Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Misdaad: 'Landbou verloor só R7,72 mjd.'

Weens ’n skerp toename in produk- en veediefstalle, asook die onwettige slagting van vee en plundery op plase ly Suid-Afrika se landbousektor groot verliese.

“Die gesamentlike verliese weens landbouverwante misdaad is ongeveer R7,72 miljard, waarvan veediefstal, volgens die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, nagenoeg R1,4 miljard per jaar beloop,” het Tommie Esterhuyse, voorsitter van Agri SA se sentrum vir uitnemendheid en landelike veiligheid, Woensdag in ’n verklaring gesê.

Volgens hom het misdaad op plase die afgelope paar weke ná die verslapping van die nasionale inperking opgevlam.

Foto ter illustrasie.

“Misdadigheid beïnvloed nie net die boere nie, maar ook plaaswerkers en die landelike gemeenskap, wat niks anders as ’n ekonomiese en emosionele aanval op die landbou is nie,” meen Esterhuyse.

Volgens hom gaan misdaad moontlik oor die volgende paar maande toeneem. Bydraend is die vrylating van gevangenes, werkloosheid en die gepaardgaande armoede.

“Groot suksesse is egter die afgelope tyd behaal in die inhegtenisneming van verskeie groepe wat by veediefstalle betrokke was. Danksy goeie samewerking tussen die boere en die polisie is suksesse ook met die inhegtenisneming van ’n groep onwettige jagters met honde in die Oos-Kaap behaal.”

Hy meen die bekamping van misdaad op plase is nie net noodsaaklik vir stabiliteit in die land as geheel nie, maar ook vir voedselsekerheid.

Volgens Esterhuyse bestee die boerderygemeenskap jaarliks bykans R1,9 miljard om hulle teen misdaad te beveilig.

“Onlangs is 15 landelike beveiligingsprojekte ter waarde van sowat R1,9 miljoen in vyf provinsies goedgekeur. Hierdie projekte is tot voordeel van meer as 990 boere en 7 000 plaaswerkers. Die projekte behels hoofsaaklik die installering van kamera- en radiostelsels. Dit is duur tegnologie wat moeilik deur die boere gefinansier kan word.

“Die tegnologiese hulpmiddele en die inligting wat daarmee verkry word, dra ook by tot die sukses wat die polisie met inhegtenisnemings behaal.”

Hy het weer ’n beroep gedoen op boere om nie hul waaksaamheid te verslap nie, maar aktief by hul plaaslike georganiseerde landbou-en-veiligheidstrukture betrokke te raak.

“Agri SA het intussen ’n dringende versoek om ’n gesprek tot die polisie gerig om die inwerkingstelling van die reservistestelsel, die volle inwerkingstelling van die nasionale landelike beveiligingstrategie en die omvang van die onwettige jag met honde te bespreek.”

Meer oor:  Agri Sa  |  Tommie Esterhuyse  |  Boere  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.