Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou-resessie nie weens grondvrese
06 September 2018
Die slagsyfers van vee was vanjaar beduidend laer as verlede jaar en oeste het swaargekry weens droogte.

Die skerp inkrimping in Suid-Afrika se landbou-ekonomie in die tweede kwartaal is (nog) nie aan onsekerheid oor grondhervorming te wyte nie.

Landbou-ekonome meen dit is eerder weens faktore buite die regering se beheer dat die bruto binnelandse produk (BBP) vir die landbousektor met 29% gekrimp het. Dit volg op die eerste kwartaal se inkrimping in dié sektor van 24%.

Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz, sê dit is eerder die natuur wat die skuld moet kry.

“Die stertkant van die droogte in die Wes-Kaap asook die somer-oeste wat later as gewoonlik inkom, het die daling veroorsaak.”

Prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van Agrimark Consultants, sê ’n mens moet die landbou-faktore in ag neem wat ’n jaar gelede gegeld het, om die daling in perspektief te stel.

“Eerstens het ons verlede jaar ’n mielie-oes van 17,3 miljoen ton gehad, wat ’n rekord was, terwyl vanjaar se oes wat steeds ingesamel word, vier miljoen ton laer is.”

Dít maak ’n groot verskil aan die BBP-syfer, sê Willemse en voeg by dat landbou verlede jaar ’n groot sprong getoon het van ’n lae basis af ná die droogte.

“ ’n Mens moet die syfers eintlik oor ’n driejaarsiklus bestudeer om die volle prentjie te kry.”

’n Mens moet die syfers eintlik oor ’n driejaarsiklus bestudeer om die volle prentjie te kry.
Wandile Sihlobo

Hy sê vrugte-boere in die Wes-Kaap rapporteer dat hul uitvoer in die eerste twee kwartale vanjaar met tussen 10% en 15% gedaal het weens die droogte in dié provinsie.

Die slagsyfers van vee was vanjaar beduidend laer as verlede jaar, omdat boere nou weer weiding het om hul kuddes op te bou nadat soveel vee weens die droogte uitgeslag is, sê Willemse.

Die laer produksie van hoenders en eiers wat steeds herstel ná voëlgriep het ook tot die laer landbou-BBP bygedra. Daarby moet die insinking in varkvleisproduksie ook as ’n faktor beskou word. Groot vleisverwerkers, wat ook groot aankopers van varkvleis is, moes weens die uitbreking van listeriose aanlegte sluit en verbruikers het in dié tydperk ook minder verwerkte vleisprodukte geëet.

“Die daling in die landbou-ekonomie moet eerder aan tegniese redes as politiek toegeskryf word – dit kom nog,” het Willemse gesê met verwysing na die uitwerking wat onsekerheid weens vrese vir grondvergrype op die sektor kan hê.

Hy sê hoër internasionale oliepryse en die verswakking van die rand kan vorentoe steeds ’n demper op die sektor se prestasie plaas, hoewel ’n randverswakking veral mielieboere tog help omdat dit die plaaslike mielieprys laat styg en dit dus vir hulle meer winsgewend maak om te plant.

Meer oor:  Ekonomie  |  Droogte  |  Ekonomiese Groei  |  Grondonteiening  |  Landbou-Ekonomie  |  Bbp1802  |  Bbp  |  Landboubedryf  |  Resessie  |  Grondvrese
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.