Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nampo-oesdag se program vol nuutjies

Alle paaie lei aanstaande maand weer na die Vrystaat – en meer spesifiek Nampopark buite Bothaville, waar die jaarlikse Nampo-oesdag vanaf 14 tot 17 Mei sal plaasvind.

Nampo
Boerbokke op die jaarlikse Nampo-oesdag. Foto: Conrad Bornman

Vanjaar se tema, “Platform vir jou landboutoekoms”, is heel besonders.

Die bykans 780 uitstallers sluit vanjaar 50 oorsese maatskappye in, en die uitstallings beloof van uitstaande gehalte te wees met nuwe, innoverende idees en produkte wat ten toon gestel gaan word. Nuwe geboue en selfs vergrote standplase is vir uitstallers op Nampopark aangebring.

Die vee-ring byvoorbeeld, wat jare langs die Caltex-saal geleë was, het uitgeskuif na die agterkant van die beeskompleks om die groter vraag na vertonings te kon akkommodeer.

Die “Padstal” en vrouesale spog ook met ’n paar nuwighede. Die vroueprogram sluit in alles van bak, sing en verf tot sommer net gesellig saam kuier.

’n Boekbespreking word ook vanjaar van 14:00 tot 15:00 elke middag in dieselfde tent gehou.

Nog ’n nuwe toevoeging tot die Nampo-program is die Senwes-kaalvoet-kinderparkie. Ouers kan hul kinders daar gaan los terwyl hulle op die feesterrein rondloop.

Nampo
’n Angorabok op ’n vorige Nampo-oesdag by Bothaville in die Vrystaat. (Foto’s ter illustrasie). Foto: Conrad Bornman

Die kinders sal onder baie streng toesig by vier stasies met opvoedkundige programme besig gehou word, terwyl kleuters en peuters in ’n sandput met landbouspeelgoed sal kan speel.

Van die ander programhoogtepunte wat al sinoniem met Nampo is, sluit in onder meer die Nasie in Gesprek-gesprekkereeks asook die gewilde Boere­patent- kompetisie, ’n 4x4-baan en ’n avontuurbaan vir motorfietse.

Nampo
Dean Nel, Deon Lange, Cobus Steenkamp en Paul Snyman van Zeerust in die Noordwes by ’n Case 500-trekker op Nampo. Foto: Conrad Bornman

Die volledige Nampo-program is by www.nampo.co.za beskikbaar. En dan ’n tikkie goeie nuus: Die toegangsgeld vir vanjaar se Nampo-oesdag bly dieselfde as dié van verlede jaar. Belangstellendes kon al sedert Maartmaand kaartjies aanlyn by Ticketpro op www.ticketpros.co.za koop. Die kaartjies aanlyn is R20 goedkoper as by die hekke en jy vermy ook só die lang rye.

Parkering is gratis by Nampopark, maar besoekers moet maar vroeg kom omdat die druk verkeer op die toegangspaaie jou nogal kan ophou.

Lede van Graan SA het reeds met behulp van die Joyn-app hul gratis toegangskaartjies ontvang.

Dit sal vir Graan SA weer ’n baie groot voorreg wees om almal vanjaar op Nampopark te ontvang, sê die organisasie. Met die baie laat reën wat die Vrystaat gekry het, is die feesterrein in die mooiste toestand tot nog toe. Die groen grasperke, besondere saadplotte en die allermooiste uitstalruimtes gaan alles ’n lus wees vir die oog.

  • Wessels is ’n bestuurslid van die produsenteorganisasie Graan SA.
Meer oor:  Nampo-Oesdag  |  Bothaville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.