Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Moody’s steeds negatief oor Landbank

Niks het verander ten opsigte van die internasionale kredietgradeerder Moody’s se beskouing oor die vooruitsig van die kredietgradering van die Landbank nie.

Moody’s het einde Februarie die vooruitsig oor die Landbank se kredietgradering van stabiel na negatief verander. Dit beteken daar is ’n groter kans dat sy kredietgradering met ’n komende kredietbesluit afgradeer kan word.

Sowat R9 miljard van die Landbank se skuld bevat ’n klousule dat “onteiening” ’n voorval van wanbetaling aandui. Die Landbank het in sy 2018-jaarverslag gewaarsku as grondonteiening sonder vergoeding plaasvind en die bank se regte as 'n krediteur kan nie beskerm word nie, sal hy dadelik die R9 miljard aan sy leners moet terug betaal.

Dit is die tweede kredietmening wat Moody’s uitspreek ná dié vooruitsig verander is, maar die kredietgradering is onveranderd gehou.

Die bevestiging van die kredietgradering hou hoofsaaklik daarmee verband dat Moody’s glo daar is ’n hoë waarskynlikheid dat die regering die Landbank sal red indien nodig.

“Die bedryfstoestande bly moeilik, insluitende die verwikkelinge rondom grondhervorming,” lui die verklaring.

Swak implementering van planne kan daartoe lei dat die lenings aan boere en landboukoöperasies waarmee probleme ondervind word, kan toeneem.

Dit sal ook veroorsaak dat beleggersvertroue in die Landbank verloor word en sy finansieringsbronne opdroog, volgens Moody’s.

Sowat R9 miljard van die Landbank se skuld bevat ’n klousule dat “onteiening” ’n voorval van wanbetaling aandui. Dit beteken as grondonteiening sonder vergoeding plaasvind en die Landbank se regte as krediteur word nie beskerm nie, hy dadelik die R9 miljard aan skuldbriefhouers sal moet terugbetaal, het die bank verlede jaar in sy jaarverslag gewaarsku.

“Ons verstaan egter dat die regering se planne met dié strategie is om dit op so ’n wyse uit te voer dat produktiwiteit behou word en voedselsekerheid nie bedreig word nie, hoofsaaklik deur dit op onbenutte en staatsgrond toe te pas,” lui Moody’s se kredietmening.

Moody’s kyk na die bank se lenings wat nie terugbetaal word nie en dié wat swak terugbetaal word as persentasie van die totale lenings.

In Maart was dit onderskeidelik 6,7% en 7,6%.

Sy kapitaaltoereikendheidsverhouding word ook bekyk. Dit is ’n maatstaf van ’n bank se beskikbare kapitaal uitgedruk as ’n persentasie van ’n bank se bates op ’n risiko-geweegde grondslag. Dié risiko-geweegde grondslag is om te bepaal wat die minimum bedrag kapitaal is wat ’n bank moet hou, luidens Investopedia.

Die doel is om deposante te beskerm en stabiliteit in die finansiële stelsel te behou.

In Maart het Moody’s gesê die Landbank se 17,3% kapitaaltoereikendheidsverhouding is net ’n “matige kussing” vir die 15%- minimum vereiste wat die leningsooreenkomste stipuleer.

Beleggers in die Landbank se skuldbriewe sluit in batebestuurders wat aftreefondse bestuur.

Die Landbank het einde Maart in ’n brief wat op sy webtuiste gepubliseer is, gesê ’n suksesvolle veiling van skuldbriewe is gehou en R1 miljard is uit die plaaslike kapitaalmark ingesamel. Dit is beskou as ’n teken dat daar steeds beleggersvertroue in die bank is.

“Dít ten spyte van die agtergrond van beleidsonsekerheid oor grondhervorming en die huidige ongunstige weerstoestande wat waarskynlik tot ’n swakker as gemiddelde oes vir somergewasse gaan lei.”

Die bank het meer as R3,38 miljard se aanbiedings vir die skuldbriewe gekry. Daarvan was 93% binne die vereiste terme, wat “effektief finansiering verskaf het teen beter koerse as ses maande gelede”.

Bennie van Rooy, die Landbank se waarnemende uitvoerende hoof, het in Mei ná vyf maande in die pos bedank.

LEES OOK: Landbank se waarnemende hoof bedank ná vyf maande.

’n Nuwe waarnemende uitvoerende hoof is aangestel en die direksie het beloof hulle sal saam die minister van finansies die aanstelling van ’n permanente uitvoerende hoof versnel.

Dit is meer as twee maande later en nog geen verdere aankondiging het gevolg nie.

Van Rooy is intussen aan die begin van Julie as die hoof van Grobank aangestel, volgens ANA.

Grobank was voorheen South African Bank of Athens. Die bank gaan nou op landbou fokus.

Meer oor:  Moody's  |  Landbank  |  Grondondeiening  |  Skuldbriewe  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.