Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Monster-mielieoes en nóg goeie nuus
Jong mielieplante buig hul koppe na die ooste asof in gebed in ’n westewind wat laatmiddag naby Abrahamskraal wes van Bloemfontein waai. Foto: Charles Smith

Suid-Afrika verwag vanjaar sy derde grootste mielieoes in die geskiedenis.

Boonop gaan boere baat vind by veel laer brandstofpryse in Mei en, danksy samewerking tussen Transnet en georganiseerde landbou, word vragskepe met noodsaaklike swaar landboumasjinerie en chemikalieë nou in hawens toegelaat.

Omri van Zyl, uitvoerende direkteur van Agri SA, sê die landbousektor verwelkom die regering se aankondiging dat die hele landbou-waardeketting vrygestel is van enige inperkings, met uitsondering van die verkope van alkohol en tabak.

Agri SA is dankbaar vir die samewerking met Transnet “wat uit sy pad gegaan het” om vragskepe in hawens toe te laat. Boere in die Wes-Kaap en Graan SA se kommer dat landboumasjinerie en chemikalieë wat noodsaaklik is vir die voorbereiding van graanlanderye in die Wes-Kaap nie betyds sou aankom nie, is dus bygelê, sê Van Zyl in ’n verklaring.

Maatskappye wat landboumasjinerie invoer, kon ook met Agri SA se hulp permitte van die regering bekom om abnormale vragte te vervoer en kon ingevoerde landboumasjinerie betyds vir die stroopseisoen by hul klante aflewer.

Nog goeie nuus vir die sektor is dat die konstruksie van infrastruktuur op plase en deur agribesighede ook goedgekeur is, lui die verklaring.

Die toegewings as deel van die vlak 4- inperking om die verspreiding van Covid-19 te bekamp, kom ná syfers die afgelope week van die nasionale oesskattingskomitee dat ’n kommersiële mielieoes van 15,2 miljoen ton verwag word.

Dit is 35% groter as die 2019-oes, sê die komitee.

Paul Makhube, senior landbou-ekonoom by FNB Agri-Business, sê die verwagte mielieoes sal die derde grootste in die land se geskiedenis wees.

Die hoogste was in 2016-’17, toe 16,8 miljoen t geoes is.

Die totale verwagte oes vir somergewasse vir die 2019-’20-seisoen is 17,5 miljoen t, 2,61% meer as die komitee se vorige oesskatting ’n maand gelede.

Ander somergewasse waar ’n beter oes as verlede maand se skatting verwag word, is sojabone (+1,7% tot 1,3 miljoen t) en grondbone (+11,43% tot 62 470 t).

Die produksieskatting vir sonneblomsaad is onveranderd op 731 210 t.

Makhube sê dis goeie nuus vir verbruikers omdat dit voedselinflasie in toom sal hou. Inflasie op kos en nie-alkoholiese drinkgoed was in Maart 4,2% op ’n jaargrondslag.

Hy sê die verlaging in die brandstofprys van tot R1,30 per liter petrol en sowat R2 per liter diesel beteken laer koste vir boere, wat nou moet plant en oes.

Dit sal ook goedkoper wees om kos te versprei. Meer as 80% van Suid-Afrika se graan word per pad vervoer.

Sowel Agri SA as die Rooivleisprodusente-organisasie verwelkom dit dat veeveilings op vlak 4 van die inperking kan voortgaan op voorwaarde dat streng higiëniese voorsorgmaatreëls geld en ’n maksimum van 50 mense ’n veiling bywoon.

Ander landbouprodukte soos wol en katoen kan ook opgeveil word.

Van Zyl sê kritieke landboudienste soos navorsing, inspeksies, sertifisering en gehaltebeheer is ook van enige inperkings vrygestel. Wyn en verskeie ander landbouprodukte kan uitgevoer word.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, het dié week in sy markoorsig geskryf vrese neem toe oor moontlike groter voedselonsekerheid in Afrika vanjaar, onder meer weens inperkings, swak oeste en verswakkende geldeenhede.

Volgens hom het Zimbabwe in 2019 onder droogte en oorstromings deurgeloop en stapeloeste is gehalveer. Die 2020-produksieseisoen het in soortgelyke slegte toestande begin. Die Internasionale Graanraad raam Zimbabwe se 2019-’20-mielieoes op 800 000 t. Dit is minder as die helfte van die land se jaarlikse verbruik van 2 miljoen t.

Sihlobo sê Suid-Afrika is ’n sterk landbouland en in die algemeen ’n netto uitvoerder van landbou- en kosprodukte.

Ondanks probleme in die vleisverskaffingsketting in Amerika, Brasilië en Kanada word geen probleme vir Suid-Afrika voorsien nie omdat die land min op vleisinvoer staatmaak, veral van beesvleis.

Suid-Afrika se jaarlikse mielieverbruik is sowat 11 miljoen t, wat veel minder is as vanjaar se oes van sowat 15 miljoen t wat verwag word.

Die Verenigde Nasies waarsku die getal mense wêreldwyd wat weens die ontwrigting van die koronavirus nie toegang het tot voedsame kos nie, kan tot 265 miljoen verdubbel.

Meer oor:  Boerdery  |  Voedsel  |  Mielies  |  Landbou  |  Mielieoes  |  Graan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.