Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
’n Boer maak ’n plan - ook as jy ’n vrou is

Dis dalk waar dat daar agter elke suksesvolle man ’n suksesvolle vrou staan. Maar wanneer dit by die vroulike boere in Suid-Afrika se landboubedryf kom, staan hierdie vroue sommer mooi op hul eie twee voete. Op die vooraand van Vrouemaand (Augustus) loer LandbouBurger by drie plaaslike vroulike boere in. 

   

Leeutemmer se kind boer vooruit

    

Dié boervrou is nie bang om haar hande vuil te maak nie . . .Elizabeth Gillman op haar plaas, Vredenburg, by Stanford. Sy boer onder meer met fynbos, melkbeeste, vleisbeeste en skape. ) Nog boervroue op bl. 4

Toe Elizabeth Gillman vyf jaar oud was, het sy saam met haar familie na die plaas Vredenburg naby Stanford in die Overberg getrek, en die blomme- en melkboerdery van onder af opgebou.

Die dag toe iemand die leisels op die plaas moes oorneem, was daar net drie dogters. En toe beland dié besondere voorreg in Elizabeth se hande.

“My twee susters werk al twee oorsee op skepe. Hulle het my maar altyd die tomboy genoem,” skerts sy.

Sy glo dat sy van jongs af by haar ouers geleer het hoe om hard te werk en só ’n sukses van ’n boerdery te maak.

Elizabeth verduidelik dat hoewel sy baie lief vir blomme is, diere ook een van haar groot passies is.

Dié liefde vir diere het sy reeds as kind ontwikkel. Albei haar ouers was by die sirkus betrokke voordat hulle na die plaas getrek het, en sy was altyd aan diere blootgestel.

“My pa was ’n leeutemmer! En daarna ’n boer. Ek was dus nog altyd lief vir diere,” sê sy.

’n Dag in ’n boer se lewe

Elizabeth sê die uitdagings wat oor haar pad kom, is een van die lekkerste aspekte van boer. Geen dag op ’n plaas is ooit dieselfde nie.

’n Blik op Vredenburg

Dié plaas buite Stanford is 500 ha, waarvan 200 ha bewerkbaar is. Daar is ongeveer:

  • 120 melkbeeste;
  • 250 skape; en
  • 100 vleisbeeste.

“Jy word met sonskyn of reën, of selfs vloede of brande op ’n plaas wakker. Elk dag is nuut en anders.”

Sy sê haar lewe het ná hoërskool eers wye draaie geneem voordat sy teruggekeer het plaas toe.

Sy het haarself eers as ’n haarkapper bekwaam, waarna sy by die plaaslike koöperasie gaan werk het. Sy het ook ’n draai op Caledon gaan maak voordat sy eindelik begin boer het.

Glo sy dat die landboubedryf steeds ’n manswêreld is?

Elizabeth sê dat hoewel dit nog steeds so mag wees, is daar beslis plek vir vroue in die bedryf.

Daar was aanvanklik ’n paar mans wat haar snaaks aangekyk het, maar sy was nooit daardeur geïntimideer nie.

“Kyk, ek gaan nie my mond voor mans hou nie en ek gaan beslis nie toelaat dat hulle my ore aansit nie!” sê sy.

En wat is haar grootste bates op die plaas? Beslis die vyf melkers en sewe blomplukkers, antwoord sy vinnig. “Sonder hulle is ek niks.”

Sy glo dat om in die landboubedryf te werk en ’n sukses daarvan te maak, ’n vrou sterk moet wees en ’n liefde vir boer moet hê. Veral in tye soos nou wanneer ’n droogte dinge moeilik maak.

“Vroue kan presies dieselfde as mans doen, mits hulle 100% tot die boerdery toegewyd is. As ek moet, kan ek alles en enigiets op die plaas doen. Maar jy moenie bang wees om jou hande vuil te maak nie.”

    Daar kom ’n verskeidenheid inheemse fynbos op Vredenburg se 200 ha voor. Die droëblomseisoen is tussen Januarie en Augustus. Tussen Augustus en middel Desember word die vars blomme verpak en na Europa uitgevoer.

       

    Saamboer is makliker

        

    Die “moeder” van Middelpos: Sharon February saam met die boerbokke op haar plaas Middelpos naby Saldanha aan die Weskus.

    Dit is soms makliker as man en vrou kan saamboer – al word daar koppe gestamp, vertel Sharon February, ’n Weskus-boer by Saldanha.

    “Ek en my man het al twee baie sterk opinies en dit neem soms bietjie langer vir die een om die ander te oorreed, maar op die ou end kan ons saamstem en saamwerk.”

    Die plaaslewe is in Sharon se bloed. Sy en haar familie het jare lank op ’n plaas tussen Brackenfell en Kuilsrivier gewoon en geboer.

    Nadat sy later jare met haar man, Gene, getroud is, het sy Saldanha toe getrek en saam met hom op die plaas Middelpos begin boer.

    Dié gedugte span boer hoofsaaklik met bonsmarabeeste. Volgens Sharon het sy en Gene reeds jare gelede die stap gedoen om met dié beesras te boer. “Ons gebied is ideaal daarvoor en die beeste floreer. Selfs al is dit droog, lyk die bonsmaras beter as al die ander diere – veral nou,” sê sy.

    Weens die voortslepende droogte in die provinsie het die February’s onlangs die helfte van hul beeskudde verkoop. Daar is wel ’n paar boerbokke op die plaas wat haar kinders besit. “Ons boer almal saam as ’n gesin. Al drie my seuns en my dogter is by die boerdery betrokke – al het een onlangs gesê sy hande is nie vir ‘daardie tipe’ werk gemaak nie,” skerts sy. “As dit slagtyd is op die plaas, weet my kinders hulle sal moet inspring.”

