Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou-ekonomie ‘sal weer kop optel’

Daar moenie te veel gelees word in die eerste kwartaal se inkrimping van 24,2% in die landbou-ekonomie nie. Dit is omdat die besonder hoë daling deels aan ’n uitskieter van ’n landboujaar in 2017 toegeskryf kan word.

Suid-Afrika het in 2017 rekordoeste vir mielies en soja gehad.

“Onthou, ons het in 2017 rekordoeste vir mielies en soja gehad en die slagsyfer was besonder hoog weens die nadraai van die 2015-’16-droogte, wat landbou-aktiwiteit laat styg het,” verduidelik prof Johan Willemse, landbou-ekonoom van Agrimarkconsultants.

“Vanjaar het ons ’n normale mielie-oes van 13 miljoen ton en veeslagtings is heelwat laer vergeleke met ’n jaar gelede. Ons doen nie swakker as verlede jaar nie, dit was net ’n uitskieter van ’n jaar gewees en vanjaar normaliseer aktiwiteit.”

Tog kan die invloed van die ernstige droogte in die Wes-Kaap nie buite rekening gelaat word in die inkrimping van die landbousektor se bruto binnelandse produk (BBP) nie.

“Die meeste wintergewasse soos koring, gars en canola, tesame met somervrugte soos steenvrugte en druiwe word gewoonlik van November tot Maart geoes, wat gedeeltelik saam met die eerste kwartaal se BBP-data saamval,” verduidelik Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.

“Dié gewasse word grootliks in die Wes-Kaap verbou en het weens die droogte ’n terugslag beleef, wat die negatiewe BBP-groei verduidelik.”

Agri SA het die afname in die eerste kwartaal verwag, veral in die konteks van die voortslepende droogte en beleidsonsekerheid, sê dr. Requier Wait, hoof van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid en beleidsonsekerheid.

Hy verwag dat die landbou vanjaar tot ’n meer gematigde groeikoers sal normaliseer.

“Agri SA bly optimisties oor die landbousektor se bydrae tot die Suid-Afrikaanse ekonomie, ondanks die noemenswaardige afname in die eerste kwartaal.”

Binnelandse suikerpryse in ook laag weens die lae internasionale prys, wat beteken Suid-Afrika voer teen ’n verlies uit.
Wessel Lemmer

Willemse glo ook daar behoort nie vanjaar verdere groot dalings in die landbou-BBP te wees nie.

“Dit lyk ook of 2019 ’n neutrale jaar gaan wees.”

Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom by Absa Agribesigheid, sê faktore soos die sterker rand, wat landbou-uitvoer knou, en die groot mielie-oorskot van die vorige jaar, wat die mielieprys afdruk, het ook ’n negatiewe uitwerking op die landbou-BBP gehad.

“Binnelandse suikerpryse in ook laag weens die lae internasionale prys, wat beteken Suid-Afrika voer teen ’n verlies uit.”

Hy sê hoewel die vooruitsigte vir die bedryf steeds positief is, kan faktore soos die styging in brandstofpryse weer heelwat druk op boere sit wanneer somergewasse in die derde kwartaal vanjaar geplant word.

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom van Bothaville, is minder optimisties oor groeivooruitsigte.

“Die afname in die ekonomiese groeikoers van 2,2% wat Statistieke Suid-Afrika vir die eerste kwartaal vanjaar aangekondig het, wys baie duidelik dat die kans op ’n ekonomiese herstel en oplewing baie skraal is.”

Hy sê herverdeling van al die bates en opbrengste van Suid-Afrika deur middel van minimum lone, hoër maatskaplike toelae, onteiening van grond sonder vergoeding en steeds stygende belasting sal nie ekonomiese groei kan skep nie, maar dit eerder vernietig.

Meer oor:  Agri Sa  |  Wessel Lemmer  |  Wandile Sihlobo  |  Fanie Brink  |  Landboubedryf  |  Boere  |  Suiker  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.