Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nampo: Genoeg mielies vir SA se mense

Daar is genoeg mielies vir plaaslike gebruik, maar die land se mielievoorraad gaan baie laag wees voordat die volgende oes aanstaande jaar inkom, sê Jannie de Villiers, hoof van Graan SA.

De Villiers het die media by Nampo Oesdag buite Bothaville toegespreek.

Huidige oesskattings dui daarop dat vanjaar se mielie-oes sowat 10,6 miljoen ton sal wees. Saam met die oordragvoorraad van die vorige seisoen sal dit genoeg wees vir die plaaslike gebruik van 11,5 miljoen ton, sê De Villiers.

Hy sê Amerikaanse boere is onder groot druk om betyds genoeg mielies te plant, omdat hul optimum-plantseisoen bykans verby is.

Suid-Afrikaanse boere was in Januarie in dieselfde bootjie toe hulle weens die laat reën so vinnig moes plant.

“Suid-Afrikaanse boere se vermoë om soos die Amerikaners vinnig aanplantings te kan doen, is ’n bate vir die land,” sê hy.

Die laat aanplantings en Amerika en China se handelsoorlog kan nuwe markte vir Suid-Afrikaanse graan ontsluit.

Hy sê boere se seisoen het baie sleg begin, maar daar is nou mense wat sê hulle gaan rekordoeste met sonneblom behaal.

Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA en ’n boer van Hennenman, sê hy het die meeste reën nog vir April op sy plaas aangeteken. Hy het rekords van die afgelope 113 jaar se reën.

Op die meeste plase buite Hennenman is in April 250 mm reën gemeet.

De Villiers sê boere is gelukkig dat die koue wegbly, maar die dagligure is minder en dit sal opbrengste beïnvloed.

Vir die eerste keer in dekades is daar nou meer Vrystaatse boere wat gaan koring plant omdat hulle die kontantvloei nodig het.

Boere het in sekere distrikte baie laat eers reën gekry en kon nie mielies plant nie. Uit nood plant hulle nou koring.

In 1980 is meer as ’n miljoen hektaar koring nog in die Vrystaat geplant, maar dit het afgeneem tot 105 000 ha.

Minnaar sê die nuwe aanplantings sal nie ’n uitwerking op koringpryse hê nie, omdat tussen 50% en 60% van Suid-Afrika se koring ingevoer word.

Derek Mathews van Graan SA in Noordwes sê die koringaanplantings het ’n uitwerking op boere se aanplantings vir die somerseisoen, omdat hul beplanning vir somergewasse geraak sal word.

De Villiers sê boere kyk daarna om ander soorte graan soos gars aan te plant.

Hy sê tot dusver lyk dit asof volgende jaar ’n normale reënjaar sal wees.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.