Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Moody’s onttrek sukkelende Landbank se graderings

Die kredietgraderingsagentskap Moody’s het Woensdag al die graderings van die Landbank onttrek.

Ten tyde van die onttrekking het die Landbank ’n gradering as onderneming gehad, een as ’n uitreiker van langtermyn-skuldinstrumente, asook ’n nasionale een vir die uitreiking van skuldbriewe.

Die vooruitsig van die uitreiker van die skuldbriewe was negatief.

Moody’s voer aan hy het die besluit geneem om sy eie bedryfsredes.

Die Landbank het egter later in ’n verklaring gesê hy het self die besluit geneem om die dienste van Moody’s as kredietgraderingsagentskap te kanselleer.

Die Landbank sê die ooreenkoms wat hy probeer bereik met sy krediteure sal nie ’n kredietgradering benodig nie en daarom het hy die besluit geneem.

Die Landbank se genoteerde skuldbriewe bly opgeskort tot verdere kennisgewing. Die Landbank het twee skuldbriefprogramme op die JSE se skuldmark waaronder hy skuldbriewe uitreik – een vir R20 miljard wat in Oktober 2010 afgeskop het en een vir R30 miljard wat in Maart 2017 van stapel gestuur is. 

Die Landbank het 26 Februarie aangekondig die notering van die skuldbriewe word opgeskort omdat die onderhandeling in die stadium vereis dat sy bestaande leners “sekere pryssensitiewe en kommersieel sensitiewe inligting” moet hersien. Die bank wil nie dié sensitiewe inligting met die mark in die algemeen deel nie.

Die Landbank probeer al sedert April verlede jaar sy skuld herstruktureer nadat hy ’n wanbetaling op ’n terugbetaling aan skuldbriefhouers begaan het.

Die voorneme was om ’n oplossing vir die herstrukturering van sy skuld teen einde Augustus 2020 te vind.

Daar word tans oor die derde voorstel onderhandel, maar die groot batebestuurder Futuregrowth sê elke voorstel het al hoe meer beleggers wat geld geleen het aan die Landbank in ’n swakker posisie geplaas.

Einde Maart is daar boonop ’n belangrike sperdatum wat deur die hooggeregshof in Desember gestel is vir wanneer ’n oplossing bereik moet word. Die implikasie van die sperdatum is dat die Landbank, voor ander krediteure, sowat R400 miljoen aan Standard Chartered Bank moet terugbetaal, en ’n oplossing moet bereik word.

Futuregrowth glo dit verhoog die kans dat ’n wanordelike proses van wanbetalings kan volg.

“Skuldbriefhouers het al vir lank gewaarsku lang uitgerekte onderhandelinge oor die Landbank gaan ’n besmettingsrisiko vir ander staatsondernemings meebring,” sê Olga Constantatos, hoof van krediet, en Craig Ivy, ’n ontleder van Futuregrowth, in ’n nuusbrief.

Boonop het die Landbank in die nege maande tot einde Desember ’n skerp agteruitgang in sy nie-presterende lenings gesien.

“Die huidige inligting dui op ’n kommerwekkende, snelle agteruitgang van die gehalte van die leningsboek, wat, as dit nie stopgesit word nie, ’n groot invloed gaan hê op die invordering van amper R38 miljard se uitstaande lenings. By implikasie ook op die kontant wat uit die boek geskep word om skuldbriefhouers terug te betaal onder die hersiene herstruktureringsopsie.”

Meer oor:  Moody's  |  Kredietgradering  |  Landbank  |  Skuld  |  Staatsonderneming  |  Herstrukturering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.