Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Mielies nog nat; stropery moet wag

Spog-oeste wag vanjaar op die meeste graanboere in die Vrystaat en Noordwes, maar boere sal nog ’n bietjie geduld moet hê voordat die oes van die lande kan kom.

Werner Rossouw van Silo Strat, ’n landboumaatskappy in Welkom, sê die meeste boere het reeds klaar sojabone gestroop en die oeste lyk baie goed in die sentrale en westelike dele van die Vrystaat.

Boere het reeds begin sonneblom stroop en die oeste lyk goed. Dié foto is op Louw Engelbrecht se plaas buite Koppies in die Vrystaat geneem.

Die boere wat begin sonneblom stroop het, se oeste lyk baie goed, sê Rossouw. Dit lyk asof die land sy derde beste sonneblomoes tot nog toe gaan afhaal, sê hy. Heelwat boere het reeds soveel as 3 ton per hektaar gestroop.

Rossouw sê die mielies het nog te veel vog en hy glo boere gaan vanjaar nog tot baie laat stroop.

“Dit het so goed gereën dat daar boere is wie se stropers nou nog vasval in die lande,” sê hy.

Hy glo die meeste boere sal eers in die tweede helfte van Junie begin mielies stroop.

“Die opbrengste lyk skitterend en ons verwag die tweede grootste mielieoes tot dusver en ook van die beste opbrengste per hektaar.”

Die Vrystaat se westelike en sentrale dele het rekordopbrengste en boere skat dat hulle tot 6,4 ton mielies per hektaar gaan afhaal.

“Ongelukkig het dele van die Noordoos-Vrystaat in ’n stadium ’n droë periode gehad en boere rondom Heilbron, Frankfort en Villiers se opbrengste is nie so goed nie,” sê Rossouw. Dit is ook die geval in Mpumalanga.

Die meeste sonneblomme het betyds klaar geblom voordat die winterkoue sy kop uitgesteek het. Foto: Alet van der Walt
Heelwat boere het al begin sonneblom stroop, maar die mielies se voginhoud is nog te hoog in die meeste gebiede. Hierdie foto is op Louw Oosthuizen se plaas naby Koppies geneem.

Boere in Noordwes gaan vanjaar ook rekordoeste hê; alles het vir hulle reg verloop en hulle kon vroeër as die Vrystaat plant, sê hy.

Doors Kruger van Silostrat sê die meeste mielies is nog nie droog genoeg nie, maar meulenaars is so haastig vir witmielies dat hulle mielies met 15% vog aanvaar; normaalweg vereis hulle 14%.

Hoewel daar nog witmielies in Mpumalanga se silo’s is, sukkel meulenaars in die Vrystaat om genoeg mielies te kry.

“Die ryptoestande van die afgelope week het baie gehelp om die mielies se voginhoud ’n bietjie af te bring,” sê Kruger.

Rossouw sê vanjaar se oordragvoorraad is net 1 miljoen ton, wat baie laag is, maar die huidige mielieoes is baie goed. Hy glo Suid-Afrika sal volgende jaar meer mielies vir oordragvoorraad hê.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens sê in sy nuutste voorspelling dat dit volgende week weer warmer sal wees en minimum temperature van bo vriespunt word voorspel.

Meer oor:  Vrystaat  |  Noordwes  |  Landbou  |  Mielies  |  Sojabone  |  Stropery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.