Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Staat het gefaal om boere op te lei’

’n Groter belegging in die opleiding van boere gaan noodsaaklik wees om ’n sukses van grondhervorming en transformasie in die landbou te maak.

Om dié rede moet die staat meer belê in die onderrig van landbouvaardighede en om jong mense op skoolvlak al aan boerdery as ’n aantreklike loopbaankeuse bloot te stel.

Sylvester Lubambo van Harvest Time Investments praat Donderdag by ’n gespreksessie van die Nampo Kaap-landbouskou in Bredasdorp.Foto: Malherbe Nienaber

Dit is volgens deelnemers aan ’n gespreksessie Donderdag by die Nampo Kaap-landbouskou in Bredasdorp, met die tema “Opleiding en opleidingsinstansies in landbou: Konsolidasie of spesialiteit?”.

Sylvester Lubambo van Harvest Time Investments sê die beeld van die landbou as ’n sukkelbestaan moet verander word, veral onder die swart gemeenskap waar landbou met bestaansboerdery en armoede vereenselwig word.

“Wanneer ons oor boerdery praat, dink mense aan werk in die veld, maar landbou is gevorderd met nuwe tegnologie en ons moet die jeug betrek. Mense moet die besigheid van landbou verstaan en dat dit jou kan ryk maak.”

Volgens Lubambo is dit noodsaaklik om passievolle opkomende boere vroeg uit te wys en met die nodige vaardighede toe te rus.

Prof. Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch.Foto: Malherbe Nienaber

“Die landbou is nie ’n tender of onmiddellike bevrediging nie – jy moet vir baie lank betrokke bly. Dit is waarom passie ’n vereiste is, sodat jy deur die moeilike jare deurdruk en verstaan dat die voordele dalk eers in latere geslagte gesien gaan word.”

Lubambo sê Harvest Time Investments wou verseker dat ’n “nuwe geslag van boere” suksesvol sal wees en het bevind dat ’n tekort aan kundigheid en opleiding ’n groot struikelblok is.

’n Opleidingsentrum is toe in 2012 gestig om teorie en praktiese opleiding te bied, met jong boere wat onderrig kry in nuwe tegnologie, metodes en finansiële bestuur.

Dit is veral met die oog daarop om boere by te staan met die oorgang van bestaansboerdery na kommersiële boerdery.

Barend Sulvester van die Kaap Agri Akademie in die Wes-Kaap praat by die Nampo Kaap-landbouskou in Bredasdorp.Foto: Malherbe Nienaber

Prof. Johann Kirsten, direkteur van die Buro vir Ekonomiese Navorsing aan die Universiteit Stellenbosch, het daarop gewys dat die privaat sektor by opleiding van boere moes betrokke raak en “in wese die goed doen wat die landboukolleges moes gedoen het.

“Uit die 11 landboukolleges is daar eintlik net twee wat regtig nog ’n bydrae maak ten opsigte van sinvolle opleiding. Die ontevredenheid van die landbou oor die praktiese opleiding wat die kolleges moes gedoen het, het daartoe gelei dat hulle as te ware dié aspek oorgeneem het.”

Volgens Kirsten het die staat “gefaal in sy plig” om die openbare diens van opleiding te lewer en is dit “in wese deur die landbou oorgeneem”.

Barend Sulvester van die Kaap Agri Akademie sê daar is ’n groot behoefte aan opleiding in die landbou wat die “praktiese en besigheidsaspekte” betref.

“Ons het gesien daar is ’n gaping tussen sekondêre en tersiêre opleiding en dat daar niemand is wat daarin voorsien dat mense later op tersiêre vlak verder kan studeer nie.”

Alfreda Mars, ’n opkomende boer van die plaas Middelpos op Moorreesburg.Foto: Malherbe Nienaber

Die akademie het begin met ’n program vir gemengde boerdery en later besluit om die studente toe te laat om te spesialiseer.

Die provinsiale departement van landbou het toe in 2016 as vennoot aangesluit, “omdat ons studente en boere uiteindelik hul kliënte word”.

Sulvester sê die jeug moet daarvan bewus gemaak word dat die landbou nie net boerdery behels nie, maar ook onder meer geleenthede vir rekenmeesters, ouditeurs en inspekteurs van beroepsveiligheid inhou.

Alfreda Mars, ’n opkomende boer van Moorreesburg, het vertel dat die akademie “die entrepreneur in my ontsluit het.

“Jy besef later dat jy meer van ’n entrepreneur as ’n boer is. Dit hang van jouself af, want jy kan nie net bly by die tien hektaar wat jy het nie. Jy moet ’n mark gaan soek en wie anders as jy self gaan dit vir jou doen?”

Mars sê daar is ’n groot behoefte aan blootstelling aan die landbou onder swart skole, waar net ’n klein persentasie landbouvakke aanbied.

Dit laat die geleentheid verbygaan om passie op ’n vroeë ouderdom te ontwikkel, want “jy kan nie eers aan die einde van die skoolloopbaan belangstelling begin prikkel nie”.

Die Nampo Kaap-skou duur tot Vrydag met meer as 300 uitstallers en meer as 2 000 besoekers wat daagliks ontvang word.

Kyk die regstreekse uitsending van die gesprek by die Nampo Kaap-skou hier:

Meer oor:  Nampo Kaap  |  Bredasdorp  |  Grondhervoming  |  Transformasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.