Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou: ‘Boere leen miljoene en bid dan net’

Boere se kwynende winsgewendheid is ’n “groter bedreiging vir die landbousektor as grondhervorming” en die tyd raak min om hulle te help.

So het Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, Woensdag in Sandton op ’n FNB-konferensie oor landbousake gewaarsku. Dit geld veral die graansektor.

Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, Woensdag op ’n FNB-konferensie oor landbousake in Sandton, Johannesburg. Foto: William Horne

“Die gemiddelde graanboer leen tans tussen R8 miljoen en R10 miljoen per oesjaar. Hy sit daai geld in die grond, en soos sake nou staan, bid hy dan net,” sê De Villiers.

“Dit is nou vir jou risiko.”

Graanproduksie verteenwoordig 25% van die R266,6 miljard wat alle landbouproduksie in Suid-Afrika beloop. Net witmielies verteenwoordig sowat 12% van die waarde van die totale landbouproduksie.

En dit is veral dié boere wat sukkel.

Volgens Paul Makube, senior landbou-ekonoom by FNB Agribusiness, is die probleem veelvoudig, maar dit kom uiteindelik neer op die finansiële onsekerheid van landboubedrywighede.

Boere moet nie net droogtes die hoof bied nie, maar worstel ook met beleidsonsekerheid, die swak ekonomie, onvoldoende en ondoeltreffende infrastruktuur en ’n gebrek aan voldoende finansiële instrumente om boere teen markonstuimigheid te beskerm.

’n Paneel van landboukenners het op die konferensie gesê veral die regering kan help deur ’n staatsgesubsidieerde versekeringskema op die been te bring.

De Villiers sê dié voorstel is laat verlede jaar aan die parlement voorgelê. Dit moet egter nog heelwat verfyn word voordat dit werklikheid sal kan word.

Droogtes saai verwoesting

Makube sê so ’n skema sal help voorkom dat rampe en droogtes tot katastrofiese verlieste lei. “Ons hoor al ses jaar lank van die verwoesting wat droogtes saai, eers hier en dan daar in Suid-Afrika. Dit gaan nie ophou nie.”

Die paneel was dit eens dat boere sonder dié soort staatsteun eenvoudig nie sal kan oorleef nie.

Ons wil nie nog ’n Eskom-tipe situasie hê waar gewag word totdat dit te laat is voordat enigiets verander nie.
Paul Makube van FNB

“Ons wil nie nog ’n Eskom-tipe situasie hê waar gewag word totdat dit te laat is voordat enigiets verander nie,” sê Makube.

Hy sê so ’n skema sal ook help om boere se finansiële en risikoprofiel te verbeter sodat banke op groter skaal broodnodige finansiële dienste en krediet aan hulle kan verskaf.

De Villiers het data aangehaal wat wys dat die graanproduserende streke beduidende kontantvloeiprobleme ervaar.

Hy sê die gemiddelde boer sit reeds met ’n negatiewe kontantvloei van meer as R1 miljoen. Selfs al verloop die volgende jaar klopdisselboom, sal dié situasie eers in 2021 begin verbeter.

“In Noordwes byvoorbeeld sal drie uit vier risiko-scenario’s – naamlik optimale omstandighede, onveranderde omstandighede, droogte en droogte met beperkte aanplanting – nie daartoe lei dat boere se kontantvloeisituasie verbeter nie.

Dawie Maree, FNB se hoof van landbou-inligting en -bemarking, sê hoewel die graansektor die swaarste trek, speel dié gewasse so ’n belangrike rol in die hele landboubedryf dat die impak daarvan tot elke subsektor sal deurwerk.

“Twee derdes van die hele veebedryf word regstreeks geraak deur wat in die graanbedryf gebeur,” sê Maree.

“Graan is nie net ’n stapelvoedsel vir ons nie, dit is ook ’n stapelvoedsel vir al ons vleis.

Die gemiddelde graanboer leen tans tussen R8 miljoen en R10 miljoen per oesjaar. Hy sit daai geld in die grond, en soos sake nou staan, bid hy dan net, sê Jannie de Villiers van Graan SA.

Vertroue styg, maar nie genoeg

Volgens Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) se jongste landbousakevertrouensindeks het sakevertroue ietwat verbeter in die eerste kwartaal van 2019, maar nie naastenby genoeg nie.

Ná die swakste kwartaal sedert einde 2009 het die indeks met vier punte tot 46 gestyg. Maar Wandile Sihlobo, Agbiz se navorsingshoof, waarsku dit is “geensins rede om fees te vier nie”.

Sihlobo kon nie self op die konferensie wees nie en Maree het sy voorlegging gedoen. Hy sê hierin daar word nie genoeg in landbou belê nie, maar dit sal nie verander terwyl sakevertroue so laag is nie.

De Villiers sê die bedryf se probleme wentel nog om die produsente self en sal nie verbruikers op kort termyn raak nie.

Volgens De Villiers is voedselsekuriteit verseker, en produksievlakke meer as voldoende vir 2019, met min inflasionêre druk op kospryse.

“Verbruikers se kosprysinflasie staan op 2,3% en dit sal nie weens gebeure in die landbousektor binnekort verander nie. Maar die produsenteprysinflasie vir grane en ander gewasse staan op 27%, en as niks binnekort oor boere se finansiële kwesbaarheid gedoen word nie, sal dié prysdruk wel by verbruikers begin uitkom.”

Meer oor:  Graan Sa  |  Jannie De Villiers  |  Landbou  |  Graan  |  Droogte  |  Boere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.