Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou ‘kan nog méér groei’, maar . . .

Die landbousektor, die enigste ekonomiese sektor wat verlede jaar te midde van die Covid-19-pandemie gegroei het, kan ’n belangrike bydrae tot toekomstige ekonomiese groei lewer, maar word gekniehalter deur swak infrastruktuur, veiligheidskwessies en beleidsonsekerheid.

Suurlemoene is een van die landbouprodukte wat teen 2030 goeie uitvoergroei kan behaal.

Só sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, oor die volhoubaarheid van ekonomiese groei in die volgende paar jaar.

Hy en dr. Tracy Davids, hoof van kommoditeite by die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP), het hul vooruitsigte vir die landbousektor Donderdag gedeel op ’n virtuele geleentheid aangebied deur Nedbank.

Die landbousektor het verlede jaar met sowat 13% gegroei, terwyl die ekonomie met altesame 7% ingekrimp het.

Volgens Sihlobo het landbouproduksie in volume die afgelope tien jaar met 19% gegroei en in waarde met 44%.

Wat waarde betref, het die grootste groei gekom van tuinboukunde (groente en vrugte) met 70%, diereprodukte met 43% en oesgewasse met 22%.

Hy sê die regering se planne om landbouproduksie te verhoog neem vorm aan en berus onder meer op groter inklusiwiteit in die waardeketting, toegang tot meer uitvoermarkte, toegang tot grond, steun aan boere en ’n fokus op navorsing en ontwikkeling.

Groei in die landbousektor kan belemmer word deur ondoeltreffende staatsadministrasie, waaronder swak bio-sekerheidsmaatreëls soos nou weer blyk uit nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer en voëlgriep, en swak ontwerp van die staat se grondhervorming- en landelike-ontwikkelingsprogram.

Daar is ook baie sekuriteitskwessies wat aandag moet kry soos plaasaanvalle, veediefstal en vandalisme wat plaasinfrastruktuur vernietig, sê hy.

Volgens Sihlobo is beter infrastruktuur noodsaaklik vir ’n florerende landbousektor. Tans is landelike paaie swak, daar is ’n tekort aan damme en kostedoeltreffende, betroubare kragvoorsiening is ’n moet.

Davids sê die land se hawens moet behoorlik funksioneer en alle vermoëns moet doeltreffend gebruik word as ons meer landbouprodukte wil uitvoer.

Sowat 38% van die land se varkbevolking behoort aan ontwikkelende boere.

Landbou-uitvoer het verlede jaar $10,8 miljard (teen die huidige wisselkoers sowat R150 miljard) beloop. Sowat R26 miljard daarvan kom uit die uitvoer van sitrus (meestal lemoene) en neute (meestal macadamianeute).

Daarvan gaan 32% na die Europese Unie en 22% na China, wat groter uitvoergeleenthede bied, sê Davids.

Die uitvoer van lemmetjies en suurlemoene het die afgelope tien jaar met 180% gestyg en die uitvoer van sagte sitrus (sogenaamde easy peelers) met 257%.

Sy sê die sowat 292 000 kartonne vrugte wat in 2020 uitgevoer is, kan teen 2030 met 50% tot 440 000 toeneem. Van die produkte wat teen 2030 goeie uitvoergroei kan behaal, is:

  • Avokado’s: Van 15 miljoen kartonne in 2020 tot 50 miljoen in 2030 (ekwivalent van 4 kg-kartonne);
  • Lemoene: Van 75 miljoen tot 111 miljoen (15 kg-kartonne);
  • Suurlemoene: Van 30 miljoen tot 52 miljoen (15 kg-kartonne); en
  • Pruime: Van 8,3 miljoen tot 20,6 miljoen (5,25 kg-kartonne).

Dit sal belegging in die land se hawens vereis om die volumes doeltreffend te hanteer en te keer dat die vrugte gehalte inboet as dit te lank in die hawens sit, aldus Davids.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, het onlangs in sy begrotingsrede gesê verskeie projekte in samewerking met die private sektor word by hawens beplan.

Tans word toerusting van die Durbanse hawe na Kaapstad verskuif vir groter uitvoervermoë vir vrugte en verkoelde goedere.

Volgens Davids dra primêre landbou sowat 2% tot die bruto binnelandse produk (BBP) by, maar landbouverwerking dra nóg 5% by.

Landbou se bydrae tot indiensneming in die land is 7% en dié van landbouverwerking 3%.

Sy sê die rol van die informele sektor word egter onderskat. Sy het die voorbeeld van die varkbedryf genoem: Informele of ontwikkelende varkboere (met minder as 50 varke) word nie by formele statistieke ingesluit nie.

Desondanks hou die ontwikkelende boere sowat 38% van die land se varkbevolking.

Hulle produseer sowat 27 000 ton vleis per jaar, wat meestal informeel verkoop word.

Volgens Sihlobo is transformasie in die landbousektor en insluiting van swart boere belangrik en deel van die regering se planne om die sektor uit te brei.

Van 2015 tot 2019 was swart boere se aandeel in mielieproduksie maar sowat 4,7%, vir sagtevrugte 3% en vir tamaties 8,6%. Vir die produksie van beesvleis is hul aandeel 34% en vir wolproduksie 11%.

Meer oor:  Wandile Sihlobo  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomiese Groei  |  Boere  |  Beleid  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.