Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landbou se vertroue styg tot rekordvlak

Die land se boere sien met groot verwagting en vertroue na 2021 se landbouseisoen uit.

Gunstige weerstoestande en ’n sterk Chinese vraag na landbouprodukte dryf vertroue in die plaaslike landboubedryf, volgens die jongste Agbiz-IDC indeks oor sakevertroue in die landbousektor. Foto: Alet van der Walt

Gunstige weerstoestande en ’n sterk Chinese vraag na landbouprodukte dryf vertroue in die plaaslike landboubedryf.

Die goeie nuus word weerspieël in ’n indeks wat dié sektor se vertroue meet.

Volgens Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (IDC) se vertrouensindeks vir die landbou is die vlak van vertroue vir die tweede kwartaal (75 punte) sy hoogste punt nog. Die indeks is in 2001 ingestel.

Die tweede kwartaal se vlak is selfs hoër as die 64 punte van die eerste kwartaal.

Boere sien uit na ’n baie goeie landbouseisoen, sê Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz. Daar is heelparty faktore wat volgens hom ’n rol kan speel in die verwagte buitengewone goeie landbouseisoen.

“Na alle verwagtinge gaan vanjaar se seisoen een van die bestes van die afgelope jare wees. Dit is veral die goeie weerstoestande wat tot die gunstige vooruitsigte bygedra het. Boere kon betyds plant en ook meer gewasse aanplant. Hoë kommoditeitspryse het ook met boere se finansies gehelp,” sê Sihlobo.

Die styging in vertroue moet gesien word in die lig van kommoditeitspryse wat plaaslik en internasionaal relatiewe hoë vlakke handhaaf, grootliks danksy die groeiende vraag uit China. Die droogte tans in Suid-Amerika dra ook tot die hoër pryse van kommoditeite by.

Die land se totale mielieoes sal byvoorbeeld waarskynlik vanjaar sowat 6% groter wees as verlede jaar en die sojaboon-oes die grootste oes nog.

Maar daar is steeds faktore wat die bedryf se verwagte groei kan kortwiek, soos verskeie siektes onder lewende hawe in die land wat deur rolspelers in die landbou beveg en bestuur moet word.

Agbiz
Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz.

“Die bedryf, hoewel in ’n goeie produksiejaar, moet veral meer fokus op biosekuriteit wat pluimvee en ander diere betref,” waarsku Sihlobo.

Voëlgriep, Afrika-perdesiekte, bek-en-klouseer en varkgriep is tans van die siektes wat boere in Suid-Afrika moet beveg.

“Hierdie siektes moet aandag geniet om die positiewe momentum vol te hou wat die bedryf tans ondervind.”

Die tweede kwartaal se peiling is in die eerste twee weke van Junie gedoen en sluit ook sake en sektore onderliggend aan landbou in.

Volgens Sihlobo gaan daar vanjaar ook hoër uitvoervolumes uit die landboubedryf kom, en die landbouprodukte wat tydens die eerste kwartaal van die jaar uitgevoer is, was klaar baie hoog.

Boere het ook meer bestee aan kapitaaluitgawes, soos die aankoop van toerusting en trekkers.

Volgens statistieke van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerievereniging (Saama) het boere meer as 500 trekkers in Mei gekoop; dit is 13% meer as in Mei verlede jaar.

Werkskepping in landbou

Die indeks ondersoek tien onderafdelings, waaronder indiensneming. Statistieke Suid-Afrika se onlangse werkloosheidstatistieke toon indiensneming in die landboubedryf het in die eerste kwartaal van 2021 afgeneem, maar die Agbiz-IDC-vertrouensindeks wys ’n toename in 23 punte vir sy afdeling oor indiensneming vir die tweede kwartaal.

Dié afdeling het nou 66 punte behaal en volgens Sihlobo kan dit ’n teken van hoop wees dat daar tog herstel in indiensneming in die landbousektor is.

“Die invloed wat die minimum loon op werkgeleenthede het, kan egter steeds ’n groot invloed op vertroue hê,” sê hy.

Die nuwe nasionale minimum loon van R21,69 per uur het in Maart vanjaar in werking getree en is nou ook op plaaswerkers van toepassing.

“Toe die verhoging in die minimum loon aangekondig is, was daar ’n mate van ongemak by rolspelers in die landboubedryf, veral by boere in die wynbedryf,” sê Sihlobo. “Dié bedryf moet reeds die afgelope ruk uitdagings in hul kontantvloei weens die drankverbod bestuur.”

Meer oor:  Agbiz  |  Nywerheidsontwikkelingskorporasie  |  Idc  |  Saama  |  Wandile Sihlobo  |  Landbou  |  Sakevertroue
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.