Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou só in landerye gevier

As jy onlangs op die N2 in die rigting van Riviersonderend in die Overberg gery het, het jy dalk ’n geheimsinnige verskynsel in die koring- en kanolalanderye daar sien vorm aanneem.

Jy hoef egter nie bekommerd te wees nie – dit is nié die landingsplek van ruimtewesens soos wat sekere mense oor die geheimsinnige sirkels in Amerikaanse mielielande (crop circles) glo nie.

Dit is eerder ’n landkunsprojek wat fokus op die landbousektor en deel van die Universiteit Stellenbosch (US) se fakulteit agriwetenskappe se eeufeesvieringe vanjaar vorm.

My magtag, Martha! Kyk hier: ’n Lugfoto van een van die reusesirkels wat op die plaas Boontjieskraal buite Caledon geplant is. Die landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe het die kunsprojek in opdrag van die Universiteit Stellenbosch se fakulteit agriwetenskappe gedoen.

Dié unieke kunsprojek bestaan uit twee reusesirkels van koring en kanola – elk met ’n deursnee van 100 meter. Die sirkels is op die graanboer Richard Krige se plaas, Boontjieskraal, buite Caledon langs die N2 geplant. Die simbool wat gebruik is, is ’n sirkel met ’n kruis in.

Die kunswerk is in opdrag van die universiteit deur die bekende Suid-Afrikaanse landskapkunstenaar Strijdom van der Merwe geskep en is getiteld “Die Aarde”.

Die projek vier onder meer die landbousektor, sowel as die US-fakulteit se bydrae tot die groter samelewing oor die jare.

“Ek wou nog altyd crop circles tussen koringlande maak. Danksy die fakulteit se hulp, onder meer om die sirkels te help ploeg en die skenking van die saad, word dié droom nou verwesenlik,” sê Van der Merwe in die verklaring.

Hy verduidelik verder dat hy ’n “oersimbool” as inspirasie gebruik het – ’n simbool wat reeds in verskeie rotstekeninge oor die wêreld heen voorkom. “Die motief vir dié kunswerk – ’n sirkel met ’n kruis in – word beskou as een van die oudste bekende simbole vir die aarde,” aldus Van der Merwe.

Die kunswerk is onder meer geïnspireer deur die rotskuns by Driekopseiland naby Douglas in die Noord-Kaap waar dié sirkelmotief ook deel daarvan vorm, lui die verklaring verder. Die simbool word ook in die bekleedsel van die Grondwethof gebruik.

“Ons wend nou hierdie simbool in ’n hedendaagse landboukonteks aan. Hierdie groeisirkels gaan saam met die seisoene van groen na geel en dan bruin verander. Dit verteenwoordig die siklusse van die natuur en die lewe,” sê Van der Merwe.

Dís hoe groot dit is: Die reusesirkels bestaan uit koring en kanola en het ’n deursnee van 100 meter elk. Dit kan van die pad af gesien word as jy op die N2 ry in die rigting van Riviersonderend. Daar is nog ’n foto van die reusesirkels op bladsy 12. Foto’s: VERSKAF

Die kwarte wat die kruis in die sirkel vorm, simboliseer vuur, water, lug en grond. “Al hierdie elemente is sentraal vir landbou en dit is ook waarmee ’n landkunstenaar werk. In landbou hou alles ook uiteindelik maar verband met die grond – of jy nou vee het of koring saai,” voeg hy by.

Volgens prof. Danie Brink, dekaan van die US se fakulteit agriwetenskappe, wou hulle graag die landbousektor én die fakulteit se bydrae met behulp van Van der Merwe visueel uitbeeld.

“Die fakulteit is sedert die US se beginjare in die ou Victoria Kollege aan die voorpunt van navorsing en onderrig oor landbou, asook om produsente se hand met navorsing te sterk,” sê hy.

“Die kunswerk, in die vorm van ’n ikoniese simbool, dui ons verbintenis met die aarde en landbou se wisselwerking daarmee aan.

“Dit verg fyn beplanning, ’n goeie skeut deursettingsvermoë en heelwat geduld om sáám met die elemente vooruit te boer,” voeg Brink by.

Die kunsprojek is onder andere met behulp van Kaap Agri, Overberg Agri en Sentraal Suid-Koöperasie, sowel as Willem

Botes, navorsingsleier van die US se planteteeltlaboratorium, en van sy kollegas in die departement genetika verwesenlik.

Die fakulteit agriwetenskappe bied twee kompetisies ter viering van hul eeufees en dié opwindende landskapkunsprojek aan.

Deelnemers kan onderskeidelik ’n R1 000-geskenkbewys vir die Matiewinkel of ’n R1 000-geskenkbewys vir die Universiteit Stellenbosch-kelder wen.

Só skryf jy in:

  • Beantwoord die volgende vraag en stuur die antwoord per e-pos na cbruce@sun. ac.za: Die kunsprojek “Die Aarde” bestaan uit vier elemente: grond, water, lug en _____ ?

Skryf in die onderwerplyn van jou e-pos die volgende: Eeufeeskompetisie (jou antwoord) (jou naam) (jou kontaknommer)

  • Kompetisie 2: Neem ’n foto van die kunsprojek en stuur dit met die datum waarop dit geneem is na cbruce@sun.ac.za. Die foto moet in die e-pos ingesluit wees en nie as ’n aanhangsel nie.

Slegs twee inskrywings word per persoon vir al twee kompetisies toegelaat, en die sluitingsdatum is 20 September 2018.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.