Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Minder ryp kan saaiboere kniehalter

Hoewel ryp vir die res van Junie en Julie in die binneland voorspel word, kan minder koue toestande weens klimaatsverandering wintersaaiboere, asook neut-, vrugte- en druiweboere, kniehalter.

Die eerste ryp het vroeër vandeesmaand ’n appelboom op die plaas Lowerland in Prieska in die Noord-Kaap in sy greep gehad. Bertie Coetzee, ’n boer van dié plaas, beskryf dit as ’n baie vroeë winter in dié distrik.Foto: Bertie Coetzee

Johan van den Berg, landbouweerkundige by Santam Landbou, sê die aantal rypdae het afgeneem in die laaste paar jaar, wat risiko’s vir rypskade later in die seisoen inhou.

“Bethlehem in die Oos-Vrystaat het net 68 dae met ryp in 2018 gehad teenoor die gemiddeld van 88 dae,” sê hy.

Bloemfontein het verlede jaar 42 dae met ryp gehad teenoor die gemiddeld van 77 dae.

Daar is ’n neiging, sê hy, van minder intense winters en koue en ryp wat later as normaalweg voorkom.

Daar is egter ook sikliese voorkomste van reën en sekere temperature wat sekere groepe jare kenmerk.

“Dit is dus gevaarlik om te veralgemeen dat elke seisoen se winters minder koud gaan wees en dat die seisoen ook laat gaan wees.

“Maar met die neiging van ’n warmer wordende aarde is dit meer waarskynlik dat temperature in die algemeen ietwat warmer is.”

Hy voorspel ’n ysige tydperk vanaf die naweek tot einde Julie met minimum temperature onder vriespunt vir die meeste dorpe, wat tot voordeel is vir wintersaaiboere in die Vrystaat.

“Gewoonlik is ’n koue Junie en Julie met meegaande ryp ’n aanduiding dat die winter homself ‘uitwoed’ en die kanse vir ryp in September en Oktober, wanneer rypskade kan voorkom, verminder.”

Vir Bethlehem is die gemiddelde minimum temperatuur vir Junie -2.5 °C en vir Julie -2.6 °C.

“Daar kan verwag word om ongeveer 80 dae te kry waar ryp sal voorkom.”

Vir Glen naby Bloemfontein is daar gemiddeld 77 dae met ryp met Junie -1.2 °C en Julie -1.6 °C.

Martin Viljoen het dié foto geneem toe die eerste yskoue wintersoggende hom op sy plaas Braklaagte buite Bothaville in die Vrystaat begroet het. Foto: Martin Viljoen

Dit, sê Van den Berg, is baie positief, want dit sal bogrondse groei vertraag, maar wortelontwikkeling stimuleer, asook help vir spruitvorming by wintergewasse, veral koring.

Vanjaar se minimum temperature sal volgens hom vanaf die naweek tot omtrent 5 Julie ver onder vriespunt daal.

“Dit is goed vir gewasse soos koring, maar ook neute, druiwe, perskes, kersies en ander steenvrugte het ’n sogenaamde kouebehoefte wat bevredig moet word.”

Dit lei tot goeie produksie in die somer.

“Baie koue toestande voorkom ook dat peste en plae te maklik oorwinter,” sê Van den Berg.

Heinrich Botha van die plaas Mc Grathspark buite Bultfontein sê hulle het die laaste twee weke amper elke dag ryp gekry.

“Ons is baie positief en opgewonde oor die koringseisoen. Die hoë markpryse vir mielies en koring stel ons ook in staat om goed te kan bemark om verliese te beperk.”

Van den Berg waarsku een van die groot gevare van droëlandkoring in die Vrystaat is dat aanplantings te vroeg begin en dat daar te vinnige groei en ontwikkeling plaasvind voor die winter waaraan die ryp dan kan skade aanrig.

Ryp ‘nie altyd sigbaar’

* Ryp, sê Van den Berg, is wanneer die oppervlak van die aarde en aardgebonde voorwerpe se temperatuur onder vriespunt of 0 °C daal.

“Dus kan ons nie altyd ryp sien nie, want daar is verskillende soorte ryp. Wit ryp soos ons ‘ryp’ ken, is as daar genoeg vog in die lug is om te vries op voorwerpe of die aarde se oppervlak wanneer die temperatuur onder vriespunt daal.

“Daar kan egter ryp voorkom sonder dat dit sigbaar is as yskristalle. Swartryp kom voor wanneer die lug baie droog is of as die wind waai en die aanvoelbare temperatuur daal benede vriespunt.

“Dan beskadig dit die selle in plante se blare en word die blare sommer swart en vrek. Interessant is dat daar ’n verskil is tussen plante en selfs binne plantfamilies ten opsigte van rypgevoeligheid.

“Dit word bepaal deur die chemiese samestelling van die sap. Dieselfde spesie plante se gevoeligheid kan ook verskil, want plante onder stremming kan meer skade opdoen as ander plante wat beter groei.”

Meer oor:  Johan Van Den Berg  |  Ryp  |  Landbou  |  Klimaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.