Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Moorreesburg skud reeds vere reg

Duisende mense gaan volgende maand weer na die Swartlandse dorp Moorreesburg stroom vir die jaarlikse Swartlandskou. Jacques Bester, die president van die skou, deel ’n paar gedagtes in die aanloop tot dié groot landbougebeurtenis.

Moorreesburg dié plek om te wees: Die Swartlandskou vier vanjaar sy 84ste bestaansjaar. Foto’s: VERSKAF

Septembermaand is om die draai en die Swartland is besig om ’n mooi kleurvolle baadjie aan te trek.

Met 2017 nog vars in alle landbouers se gedagtes, het ons Liewe Vader net vanjaar kom wys dat die hef in Sy genadige hand lê.

Ons dank Hom met oorgawe vir Sy seëninge.

Moorreesburg, as ’n plattelandse dorp, is só afhanklik van die genadige reën van bo dat jy sommer die positiewe gevoel in jou dorp kan aanvoel.

Die Swartlandskou vier vanjaar sy 84ste bestaansjaar en bars nóg verder uit sy nate. Van die mooiste perde, beeste, skape en boerbokke gaan vanjaar ten toon gestel word – in ’n nóg groter formaat as ander jare.

Hoe ry die Swartland se boere . . . ’n Verskeidenheid perdekampioenskappe word elke jaar op die Swartlandskou aangebied.

Wat word uitgestal?

Uitstallers vanoor die hele Wes-Kaap heen sal oor die vier dae op Moorreesburg te sien wees, en die masjinerie-afdeling alleen sal nagenoeg R300 miljoen beloop.

Die uitstalruimtes is tot barstens toe vol en uitstallers gaan vanjaar ywerig kompeteer om die beste tentoonstelling voor te hou.

’n Uitstalling deur die Wes-Kaapse departement van landbou, in samewerking met die nywerheidsafdeling, is een van die nuwe toevoegings tot die propvol skouprogram dié jaar.

Die maatskappy Villa bied weer ’n boeredag soos van ouds aan waar belangstellendes graanproewe kan besigtig en demonstrasies van landboumasjinerie gedoen gaan word.

Kos en klank

Hoesê?

Die Swartlandskou word van 5 tot 8 September op Moorreesburg aangebied. Vir nader besonderhede en die volledige skouprogram, besoek die webwerf by www.swartlandskou.co.za.

Ten spyte van ekonomiese druk, bly donateurs, borge, uitstallers, besoekers en die gemeenskap die skou nog ondersteun. Daarvoor is ons as die skou-organiseerders baie dankbaar.

Met ’n besonderse groep Suid-Afrikaanse kunstenaars en goeie klank, sal die vermaak in die Wyntuin vanjaar weer eens iets wees om te beleef.

Daar gaan ’n feesatmosfeer heers wat elke skouganger moet ervaar, en daar gaan selfs ’n area vir die kinders ingerig word sodat die ouers kan ontspan.

Vermaak vir die hele familie word gewaarborg!

Perde, beeste, skape en . . . pluimvee: Die goed toegeruste pluimveesaal op die Swartlandskou is baie gewild en nagenoeg 80 verskillende rasse pluimvee word elke jaar ingeskryf.

Tot weersiens . . .

Vanjaar is die laaste jaar wat ek aan die hoof staan van ’n skoubestuur om op trots te wees.

Ek wil graag elke bestuurslid bedank vir jul bydrae en bereidwilligheid.

Sonder jul onbaatsugtige diens, sou dit nie moontlik gewees het om ’n aanbieding van só aard en op só standaard voor te hou nie.

Ek nooi almal graag uit om die skou vanaf 5 tot 8 September te besoek.

Kom geniet die verskeidenheid kos, die gasvryheid, liefde en styl van die Swartlandskou.

Het jy geweet?
  • Moorreesburg is gestig op die plaas Hooikraal en het in 1898 dorpstatus en in 1909 munisipale status verkry.
  • Die eerste boere wat in die Moorreesburg-omgewing begin boer het, was Jan van Zyl en Klaas Hendrik Diepenouw van Nederland. Dit was in 1709.
  • Die Swartlandskou was aanvanklik net ’n klein samekoms van plaaslike boere wat idees uitgeruil het oor saaimetodes en hoe om beter oesresultate te verseker.
  • In die 1920’s is die eerste skou­byeenkoms van perde in Hooikraal, noord van Moorreesburg, gehou.
  • Die terrein het later te klein geword en is in 1933, as die Moorreesburg-skouvereniging, verskuif na die ou amptelike skougronde oos van Rosenhof by die ingang na Piketberg.
  • In 1972 is die nuwe skougronde, waar die Swartlandskou vandag nog aangebied word, in gebruik geneem.

    Bron: Carina Koch / www.swartlandskou.co.za

Swartlandskou: Dít moet jy weet
  • Moorreesburg is ’n bietjie meer as ’n uur se ry vanaf Kaapstad langs die N7.
  • Die skoutye is Woensdag vanaf 07:00 tot 17:30 en Donderdag tot Saterdag vanaf 07:00 tot 18:00.
  • Toegangskaartjies kos tussen R40 en R100 per persoon per dag. Kinders tussen 5 en 18 jaar betaal R30, terwyl toegang vir pensioentrekkers R20 kos. Kinders jonger as vyf jaar kry gratis toegang. Spesiale gesins­pakkette is ook beskikbaar.
  • Kry kaartjies by Computicket.

Van die hoogtepunte is:

  • ’n Formele maskerbal-dans waarmee die skou op 31 Augustus begin, waar die jaarlikse skoukoningin en haar prinsesse aangewys word. ’n Driegangmaaltyd word ook voorgesit.
  • ’n Groot loopbaanuitstalling wat vanjaar deur die Wes-Kaapse departement van landbou aangebied word, wat daagliks deur skoolgroepe besoek gaan word. Daar gaan ook inligtingsessies en opleidingskursusse vir landbouwerkers gehou word.
  • ’n Boeredag waar graanproewe, sowel as die jongste landboutegnologie, te sien sal wees. Die Swartlandskou bied dit aan in samewerking met Villa.
  • ’n Vrouedag, wat op Donderdag, 6 September, gehou word. Sowat 450 vroue word daar verwag. Die gaskunstenaars Jo Black en Melanie B gaan optree.
  • Die volgende kampioenskappe is ook gewild: die Swartlandstreek-jeugskou, SA Vlaamperdkampioenskap, Wes-Kaapse Hackney- en WP Saalperd-streekkampioenskap, Merino-streekkampioenskap, Wes-Kaapse SA Vleismerino-kampioenskap, die Hereford- en Angus- Wes- en Suid-Kaap-streekkampioenskap, sowel as die Simmentaler-, Santa Gertrudis- en boerbok-kampioenskap.
  • Die goed toegeruste pluimveesaal. Dié afdeling is baie gewild onder die lede van die Wes-Kaapse pluimveeklub. Nagenoeg 80 verskillende rasse hoenders, ganse, eende, kalkoene en eiers word ingeskryf.
  • ’n Verskeidenheid binne- en buitestalletjies, gewilde kunstenaars en spesiale kinderprogramme rond die prentjie af.
  • Heerlike kos in die Wyntuin, Cattle Inn, Veepos en die Kafee te koop. Daar is ook ’n deli.
Meer oor:  Moorreesburg
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.