Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou: Volgehoue drankverbod ‘het verreikende gevolge’
Foto ter illustrasie. Graan SA het Vrydag gewaarsku dat die voordurende drankverbod verreikende gevolge vir die landbou het, met verskeie gewasse wat opeenhoop. Foto: Jaco Marais

Die volgehoue verbod op drankverkope het verreikende gevolge vir die landbou, met die opeenhoping van sommige gewasse wat nie lank geberg of uitgevoer kan word.

Graan SA het Vrydag daarop gewys dat alkohol vervaardig word uit grondstowwe afkomstig van die landbou, soos moutsorghum, moutgars, mielies, aartappels en druiwe.

Van dié produkte se aanvraag is grootliks afhanklik van brouery en het ’n ernstige uitwerking as dit nie verwerk word nie, sê Graan SA in ’n verklaring.

Daar was reeds weens die vorige verbod op drankverkope ’n opeenhoping van gewasse, “waarvan sommige nie vir lang tydperke gestoor kon word nie en wat ook geen uitvoermoontlikhede gehad het nie”.

Volgens Graan SA plaas ’n verdere verbod net meer druk op die stelsel, met “ingrypende finansiële en ekologiese gevolge”.

“Moutgars is ’n belangrike gewas in die wintergraangebied waar daar beperkte gewaskeuses is. Dié seisoen het goeie aanplantings van moutgars gehad en die weer het bygedra tot ’n goeie seisoen.”

Met die vorige verbod op verkope is ’n aansienlike oorskot opgebou ondanks die goeie oes vir moutgars en is daar beperkte moontlikhede vir uitvoer.

Dit sal minder aanplantings in die komende seisoen tot gevolg hê, sê Graan SA.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof van ? Wes-Kaap. Foto: Verskaf

“Teen dié tyd het die koopmandate in sekere streke aansienlik afgeneem, wat die aantal hektaar wat in die komende seisoen aangeplant kan word, verminder.”

Dit het beduidende finansiële druk tot gevolg in gebiede wat reeds deurgeloop het onder ’n droogte en waar die vlakke van landbouskuld hoog is, luidens die verklaring.

Nog ’n moontlikheid is dat maatskappye se ondersteuning aan kleinskaalse produsente kan opdroog weens die finansiële verliese waardeur die maatskappye nou in die gesig gestaar word.

Verder het die garsbedryf groot geleenthede om uit te brei vir landbouverwerking en werkskepping, maar die huidige omstandighede ontmoedig beleggings en kan ’n langtermynuitwerking op die bedryf se volhoubaarheid hê.

“Graan SA erken dat alles gedoen moet word om die land veilig te hou en die druk op die gesondheidsorgstelsel te verminder. Daar moet egter ook in ag geneem word dat die alkoholverbod ’n hele bedryf met ’n ondersteunde waardeketting raak, wat die volhoubaarheid van die lewensonderhoud van mense wat werk in en afhanklik is van hierdie bedryf, verder beïnvloed.”

Daarby sê Graan SA mededingende lande waar soortgelyke inperkings ingestel is, bied aansienlike ondersteuning aan die landbou.

Ook Agri Wes-Kaap het Dinsdag gesê die wynbedryf kan nie die verlenging van die verbod wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, bekostig nie.

Jannie Strydom, uitvoerende hoof, het sy teleurstelling uitgespreek dat die regering ’n algehele verbod geplaas het eerder as om ’n gedifferensieerde benadering te volg.

“Voorstelle wat die wynbedryfsinstelling Vinpro einde Desember 2020 aan die regering gemaak het, blyk ook nie deur die regering oorweeg te gewees het nie.”

Strydom het beklemtoon dat die wynbedryf ’n belangrike bydraer tot die Wes-Kaap en die nasionale ekonomie is, terwyl hy reeds finansiële en werkverliese gely het ná die vroeëre verbod op verkope.

“Hoewel Agri Wes-Kaap die druk verstaan waaronder die gesondheidsorgstelsel verkeer, trek die landbousektor aan die kortste end weens die gedrag van die algemene publiek.”

Meer oor:  Koronavirus  |  Vlak 3  |  Drankverbod  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.