Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Listeriose: Jy móét weet waar hoender vandaan kom
Die pak gevriesde hoenderstukke wat FairPlay aan die EU gewys het. Verskeie lande word aangedui as moontlike oorsprong van die stukke.

Suid-Afrikaanse verbruikers word deur ernstige gesondheidsrisko’s in die gesig gestaar weens ingevoerde hoendervleis – en boonop betaal hulle nie eens veel minder daarvoor as vir veiliger plaaslike hoendervleis nie.

Só sê die organisasie FairPlay, wat hom teen die storting van oorsese hoendervleis in Suid-Afrika beywer, in die lig van die listeriose-epidemie wat al minstens 67 lewens in Suid-Afrika geëis het en Maandagaand se Special Assignment-program oor die bedenklike praktyke by Brasiliaanse hoenderverwerkingsaanlegte.

Lees ook: Listeriose: Als oor dié dodelike siekte

’n Groot hoeveelheid hoender word van Brasilië ingevoer, asook van Europa. Hoender word ook uit die VSA ingevoer.

Plaaslike produsente glo dat hoender teen onder kosprys hier gestort word, wat die plaaslike hoenderbedryf laat kwyn. Duisende mense het in 2017 hul werk in dié bedryf verloor, lank voor die impak van die voëlgriepepidemie, wat hoofsaaklik eierprodusente geraak het.

FairPlay het in Desember ’n klag by Ebrahim Mohamed, die nasionale verbruikerskommissaris, ingedien nadat hy pakke ingevoerde bevrore hoenderstukke by Makro in Woodmead, Sandton, opgespoor het wat moontlik uit nege lande op drie vastelande afkomstig is. Volgens die etiket is die hoenderstukke afkomstig van enige van die volgende lande: Nederland, Duitsland, Argentinië, Brasilië, Brittanje, Frankryk, Spanje, Kanada en/of die VSA.

“Dit is gevaarlik vanuit ’n oogpunt van voedselveiligheid en naspeurbaarheid,” het Francois Baird, stigter van FairPlay, toe gesê. “In die geval van siekte of besmetting sal dit onmoontlik wees om hierdie produk na te speur tot by sy land van oorsprong en die betrokke uitvoerder of abattoir te vind.”

Die grootste probleem met die huidige listeriose-epidemie is juis dat die oorsprong van die dodelike bakteriële besmetting nog nie opgespoor kon word nie. Daar is tans geen bewys dat dit wel van ingevoerde of selfs van plaaslike hoenderprodukte kom nie. Listeriose kan ook deur vars groente en vrugte, vis of ander vleis oorgedra word.

Baird sê hulle is nie verras deur Special Assignment se onthullings nie. Dit wys hoe hoendervleis ontvries, weer bewerk en weer gevries word – stappe wat tot gevaarlik hoë vlakke van bakterieë kan lei.

“FairPlay het die regering gevra om dieselfde streng veiligheidsmaatreëls op ingevoerde hoender toe te pas as waaraan Suid-Afrikaanse produsente moet voldoen, met geen sukses tot dusver nie. Dié onafhanklike ondersoek na ingevoerde hoender bewys hoe belangrik dit is dat dié tydbom ontlont word.”

Die departement van landbou, bosbou en visserye en departement van gesondheid ondersoek plaaslike hoender van die plaas tot op die winkelrak.

Massimo de Luca, handelshoof van die Europese Kommissie se afvaardiging na Suid-Afrika met die pak gevriesde hoenders wat FairPlay vir hom gewys het.

Baird sê hulle het verlede jaar op ’n vergadering met verteenwoordigers van die Europese Unie (EU) ’n pak bevrore hoender getoon waarvan die land van oorsprong in Europa onmoontlik is om vas te stel. “Dis onverantwoordelik om die geloofwaardigheid van abattoirs duisende kilometers ver op sigwaarde te aanvaar wat betref voedselveiligheid; en om blindweg te vertrou dat die ketting van koudstoor-integriteit bewaar word, gegewe verskeping oor enorme afstande. Wanneer laas het die departement die bron-abattoirs in die EU en Brasilië besoek?”

Baird sê benewens die kommer oor etikettering en veiligheid, betaal plaaslike verbruikers nie regtig minder vir die “goedkoper” ingevoerde hoender nie.

FairPlay vind dit ook ironies dat die Vereniging vir Vleisin- en -uitvoerders (Amie) die departement van landbou hof toe wil sleep oor die toetse wat op bevrore rou vleis by die Durban-hawe gedoen word. “Amie kla dit neem te lank om alle invoer te klaar, wat hul sake raak. Maar kan enige kortpad toegelaat word wanneer verbruikers se veiligheid ter sprake is?” vra Baird.

Meer oor:  Fairplay  |  Eu  |  Vleis  |  Hoender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.