Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Lief vir wyn? Antwoord ‘sí’ en spaar

Te midde van beurtkrag, staatskaping en dreigende rommelstatus vir die land is daar dalk uiteindelik ’n bietjie goeie nuus: Wynpryse kan vanjaar daal - maar dan moet jy ’n slim verbruiker wees.

Gesondheid! Europese wyne kan vanjaar heelwat goedkoper word, en ook in die plaaslike wynbedryf is daar tekens dat die druk op wynpryse kan daal. Foto: Unsplash

Dis dalk nou die tyd om wyn te probeer wat uit Spanje en Argentinië ingevoer word. Maar ’n ooraanbod van wyn kan in die algemeen help om wynpryse in toom te hou, selfs van Suid-Afrikaanse wyne.

Volgens die Nederlandse finansiëlediensteverskaffer Rabobank International gaan die prys van onder meer Spaanse en Italiaanse generiese wyne in Europa vanweë ’n uitstekende oesjaar in 2018 aansienlik daal.

Ander uitvoer-gerigte internasionale wyne, soos dié van Argentinië, gaan ook waarskynlik goedkoper word, sê Rabobank in sy kwartaalverslag.

Die prysdaling van Argentynse wyn is hoofsaaklik weens die beduidende verswakking in die land se geldeenheid.

“Groothandel-wynpryse het reeds aan die einde van 2018 begin daal as gevolg van die impak van die groot 2018-oes in Europa, met die grootste dalings by Spaanse en Italiaanse wyne,” sê Stephen Rannekleiv in die bank se verslag.

Volgens hom gaan die suksesvolle Europese oes “in 2019 ’n beduidende impak op internasionale wynpryse hê”.

Rannekleiv waarsku egter dat “luukse” wyne waarskynlik nie dieselfde prysdruk sal ervaar nie, berig Bloomberg.

In Suid-Afrika is die druiwe-oes vir wyn effens groter as in 2018, maar nog nie groot genoeg om te praat van ’n oorvloed wyn op die mark nie.

Wynpryse styg volgens Statistieke Suid-Afrika op die oomblik teen gemiddeld 5,9% per jaar, grootliks weens die impak van die vorige paar jaar se Wes-Kaapse droogte.

Netwerk24 het voorheen berig die grootmaatpryse wat produsente verlede jaar vir wit- en rooiwyn gekry het, het skerp met meer as 20% gestyg, vergeleke met die 4% wat hulle gemiddeld die vorige 12 jaar gekry het.

As wynpryse wat produsente vanjaar kry weer so baie styg, sal hoër prysstygings aan verbruikers deurgegee word.

Lees ook: Duurder wyn is silwer randjie vir wynbedryf

Wandile Sihlobo, ekonoom en hoofnavorser by Agbiz, het op Fin24 geskryf die vooruitsigte vir die 2019-oes lyk baie beter. Dit kan die prys van plaaslike wyne mettertyd stadiger laat styg.

Wyn is ’n belangrike uitvoerproduk vir Suid-Afrika. In die lig van die verwagte goeie oesjaar tesame met die moontlike randswakheid kan die plaaslike wynbedryf vanjaar beter as in 2018 vaar, meen Sihlobo.

Kry maar solank die mooi wynglase uit – jy het dalk wel vanjaar iets waarop jy ’n heildronk kan drink.

Meer oor:  Wandile Sihlobo  |  Druiwe  |  Wyn  |  Wynbedryf  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.