Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Landbou gaan werk skep? Moenie laf wees nie’

Werkgeleenthede in die landbou sal oor die volgende dekade dramaties daal weens die abnormale uitvloei van arbeid.

Fanie Brink

Dit kan toegeskryf word aan die uiterste ekonomiese druk waaronder die landboubedryf gebuk gaan, die nuwe, ongekende tegnologiese ontwikkeling wat voortspruit uit die vierde nywerheidsrevolusie in die wêreld en die onteiening van grond sonder vergoeding.

Ek verskil van Agri SA se verklaring dat die landbou oor “enorme potensiaal beskik om werk te skep op voorwaarde dat die regering die landbou moet ondersteun” en omdat “Afrika se deure oopstaan vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte”.

Die huidige algemeen aanvaarde werkskeppingsvermoë van die landbou is net so belaglik soos die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se bewering dat die landbou miljoen werkgeleenthede kan skep.

Hulle het nie die ontwikkeling van nuwe tegnologie in ag geneem nie... Hulle het nog minder die ongewenste gevolge van grondonteiening sonder vergoeding in ag geneem.
Fanie Brink, ekonoom

Die bevindings en aanbevelings van die NOP is ongetwyfeld een van die belangrikste redes waarom die ANC se beleid die ekonomie en die land totaal sal vernietig omdat dit op suiwer sosialistiese en kommunistiese leerstellinge geskoei is wat jare gelede totaal in die wêreld verwerp is.

Die aanbevelings van die NOP was in werklikheid nog altyd irrelevant en nooit toepasbaar nie omdat dit gegrond is op ’n ekonomiese groeiteiken van 4,5%. Dit is suiwer deur die kommissarisse van die Nasionale Beplanningskommissie wat dit geskryf het, uit hul duim gesuig.

Sedert die NOP geskryf is, was die groeikoers skaars 1% en die kans dat die ekonomie weer sal groei, is uiters skraal.

Daar bestaan geen gronde waarop die president van die land sy aansprake kan grond dat die landbou baie werkgeleenthede kan skep nie, sê Fanie Brink.

Die NOP het ook ’n voorwaarde gestel vir die werkskepping wat hulle uit die lug gegryp het: dat die uitvloei van arbeid uit die landbou sal afneem.

Hulle het nie die ontwikkeling van nuwe tegnologie in ag geneem nie, soos gevorderde rekenaars, sensors en robots wat reeds besig is om die landbou baie vinnig te verander en arbeid aansienlik sal verminder.

Hulle het nog minder die ongewenste gevolge van grondonteiening sonder vergoeding in ag geneem.

Daar bestaan nie ’n moontlikheid dat die nuwe eienaars van die landbougrond wat onteien gaan word eens naastenby soveel arbeiders en hul families sal kan onderhou as kommersiële boere nie, wat nog te sê die voorsiening van gratis voedsel en behuising, mediese en vervoervoordele, asook onderwys en opleiding.

As die kommissarisse so slim was, sou hulle geweet het dat die ANC se ideologie – waardeur hy al die bates, potensiële ekonomiese groei en rykdom van die land wil herverdeel – die ekonomie totaal sal vernietig.

Die landbou se primêre doelwit is nie om werk te skep nie, maar om meer voedsel deur groter doeltreffendheid, winsgewendheid en volhoubaarheid met minder basiese hulpbronne en produksiefaktore soos grond, kapitaal, arbeid en bestuur te produseer om sodoende die finansiële oorlewing van boere, voedselsekerheid vir die land en die landbou se bydrae tot ekonomiese groei te verseker.

Afrika voer gemiddeld ongeveer R50 miljard se voedsel per jaar in wat deur internasionale skenkers gefinansier word, waarvan feitlik niks van Suid-Afrika af ingevoer word nie.
Fanie Brink, ekonoom

Daar bestaan gevolglik geen gronde waarop die president van die land sy aansprake kan grond dat die landbou baie werkgeleenthede kan skep soos deur die NOP beweer is nie.

Feitlik alle politieke en landbouleiers het al dekades gelede baie gereeld op elke vergadering gesê het dat die “deure van Afrika oopstaan” vir die landbou, maar sedertdien het dit nog baie min voordele vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte opgelewer. Selfs die Wêreldvoedselorganisasie van die Verenigde Nasies en die groot internasionale skenkers wat die Afrika-lande van voedsel voorsien, koop feitlik geen landbouprodukte by Suid-Afrika nie, maar eerder by hul eie lande.

Afrika voer gemiddeld ongeveer R50 miljard se voedsel per jaar in wat deur internasionale skenkers gefinansier word, waarvan feitlik niks van Suid-Afrika af ingevoer word nie.

Suid-Afrika voorsien jaarliks net ongeveer 600 00 ton mielies van die totale verbruik van die 10,5 miljoen ton plaaslik geproduseerde mielies as die belangrikste stapelvoedsel aan sy onmiddellike buurlande Botswana, Lesotho, Namibië en Swaziland. Alle oorskotmielies wat in Suid-Afrika geproduseer word, word teen verliese na oorsese markte uitgevoer.

Daar moet egter geen twyfel bestaan nie dat die ANC-regering nog nooit sedert 1994 die kommersiële landbou, wat 95% van die land se voedsel produseer, finansieel ondersteun het nie en slegs die kommersiële wit boere as kapitaliste en rassiste uitgemaak het.

Daarom het die ANC ook altyd sy beste probeer dat hulle geen voordeel uit die staatskas trek nie, selfs nie eens tydens die ergste droogte wat die land in sy geskiedenis twee jaar gelede beleef het nie.

Daarom behoort Agri SA eerder te probeer kyk hoeveel kommersiële boere op hul plase in produksie gehou kan om ’n ongekende uittog van duisende plaaswerkers uit die landbou te verminder en sonder om duisende klein swart bestaansboere en hul families in armoede te dompel.

  • Fanie Brink is ’n onafhanklike landbou-ekonoom van Bothaville in die Vrystaat.
Meer oor:  Agri Sa  |  Fanie Brink  |  Indiensneming  |  Werkloosheid  |  Werkloosheidskoers  |  Landbou  |  Qlfs1803  |  Werkskepping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.