Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou by keerpunt: ‘Cyril moenie slaap nie’

Die nuwe regering onder pres. Cyril Ramaphosa sal vinnig moet optree om onsekerheid oor landbou- en grondhervorming op te klaar, waarsku Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz.

Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie se jongste vertrouensindeks oor landbousake het in die tweede kwartaal tot 44 gedaal nadat dit in die eerste kwartaal effens tot 46 verbeter het.

Dit is steeds onder die neutrale vlak van 50 indekspunte en wys dat landbou-ondernemings negatief bly oor saketoestande in Suid-Afrika.

Wisselvallige weerstoestande wat tot laer someraanplantings gelei het, saam met die gebrek aan duidelikheid oor grondhervorming en waterregte, is volgens Sihlobo die belangrike faktore wat die grondslag is vir die volgehoue neerslagtigheid in die landbousakesektor.

Ramaphosa het nie beheer oor die klimaat nie, maar sy administrasie sal beleidsonsekerheid uit die weg moet ruim.
Wandile Sihlobo van Agbiz

Ramaphosa het nie beheer oor die klimaat nie, maar sy administrasie sal beleidsonsekerheid uit die weg moet ruim om die volle potensiaal van die landbou te ontsluit en om landelike ekonomieë te laat groei, meen Sihlobo.

Hy verduidelik ’n volgehoue afname in sakevertroue in die bedryf word gewoonlik deur ’n soortgelyke afname in belegging gevolg. Gelukkig blyk dit dat dié tendens nie tans die geval is in Suid-Afrikaanse landbou nie. Daar was oor die afgelope paar maande belowende bedrywigheid in die mark vir landboumasjinerie, hoewel dit steeds laer is as die verkope in 2018.

  • Die afdeling vir indiensnemings in die indeks het met 6 punte tot 48 geval, wat die laagste is sedert die derde kwartaal van 2015. Die arbeidsmagpeiling van die eerste kwartaal vanjaar wys indiensneming in die primêre landbousektor het met 1% tot 837 000 werkers gedaal.
  • Die subindeks oor omset het van 61 tot 58 gedaal. Wat die vertroue in die sektore vir somergraan, wol, oliesade en lewende hawe (beeste en skape) laat daal het, is volgens Sihlobo die vertraagde en verwagte swak oeste in somergrane en oliesade, asook die versperrings vir uitvoer oor die afgelope paar weke wat sanitêre en fitosanitêre maatreëls betref. Dit verwys na die vereistes van invoerlande vir siektevrye invoerprodukte. Suid-Afrika het wel vordering gemaak om die verbod op die uitvoer van wol na China op te hef, sê Sihlobo.

Die daling in die vertrouensindeks vir landbousake word ook weerspieël in die BBP-syfers van die eerste kwartaal, wat wys dat die landbousektor met 13,2% gekrimp het vergeleke met die vierde kwartaal van 2018. Dit is die sektor wat die skerpste gekrimp het.

Landbou dra tans sowat 2% tot die nominale BBP-syfers by.

sakevertroue, landbou

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.