Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Lus vir wyn kwyn weens hoër pryse
Suid-Afrikaners koop al minder wyn. Foto: iSTOCK

Die drankmaatskappy Distell het in die drie maande tot einde September ’n daling aangemeld in die totale volume drank wat hy verkoop het.

Die maatskappy het in ’n handelsoorsig oor die eerste kwartaal van sy nuwe boekjaar wat Woensdag op sy jaarvergadering uitgereik is, gesê enkelsyfergroei is wel in sy inkomste getoon, ongeag die swakker verkope.

“Moeilike handelstoestande duur in Suid-Afrika voort, met verbruikersbesteding wat steeds onder druk is en wat ’n negatiewe impak op die hele kleinhandelsektor het.”

Die groep het ook in die boekjaar tot einde Junie geen volumegroei aangemeld nie, maar wel sy inkomste verhoog.

“Ons wyne se inkomste het nie gegroei nie weens die hoër druiwe- en wynpryse wat aan die verbruiker deurgegee is as gevolg van die impak van droogte op die oeste van 2018 en 2019,” lui die verklaring.

Die groep het in sy jaarverslag gesê wynpryse is met 12% verhoog, in ooreenstemming met die res van die bedryf.

Sekere hoofstroom- en premiewyne het in die eerste kwartaal “prysenswaardige inkomstegroei” getoon, ten spyte van die ekonomiese toestande.

Internasionaal het sy inkomste uit die verkope van premiewyne gedaal vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar vanweë die veranderinge wat aan sy bedrywighede gemaak word.

Sekere groot wynhandelsname se inkomste en volumes is egter beter in die belangrike wynmarkte soos Nederland, Duitsland en die Nordiese lande.

“Ons gaan voort om ons nuwe bedryfsmodel en portefeulje van wyne in sekere streke in werking te stel.”

In die jaarverslag is ook gesê volumes oorsee is benadeel deur prysverhogings weens die impak van die droogte plaaslik.

Die prysverhoging daar op die winkelrakke het sy volumes oorsee met 14% in die boekjaar laat afneem.

Die wynbedryfsliggaam Sawis het onlangs getoon in die jaar tot einde Augustus het die totale verkope van wyn in die binneland en wat uitgevoer is, met 16% of 135,6 miljoen liter gedaal.

In Suid-Afrika het die inkomste uit die verkope van Distell se alkoholiese koeldranke, waarby sy sider ingesluit word, verbeter en word markaandeel steeds van bier weggeneem. Sy bekende handelsname is Bernini, Extreme, Hunter’s en Savanna.

Die inkomste uit Distell se spiritualieë het ook in Suid-Afrika groei getoon.

In die res van Afrika is ook enkelsyfergroei in inkomste getoon.

In Kenia, Botswana, Zambië en Mosambiek is dubbelsyfergroei in inkomste en volumes gesien.

Distell se aandeelprys het Woensdag intradag met 1,2% tot R139,67 gestyg.

Meer oor:  Distell  |  Wynbou  |  Wyn  |  Wynbedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.