Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Mielie-oeste: Droogte laat SA bure ook ly

Die droogte waaronder groot dele van Suid-Afrika se mielieproduserende gebiede deurloop, teister ook buurlande en kan, soos in Suid-Afrika, tot kleiner of selfs misoeste in Zimbabwe, Zambië en Malawi lei, sê Wandile Sihlobo, landbou-ekonoom van Agbiz.

Zimbabwe se mielieproduksie kan in die 2018-’19-seisoen met 45% tot 1,2 miljoen ton daal teenoor ’n jaar gelede. Foto: Mlungisi Louw

Sihlobo skryf die afgelope week in ’n markoorsig dié lande se 2018-’19-mielieproduksie kan met dubbelsyfers daal teenoor die vorige jaar.

Dít volg in dieselfde week waarin dr. Tsakani Ngomane, adjunk-direkteur-generaal van omgewingsake, na ’n spesiale VN-verslag verwys het waarin die Suider-Afrika-streek as ’n brandpunt van klimaatsverandering geïdentifiseer word.

Luidens die “SR1.5”-verslag deur die VN se interregeringspaneel oor klimaatsverandering (IPCC) kan die negatiewe uitwerking van hittegolwe, brandgevaar en gereelde droogtes op landbou en watersekerheid in die streek versag of vermy word as aardverwarming tot 1,5 °C beperk kan word.

Ngomane het in Durban gepraat in ’n sessie van ’n werkgroep van die IPCC. Die werkgroep het die afgelope week voorbereidende werk gedoen vir sy bydrae tot ’n reeks verslae wat klimaatsverandering sal assesseer.

Sy het gesê in Suid-Afrika is temperature in die binneland reeds sowat 2 °C hoër as ’n eeu gelede, wat beteken temperature hier styg sowat twee keer so vinnig as in die res van die wêreld.

In Botswana styg temperature teen sowat 3 °C per eeu. Dit maak Botswana een van die streke met die vinnigste stygings in temperatuur in die hele Suidelike Halfrond.

Wandile Sihlobo, ekonoom van Agbiz.

Ngomane het gesê die werkgroep moet beleidmakers help om die uitwerking van klimaatsverandering op landbou, watersekerheid, die vraag na energie, menslike gesondheid en biodiversiteit in verskillende streke te ontleed en om die ekonomiese impak van klimaatsverandering te bereken.

Luidens “SR1.5” sal die impak op ekonomiese groei die ergste in ontwikkelende lande in die tropiese gebiede in die Suidelike Halfrond wees.

Volgens Sihlobo wys data van die Internasionale Graanraad Zimbabwe se mielieproduksie kan in die 2018-’19-seisoen met 45% tot 1,2 miljoen ton daal teenoor ’n jaar gelede.

Omdat Zimbabwe se surplusvoorraad van sowat 458 000 ton van die huidige bemarkingsjaar (wat tot einde April duur) nie genoeg sal wees om die 2018-’19-oes genoegsaam aan te vul nie, kan hulle ’n netto invoerder van mielies bly.

Sihlobo sê Zimbabwe se jaarlikse mielieverbruik wissel tussen 1,8 miljoen en 2 miljoen ton. Die waarskynlikste leweransiers sal Zambië en Suid-Afrika wees, ongeag ’n swakker oes wat vanjaar ook in Suid-Afrika verwag word. As Suid-Afrika dié seisoen minstens 8 miljoen ton kan lewer, behoort dit genoeg voorraad vir die hele 2019-’20-bemarkingsjaar te wees, aldus Sihlobo.

Meer oor:  Wandile Sihlobo  |  Malawi  |  Zimbabwe  |  Zambië  |  Landbou  |  Graan  |  Droogte  |  Klimaatsverandering  |  Kospryse  |  Mielies  |  Mielie-Oes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.