerste helfte van die Landbank se nuwe boekjaar, tot September 2019.

“Die bank dien as ’n belangrike bron van krediet vir landbou-ondernemings om die inkoop van oeste by silo’s te finansier en vir produksiekrediet wat die bank na boere via landbou-ondernemings kanaliseer,” sê Agri SA in ’n verklaring.

“Die landboubedryf is siklies van aard aangesien baie boere nie ’n vaste of gereelde inkomste het nie en die meeste van hul inkomste binne ’n kort tydperk ontvang. Toegang tot krediet is noodsaaklik om voorsiening te maak vir kontantvloeibehoeftes (soos die betaling van insetkoste en arbeid) deur die jaar, met boere wat tipies hul skuld vereffen nadat hulle geoes het.”

Agri SA sê dit lyk asof die regering se verwagtinge van wat die bank moet doen en die ondersteuning wat hy kry, nie ooreenstem nie.

“Terwyl swak presterende staatsondernemings reeds herhaaldelik hulppakkette gekry het, verdien die Landbank sodanige regeringshulp soveel meer. Die landbou is uiters noodsaaklik vir voedselsekerheid en die breë ekonomie van Suid-Afrika. Die sektor staan ook gereed om te help met die herstel van die ekonomie ná die Covid-19-pandemie.

“Die regering moet nou die nodige leierskap en visie toon met dringende hulp aan die landbousektor om die Landbank se huidige wanbetalingskrisis op te los. Dit sal help om die Landbank, asook die landbousektor, te posisioneer vir groei en sodoende die herstel van die breër ekonomie ondersteun.”

Agri SA sê as die Landbank toegelaat word om onder te gaan, sal werkskepping en voedselsekerheid benadeel word en dit moet “ten alle koste vermy word”.

Annette Steyn, DA-LP, het op haar beurt ’n beroep gedoen dat die parlement se portefeuljekomitee oor landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling die toekoms van die Landbank dringend bespreek.

Die landbou is uiters noodsaaklik vir voedselsekerheid en die breë ekonomie van Suid-Afrika. Die sektor staan ook gereed om te help met die herstel van die ekonomie ná die Covid-19-pandemie.
Agri SA

“Die onderneming se probleme is meegebring omdat die regering jare lank traag was in sy reaksie op verskeie droogtes en ander landbourampe. Dit het meegebring dat die Landbank nie ’n lae koers van wanbetalings kon handhaaf nie.”

Steyn sê benewens Moody’s se afgradering is daar baie vakatures by die Landbank en ’n “wenteldeur vir uitvoerende hoofde”.

“Die finansiële en bedryfstoestande van die Landbank is ’n rede tot groot kommer, veral in die lig van die talle uitdagings wat boere weens die Covid-19-inperking moet trotseer.”

Sy het die speaker van die parlement, Thandi Modise, versoek om die landbou-portefeulje in te sluit by die noodsaaklike portefeuljekomitees wat per webkonferensie vergader.

Landbouskuld beloop tans nagenoeg R200 miljard. Volgens Agri SA het die Landbank ’n markaandeel van 29% van Suid-Afrika se landbouskuld, dus nagenoeg R58 miljard.

Meer oor:  Agri Sa  |  Landbank  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Boere  |  Voedselsekerheid  |  Landbou  |  Kommersiële Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.