Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Landbou geknou as Kaapse hawe nie regkom’

Daar is steeds kommer oor die volgehoue probleme in die Kaapstadse hawe wat ’n risiko inhou vir landbou-uitvoer.

Transnet moet vraghanteringstoerusting in die Kaapse hawe opknap, vra die Wes-Kaapse departement van landbou.

Die Wes-Kaapse regering het vroeër vanjaar by pres. Cyril Ramaphosa daarop aangedring dat hy die Kaapse hawe dringend besoek, soos wat hy tevore by die Durbanse hawe besoek afgelê het, maar niks het nog daarvan gekom nie.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou, sê hy gaan nou reguit na die senior bestuur van Transnet Port Terminals om te kla oor die traagheid om die hawe se doeltreffendheid te verbeter.

Medianavrae by Transnet in April oor wat beplan word vir beter toerusting in die Kaapse hawe, is nog onbeantwoord.

Transnet is gevra om te reageer op die provinsiale regering se versoek om in te gryp wat betref die verouderde toerusting wat kort-kort breek en tot vertragings en opeenhopings lei. Transnet het ook nog nie gereageer op vrae oor vordering met enige van sy huidige kapitaalinvesteringsplanne vir die Kaapse hawe nie.

Dr. Ivan Meyer, Wes-Kaapse LUR vir landbou.

Meyer het Vrydag gewaarsku die ondoeltreffendheid in die hawe bring die werkgeleenthede van die landbou-uitvoerbedryf in die streek in gedrang.

Hy het ná ’n gesprek met die Sitruskwekersvereniging (CGA) sy kommer uitgespreek oor die huidige toestand van dienslewering in die hawe en die negatiewe impak wat dit op landbou-uitvoer kan hê.

As die hawe andersins sy diens kan regkry, wys navorsing dat dit landbou-uitvoer oor vyf jaar met 5% kan laat groei wat sowat 19 000 nuwe werkgeleenthede in die Wes-Kaap kan skep.

David Maynier, Wes-Kaapse LUR vir finansies en ekonomiese geleenthede, het wel al belanghebbers saamgebring in ’n hawetaakspan om die logistieke probleme aan te pak. Hoewel daar ietwat sukses behaal is danksy die taakspan se werk, sal dit ingryping deur die nasionale regering verg om die hawe se doeltreffendheid te verbeter, meen Meyer.

Durban

Ramaphosa het nuwe beleggings in die Durbanse hawe aangekondig toe hy in April daar was. Jacques Moolman, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, glo nie Durban moet as mededinger vir Kaapstad beskou word nie, en die belegging in beter diens in Durban sal tot die Kaapse hawe se voordeel wees. Vertragings in Durban veroorsaak tans dat sommige houerskepe besluit om nie by Kaapstad aan te doen nie.

Hy maan wel dat die aandag op Durban kan beteken dat die Kaapse hawe in ’n mate afgeskeep word.

Droogdok

Moolman sê die probleme wat Transnet in Kaapstad moet pak, sluit in die trae hantering by die vrageindpunte. Benewens instandhouding van toerusting en produktiwiteit wat moet verbeter, wys hy op die droogdokgeriewe wat nie tans op standaard is nie. Dit veroorsaak dat skepe wat andersins Kaapstad sou aandoen vir herstelwerk eerder voortvaar na ander hawens.

Terry Gale, voorsitter van die Uitvoerdersklub van die Wes-Kaap, stem saam dis belangrik dat Ramaphosa die Kaapse hawe besoek. Hy meen die Kaapse houerkaai kan steeds uitbrei. Daar is oop grond by die Culemborg-perseel van Transnet wat gebruik kan word vir landgegronde hawebedrywighede.

Moolman waarsku die uitbreiding van die Kaapse hawe kan tot verkeersknope en omgewingsprobleme bydra. Daarom word Saldanha voorgestel as ’n hawe wat uitgebrei kan word vir houervrag, hoewel dit duur sal wees en lank sal vat.

Meer oor:  Transnet  |  Hawens  |  Landbou  |  Beleggings  |  Uitvoer  |  Handel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.