Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou wil werk skep, maar pleit by regering

Afrika se deure staan oop vir Suid-Afrikaanse landbouprodukte. Landbou kan die spilpunt van werkskepping wees, maar dan moet die regering die sektor steun, sê Agri SA.

Die einde van die Wes-Kaapse droogte het landbou-indiensneming laat normaliseer.

“Vir elke rand wat die regering aan werkskepping in landbou bestee, sal die opbrengs in werkgeleenthede enige ander sektor in die stof laat byt,” sê Neil Hamman van dié organisasie.

“Die ganse Afrika se deure staan oop vir ons landbouprodukte, en Suid-Afrikaanse kommersiële boere is uiters mededingend.

“Daar is enorme potensiaal om landbou die werkskepping-sentrum te maak. Die kritiese vereiste is egter konsekwente ondersteuning van die regering.”

Die einde van die droogte in die Wes-Kaap het indiensneming in die landbousektor ’n enorme hupstoot gegee vergeleke met verlede jaar.

Daar was ’n tydelike haakplek in indiensneming tussen die tweede en die derde kwartaal: 0,2%, oftewel 1 000, minder mense het in die landbou gewerk.

’n Hele 32 000, oftewel 3,9%, meer mense as ’n jaar gelede het egter in die sektor gewerk.

Dis niks om oor huis toe te skryf nie, sê die Agbiz-ekonoom Wandile Sihlobo: “Hoewel die data ’n betreklik positiewe prentjie skilder vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar, sien ons dit net as die normalisering ná ’n droogte in die Wes-Kaap, nie as robuustheid van werkskepping in die landbou nie.”

Werkskepping in die landbousektor is ’n kernpunt van pres. Cyril Ramaphosa se stimulus-en-herstelplan.

“Hoewel dit bemoedigend is in ’n klimaat waarin Suid-Afrika strategieë ondersoek wat werkskepping in die landbousektor kan ontsluit, is die land nog ver agter sy teiken om teen 2030 ’n miljoen landbouposte te skep, soos voorsien in die Nasionale Ontwikkelingsplan,” sê Sihlobo.

Sihlobo sê as onderbenutte grond in die voormalige tuislande en ander dele van die land nie ten volle begin produseer nie, met ’n fokus op arbeidsintensiewe gewasse, sal werkskepping in die landbou net ’n hersenskim bly.

Hoewel dit bemoedigend is in ’n klimaat waarin Suid-Afrika strategieë ondersoek wat werkskepping in die landbousektor kan ontsluit, is die land nog ver agter sy teiken om teen 2030 ’n miljoen landbouposte te skep.
Wandile Sihlobo van Agbiz

Volgens hom kan die daling in die derde kwartaal aan seisoenale faktore toegeskryf word.

Benewens in die Wes-Kaap het die landbou ook in die Oos- en Noord-Kaap, Noordwes en in Limpopo meer werk geskep.

In Gauteng het landbouposte baie skerp gedaal, met 22% vergeleke met ’n jaar gelede.

Die werkskepping is redelik verspreid en sluit vrugte en groente, veldgewasse en veeboerdery in. Wildplase, bosbou en akwakultuur het minder werknemers gehad, maar verteenwoordig ’n klein persentasie werknemers.

Sihlobo sê om werk in die landbou te skep, moet daar verskuiwings in beleid kom. Hy sê staats- of stamgrond moet meer produktief bewerk word.

Nog iets wat indiensneming in die sektor kniehalter, is die komende minimum loon. Hoewel dit aanvanklik vir plaaswerkers effens laer as die nasionale R20 per uur gaan wees, gaan dit veral groente- en vrugteboerdery, wat arbeidsintensief is, raak. Die Wet op die Minimum Loon moet nog net deur Ramaphosa onderteken word.

Sihlobo is lid van die adviesraad oor grondhervorming wat Ramaphosa onlangs aangestel het. Dan Kriek, president van Agri SA, en die beesboer Nick Serfontein is ook in dié paneel van tien mense.

Agri SA sê uitgebreide werkloosheid in landelike gebiede is gemiddeld sowat 41%, teenoor die landwye gemiddelde van 37,3%. “Landelike werkloosheid en dus die nasionale syfer kan grotendeels verlig word indien beleidsonsekerheid oor landbou soos onteiening sonder vergoeding dringend getakel word,” sê Hamman.

Werkloosheid in beeld.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.