Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
’n Slang in die geil dagga-oes wat firma beloof

Die breedsprakige Eskom-kommentator Ted Blom is met stomheid geslaan oor hoe die Amerikaanse maatskappy waarvan hy voorsitter is, kwansuis al volgende maand geld soos bossies gaan maak uit die Suid-Afrikaanse daggamark.

GNCC Capital, ’n maatskappy wat in die VSA genoteer is, het onlangs in ’n markaankondiging hul beleggers ingelig dat hulle hul sakefokus gaan verander van mynbou na Suid-Afrika se florerende daggamark.

Die Eskom-kommentator Ted Blom.

Daarvoor het GNCC ’n Suid-Afrikaanse maatskappy wat vertroud is met die medisinale daggamark gekoop, lui die aankondiging. Trouens, die eerste daggaoes kom al in Desember, glo beleggers, maar Rapport verneem daar is nie ’n enkele daggaplantjie nie en die plaaslike maatskappy se lisensie om dagga te kweek het verstryk.

Blom het verlede week hard probeer om hom van GNCC te distansieer toe Rapport hom om duidelikheid gevra het. Hoewel Blom volgens GNCC se kennisgewings aan aandeelhouers tot einde Augustus die president van GNCC was en toe nie-uitvoerende voorsitter geword het, kon hy min van Rapport se vrae oor die maatskappy beantwoord.

Blom het trouens ontken dat hy voorsitter is. “Sover ek weet is ek net ’n gewone direkteur,” het hy gesê en aangedui dat hy hom eintlik van GNCC wil losmaak.

Tog is ’n ander maatskappy waarvan hy ook ’n direkteur is, fluks besig om aandele in GNCC te koop.

Hy was onseker oor die lisensie: “Ek dink ek het in ’n stadium een gesien,” het hy aanvanklik gesê en later laat weet dat daar wel ’n slang in die gras is met die lisensie.

Hy was glo besig om antwoorde te soek, want “ander partye” was verantwoordelik vir die noulettendheidsondersoek om dié goed na te gaan, maar ’n week later het hy nog geen verduideliking gegee nie.

Volgens ’n aankondiging aan aandeelhouers op 3 Oktober het GNCC ’n belang van 40% in ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, Jengu Pharma, gekoop. Jengu is in Mei vanjaar gestig en Blom is een van die drie direkteure.

Die ander twee is Nell-Mari Allen en Angelo Cox. Hulle twee hou die ander 60% van Jengu en ken glo die plaaslike daggabedryf goed. Allen het ’n lisensie gehad vir die verbouing en uitvoer van dagga. Dit het egter in Junie verval, maar sy is glo besig met ’n aansoek om dit te laat hernu.

Allen het ná die GNCC-transaksie die president van die Amerikaanse maatskappy geword en Cox die bedryfshoof. Hulle is ook uitvoerende direkteure.

Toe Rapport egter die afgelope week Blom vra wat Allen se rol in GNCC is, het hy net haar direkteurskap geopenbaar en verder gesê: “Vra haar maar self.” Dit is waarskynlik omdat Allen volgens Rapport se inligting reeds op 24 Oktober as “president” bedank het. Cox het kort daarna bedank.

Die rede vir hul bedankings is glo dat minstens R63 miljoen se finansiering wat GNCC beloof het, nooit gerealiseer het nie. Daarmee sou Jengu glo dagga-plase koop in onder meer Limpopo en nuwe fasiliteite soos ’n laboratorium oprig om aan die voorwaardes vir ’n uitvoerlisensie te voldoen.

Blom erken dat die finansiering vir die daggabedrywighede platgeval het, maar sê die Jengu-transaksie is deurgevoer en daar word nog gesoek na nuwe finansiers.

Verskeie omstrede mense is betrokke by GNCC. Ron Lowenthal, wat vroeër in Suid-Afrika as aandelemakelaar gewerk het, was voor Blom die voorsitter. Sy naam duik op saam met dié van die omstrede sakeman Stephen Lumb.

Business Report het in 2001 berig dat Lowenthal volgens Lumb die raadgewer sou wees vir die JSE-genoteerde IGaming waarvan Lumb die bestuurshoof was. Die JSE het dit egter afgekeur en die verhandeling van IGaming se aandele is opgeskort.

Luidens berigte het aandeelhouers groot bedrae verloor toe IGaming tot niet gegaan het. In 2003 was Lowenthal volgens Moneyweb ’n vennoot in die genoteerde Hanover Capital in Brittanje, wat Lumb aangestel het as bestuurshoof. Lumb het ’n maand later bedank.

Volgens Blom is Lumb net “ ’n groot aandeelhouer” in GNCC, maar Rapport verneem betroubaar hy speel ’n sleutelrol in die bestuur van die maatskappy.

Lumb wou nie enige vrae van Rapport beantwoord nie. Hy het aanvanklik gesê dit traak hom niks wat Rapport skryf nie, want hy het geen belangstelling in Suid-Afrika wat ’n “ekonomies mislukte staat is met geen hoop op herstel nie”.

Lumb sê hy het geen belangstelling in GNCC nie. Hy het tien jaar oue aandele, wat hy in sy kop lankal afgeskryf het.

Later het hy Rapport gekontak en met regstappe gedreig as sy naam genoem word.

Lowenthal het hoegenaamd nie op Rapport se navraag gereageer nie.

Meer oor:  Ted Blom  |  Cannabis  |  Landbou  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.