Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou bloei óók poste weens inperking

Die landbou in die Wes-Kaap het nou die kleinste aantal werknemers in sewe jaar, sedert 2014.

Nagenoeg 136 000 mense werk nou in dié provinsie in die landbou – 47% minder as begin 2020, voordat die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het.

Wandile Sihlobo, Agbiz-ekonoom, beskryf dit as ’n newe-effek van die finansiële druk wat veral wynboere beleef weens die herhaalde verbod op drankverkope.

Die verbod op drankverkope het boere wat met wyndruiwe boer, seergemaak. Hulle het daarom baie minder mense in diens geneem.

Sihlobo is boonop ernstig bekommerd oor die impak wat die verhoging van die minimum loon moontlik op die landbou gaan hê. Van Maart vanjaar moet plaaswerkers minstens R21,69 per uur verdien, ’n styging van 16,1%. Die uitwerking daarvan sal eers in die tweede kwartaal of later se werkloosheidsyfers gesien word.

In die hele landbou het 72 000 minder mense werk as ’n jaar gelede, selfs al kon die landbou in alle inperkingsvlakke oop bly. Sihlobo skryf die verliese in ander provinsies minstens deels daaraan toe dat boere huiwerig was om seisoenswerkers aan te stel.

Ook in ander sektore blyk die impak van die inperkings vir die pandemie baie duidelik uit die werkloosheidsyfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) Dinsdag uitgereik het.

Oor die loop van die jaar het byna 1,4 miljoen minder mense werk gehad.

Amptelike werkloosheid was in die eerste kwartaal 32,6%, teenoor 32,5% einde 2020. Uitgebreide werkloosheid, wat ook ontmoedigde werksoekers insluit, het ook tot ’n rekord gestyg. Dis nou 43,2%, teenoor 42,6% einde 2020.

Daar is nou 11,4 miljoen mense in die land wat óf werk soek óf tydelik opgehou het om werk te soek. Dit sluit mense uit wat skoolgaan of studeer.

LEES OOK: Werk-bloedbad: Dís wat regering moet doen

Die grootste verlies aan poste oor die loop van die jaar was in die handel, wat ook restaurante, hotelle en ander verblyfplekke insluit. Teenoor die eerste kwartaal van 2020 het 341 000 minder mense nou in dié sektor werk.

Die vooruitsigte vir die sektor lyk nog droewig gegewe dat internasionale toeriste Suid-Afrika vermy en die aandklokreël, wat pas tot 23:00 vervroeg is, baie Suid-Afrikaners ook afskrik van aandkaperjolle.

Konstruksie het 265 000 poste oor die loop van die jaar verloor en vervaardiging 208 000. Dié sektore moes dele van die jaar sluit of met verminderde kapasiteit klaarkom weens die siekte of isolasie van koronavirusgevalle en het ook ’n daling in vraag, plaaslik en wêreldwyd, beleef.

Gemeenskapsdienste het 192 000 poste verloor. Dit sluit die staatsdiens in, maar ook persoonlike dienste soos skoonheidsterapeute, haarkappers en persoonlike afrigters – nog ’n sektor wat baie swaar deur die pandemie getref is.

Daar is nou 189 000 minder mense wat in private huishoudings as huiswerkers, tuinwerkers of kinderoppassers werk. Benewens die vrees vir infeksie sou afleggings ook ’n rol gespeel het in mense se besluit om hul huiswerkers die trekpas te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.