Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Landwye verbod knou vleisbedryf
Bek-en-klouseer is hoogs aansteeklik en kom voor onder diere met gesplete hoewe soos beeste, bokke, varke en skape.

Die vleisbedryf is verder geknou toe die regering Woensdag ’n landwye verbod op alle veilings en skoue van diere met gesplete hoewe ingestel het. Tot nou was die verbod net in Limpopo, Gauteng, Mpumalanga en Noordwes van krag.

Rolspelers in die bedryf verwelkom dié verbod as voorsorgmaatreël omdat enige verdere verspreiding van bek-en-klouseer die hele bedryf kan knak.

Bek-en-klouseer is hoogs aansteeklik en kom voor onder diere met gesplete hoewe soos beeste, bokke, varke en skape. In die jongste uitbreking, in November in Limpopo, is 11 persele met gevalle al geïdentifiseer.

Die departement van landbou sê al die gevalle hou verband met beeste wat op veilings was – vandaar die verbod. Al die persele en aanliggende gebiede is onder kwarantyn geplaas. Geen dier mag van of deur dié gebiede vervoer word nie.

Die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO) steun die drastiese voorkomingsmaatreëls. Koos van der Ryst, voorsitter, sê meer as 1 miljoen huishoudings in Suid-Afrika besit vee. Hul inkomste- en voedselsekerheid word geraak.

Hy sê dit is voorkomings- en nie strafmaatreëls nie. “Sodra die omvang van die uitbreking gefinaliseer is, moet die gebied wat geraak word, onmiddellik geïsoleer word.”

Dawie Marais, bemarking- en inligtingshoof van FNB Landbou, het volgens bizcommunity.com onlangs op ’n konferensie oor bioveiligheid in Pretoria gesê die geraamde weeklikse omset van veilinghuise in gebiede waar baie vleis geproduseer word, is sowat R180 miljoen.

Beefmaster, een van die grootste beesvleisprodusente in private besit in die land, steun ook die verbod omdat dit noodsaaklik is om die bedryf te beskerm. Roelie van Reenen, verskafferbestuurder van die Beefmaster-groep, sê hulle het simpatie met afslaerhuise wat vir die afsienbare toekoms nie sake sal kan doen nie. Indien daar aan sekere voorwaardes voldoen word, soos ’n bewys dat die diere gesond is, is die Beefmaster-groep se deure steeds oop vir afslaers, boere of agente wat nie hul diere op veilings kan verkoop nie.

Hy sê die Suid-Afrikaanse beesvleisbedryf voer minder as 5% van alle beesvleis wat geproduseer word, uit. As die siekte nie in bedwang gebring kan word nie, sal die grootste impak in die plaaslike mark gevoel word.

Die jongste uitbreking volg ná ’n uitbreking in Januarie wat daartoe gelei het dat Suid-Afrika se status as vry van bek-en-klouseer deur die internasionale dieregesondheidsorganisasie (OIE) opgehef is en verskeie lande toe beesvleis en verwante produkte uit Suid-Afrika verbied het. Suid-Afrika kon egter sekere handelsvennote, soos China, oorreed dat daar streng beheermaatreëls is om die verspreiding van die siekte te bekamp en hulle ontvang dus steeds Suid-Afrikaanse beesvleis en verwante produkte.

Die RPO het die minister van landbou gevra om dringend ’n ramptoestand af te kondig om te verseker almal hou hulle by die voorkomingsmaatreëls.

Van Reenen sê dit bied die geleentheid om meer formele naspeurbaarheidstrukture in te stel wat die bedryf sal beskerm en meer wêreldmarkte sal open.

Die RPO sê hy werk aan ’n vrywillige naspeurbaarheidstelsel vir die beesbedryf wat in Januarie bekendgestel word.

Die departement waarsku dat enigeen wat bek-en-klouseer versprei deur die vervoer van diere, siviel en strafregtelik aanspreeklik gehou kan word.

Meer oor:  Boerdery  |  Vleisbedryf  |  Beeste  |  Landboubedryf  |  Bek-En-Klouseer  |  Vleis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.