    Landbou verander

    Volgens Sharon is die bedryf besig om te verander van iets wat eens hoofsaaklik ’n manswêreld was namate al hoe meer vroue in die sektor betrokke raak. “Ek kry self baie hulp en inligting vanaf manlike boere en hulle is altyd bereid om te help.”

    Sy sê die belangrikste ding wat ’n vrou, of enigiemand wat die landboubedryf wil betree, eerste moet doen, is om te besluit waarmee hulle moet boer.

    “Daarna moet jy gaan leer! Gaan na ’n instansie en doen kennis op.”

    Sharon en haar man het om die beurt kursusse by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch gedoen.

    “Kennis en inligting is noodsaaklik om van ’n boerdery ’n sukses te maak. Ek moet weet wanneer, waar en hoe dinge moet gebeur.”

    Dit is ook belangrik om te weet waar jy as boer om hulp kan aanklop.

    Volgens Sharon is die samesyn tussen haar familie, diere en die boerdery vir haar die lekkerste deel van wat sy doen.

    “Om te boer, is nie vir sissies nie, maar dit is lekker!”

    Landbou móét bemagtig

    Buiten vir haar boerdery by Saldanha, is Sharon February ook die voorsitter van die VinPro-stigting. Sy meen bemagtiging op alle vlakke is belangrik.

    “[Deur die VinPro-stigting] help ons jong mense, ons bemagtig hulle en gee só terug aan die toekomstige landbousektor. Dit is belangrik om so vroeg as moontlik met bemagtiging te begin.”

    Selfs op haar eie plaas maak Sharon seker dat hul landbouwerker te alle tye met nuwe kennis toegerus word.

       

    Hou aan leer

      

    Aangename kennis! Doret Smit boer naby Laingsburg in die Karoo.

    As kind het Doret Smit, ’n Karooboer by Laingsburg, al gewéét dat sy eendag wil boer.

    Terwyl haar vriende oor Desembervakansies weggegaan het, het sy pligsgetrou op die plaas agtergebly en haar pa in oestyd gehelp.

    “Ek was ál kind destyds wat in my sub A-klas gesê het ek wil ’n boer word... toe lag al die kinders vir my!”

    Doret bestuur haar twee plase, Kareebome en Wilgefontein, soos ’n goed geoliede masjien. Sy weet te alle tye wat oral aangaan, sê sy.

    “Ek moet altyd ingelig bly oor alles wat op die plaas aangaan. As ek nie myself ingelig kan hou nie, moet iemand vir my deeglik kom sê wat aangaan.”

    Sy boer onder meer met perskes, appelkose, wyndruiwe en lusern. Doret kweek ook uie- en wortelsaad.

    Sy boer saam met haar man, André. Hy is ook ’n plaaskind wat op ’n melkplaas grootgeword en van jongs af met die boerdery gehelp het. Volgens Doret is hulle ’n gedugte span en is sy dankbaar dat sy ’n man het wat haar kan bystaan.

    “Hy is vreeslik handig en kan al die tegniese goed vir my doen – soos om die pompe te herstel. Niks maak hom gelukkiger as om met sy hande te werk en tegniese herstelwerk te doen nie – dít nou behalwe om ’n kalfie se kop te vryf.”

    Van toe tot nou

    Doret het ná hoërskool by die Elsenburg-landboukollege buite Stellenbosch gaan studeer. Ná haar studies het sy as ’n plaasbestuurder in die Boland gewerk.

    ’n Blik op Kareebome en Wilgefontein

    Die totale grootte van die twee plase is 1 500 ha. Dit bestaan uit:

    • 50 ha besproeiingsgrond;
    • 4 ha perskes en nektariens;
    • 4 ha appelkose (3 000 bome);
    • 27 ha wyndruiwe (chenin blanc en colombar);
    • 6 ha lusern;
    • 4 ha uiesaad; en
    • 2 ha wortelsaad.

    Doret oes elke jaar sowat 35 ton wyndruiwe, vier ton gedroogde perskes en drie ton gedroogde appelkose.

    Toe haar pa mettertyd sy betrokkenheid op die plaas begin afskaal, het sy teruggetrek Laingsburg toe om die leisels oor te neem.

    Ná sowat 20 jaar in die landboubedryf glo Doret dat daar maar min goed is wat haar kan afskrik. Al is sy soms soos ’n klippie in die ander (mans)boere se skoene . . .

    “Die landboubedryf bly maar oorheersend ’n manswêreld. As ek kursusse bywoon, is ek dikwels die enigste vrou, of een van min. Dan hoor ek gereeld: ‘Ag, ekskuus tog dame, ek moet gou dié en dat vertel’.

    “Dit pla my egter glad nie meer nie! Ná moederskap het ek sagter geraak en is ek heelwat rustiger,” skerts sy.

    Die dae dat vroue agter hul mans aantrek, is ook verby.

    Doret vertel toe André op ’n dag in haar omgewing gery het, het sy hom sommer daar gehou. Die paartjie is in 2004 getroud en het twee seuns en ’n dogter.

    “Ons kinders word soos regte plaaskinders agterop ’n bakkie grootgemaak.”

    Doret sê sy sal enige jong vrou aanmoedig om ’n beroep in die landboubedryf te volg, mits hulle lief is vir die natuur, plaaslewe, landbougewasse of diere. Hulle moet ook bereid wees om hard te werk.

    “Jy moet jouself net goed bekwaam, goeie opleiding kry en deurlopend kursusse doen. Harde werk is nodig om ’n boerdery suksesvol te maak.”

    Meer oor:  Stanford  |  Suid-Kaap  |  Blomme  |  Boere  |  Beeste  |  Skape
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.