Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou skep werk ondanks terugslae

Die jongste syfers oor werkskepping in die landbou wys Suid-Afrika is nog ver van die doelwit om teen 2030 ’n miljoen werkgeleenthede in dié sektor te skep.

Suid-Afrika kan die tuin van Eden word as landbouproduksie verhoog word, sê adj.pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Conrad Borman

Só sê Wandile Sihlobo, ekonoom van die landbousakekamer Agbiz, in sy jongste ontleding van Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingspeiling, waarvolgens werkloosheid in die tweede kwartaal tot 27,2% gestyg het.

Indiensneming in die landbou, een van die land se groot werkskeppers, het in die tweede kwartaal vanjaar met een persentasiepunt op ’n jaargrondslag tot 843 000 werkgeleenthede gestyg.

Die positiewe syfer word ondersteun deur ’n verbetering in indiensneming in die Wes-Kaap (0,9%), Oos-Kaap (8,2%), Limpopo (9,5%) en die Noord-Kaap (23,3%). (Sien grafiek hieronder.)

“Die verbetering in dié provinsies is nie verbasend nie, veral in die Oos-Kaap en Limpopo waar daar die tweede kwartaal groot graan-, vrugte- en groente-oeste ingesamel word,” verduidelik Sihlobo.

Hy sê hoewel graanproduksie vanjaar effens laer is as verlede jaar, is die oes in die arbeidsintensiewe sitrusbedryf weer heelwat groter.

“Data van die VSA se departement van landbou dui daarop dat Suid-Afrika se sitrusoes in die 2017/’18-seisoen met 2% op ’n jaargrondslag tot 1,43 miljoen ton gaan styg.”

Dié styging word juis toegeskryf aan groter oeste in veral Limpopo en die Oos-Kaap.

Die klein styging in indiensneming in die Wes-Kaap was ’n verrassing, gegewe die nasleep van die Wes-Kaapse droogte, sê Sihlobo.

Hy is nie oortuig dat dié provinsie die droogte se negatiewe invloed op indiensneming nou finaal afgeskud het nie.

“Produksie in die meeste subsektore van die vrugte- en groentebedrywe het weens die droogte ’n dubbelsyferdaling aangeteken.”

Hy sê die Wes-Kaap is een van die grootste werkgewers in die landbousektor, wat tot 21% van die werkgeleenthede in dié sektor lewer.

“Die nasleep van die Wes-Kaapse droogte, tesame met verminderde aanplantings in somersaaigebiede, kan indiensneming laat daal.”

In sy reaksie het Alan Winde, die Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese ontwikkeling, ook gesê werk in dié provinsie is seisoenaal en die werkverliese wat op ’n kwartaalgrondslag aangeteken is, hou verband daarmee.

“Die droogte het ’n aansienlike uitwerking op die landboubedryf gehad en die kwartaallikse indiensnemingsyfers weerspieël dit steeds. Ons is egter verheug dat ons nie ’n groot negatiewe invloed op ’n jaargrondslag gesien het in ’n sektor wat grootliks die werkskepper in die platteland is nie.”

Hy sê die goeie reën in dele van die provinsie kan wel ’n positiewe invloed op indiensneming in die volgende twee kwartale hê.

Die provinsies wat in die tweede kwartaal die meeste werkgeleenthede in die landbou prysgegee het, is Noordwes (-19%) en die Vrystaat (-11%).

Boere in dié twee provinsies sukkel steeds om skuld af te betaal wat in die droogte van 2015/’16 aangegaan is, terwyl lae kommoditeitspryse ook hul winsgewendheid ’n knou gee.

Christo van der Rheede, uitvoerende adjunkhoof van Agri SA, waarsku die landbousektor het tot nou toe die grootste positiewe bydrae tot die groei van die bruto binnelandse produk gelewer.

“Die sektor dra ook by tot voedselsekerheid, verdien buitelandse valuta, betaal salarisse aan sowat 850 000 mense en hou die ekonomie van landelike dorpe aan die gang.”

Hy waarsku die landbou is ’n groot werkskepper vir veral ongeskoolde of laaggeskoolde arbeid en sê die regering moet nie die sektor “as gyselaar hou” deur regulatoriese rompslomp nie.

Sihlobo waarsku ook die instelling van die minimum loon sal ’n moontlike remskoen vir werkskepping, veral in arbeidsintensiewe sektore van die landbou soos vrugte- en groenteverbouing wees.

Meer oor:  Agbiz  |  Wandile Sihlobo  |  Minimum Loon  |  Werkskepping  |  Werkloosheid  |  Arbeid  |  Voedselsekerheid  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.