Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nelsrivierdam is vanjaar ’n eeu oud

Suid-Afrika se oudste werkende beton-swaartekrag-dam, die Nelsrivierdam in die Klein-Karoo, is vanjaar 100 jaar oud.

Dié dam, ook bekend as die Calitzdorpdam, is by Besemkop sowat 5 km noord van Calitzdorp geleë. Die bouwerk aan die wal het vyf jaar geduur.

Dit is die enigste besproeiingsdam wat aan die boere behoort en word bestuur deur die Calitzdorp-­besproeiingsraad (CBR), waarvan Johan “Klokkie” Fourie die voorsitter is.

Die Nelsrivierdam verskaf aan sowat 70 plaaslike landbouers water, sowel as aan Calitzdorp se nagenoeg 4 700 inwoners.

Uit die argief: Bouwerk aan die Nelsrivierdam het op 1 November 1913 begin. Die werk het vyf jaar geduur. Foto: Kaapstad-argief

Droogte noodsaak dam

Die Nelsrivierdam se eeufees word tans gevier te midde van die ergste droogte in die dam se bestaan, en tans staan die dam se vlak op ’n skamele 13%.

Dit is juis egter die droogtes wat die Klein-Karoo so teister wat in die vroeë 1900’s daartoe gelei het dat die staat die eerste keer grootskaals geld aan die bou van infrastruktuur vir die opgaar van water begin bestee het. Dit het die “goue era” vir dambou in Suid-Afrika ingelui.

Ná Uniewording in 1910 het die eerste Besproeiings- en Waterbewaringswet (no. 9 van 1912) tot stand gekom.

Prof. Wessel Visser, mede­professor in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, skryf in sy boek Die Nelsrivierdam van Calitzdorp, 1918 – 2018: Suid-Afrika se oudste werkende beton swaartekragdam, dat dié wet “feitlik op die eksklusiewe gebruik van water vir landboudoeleindes, asook op besproeiingsontwikkeling en landbouvooruitgang gemik was”.

Die proklamasie van Calitzdorp se besproeiingsraad in 1912 het die weg verder vir die bou van die Nelsrivierdam gebaan.

Daar was ’n behoefte

Die voorkoms van herhaalde droogtes in die omgewing van Calitzdorp – ’n gebied waar die gemiddelde reënval per jaar 150 mm is – het die landbou daar nog altyd geknou.

Visser kon uit dokumente wat die CBR tot sy beskikking gestel het, vasstel dat daar tussen 1862 en 1999 minstens 15 uitmergelende droogtes in die gebied voorgekom het.

Wanneer daar wel water in die Nelsrivierdam was, is ’n wye verskeidenheid produkte in die ryk leem- en alluviale gronde verbou.

Wanneer daar wel water in die Nelsrivierdam was, is ’n wye verskeidenheid produkte in die ryk leem- en alluviale gronde verbou.

Dit het onder meer graan, tabak, okkerneute, sitrus, olywe, groente en vrugte – veral geelperskes, appelkose, pruime, vye, pere en kwepers – ingesluit.

Vandag word hoofsaaklik met vrugte en wingerd geboer en groentesaad verbou. Daar is ook plase waarop met melk- en vleisbeeste, skape, bokke, varke en bye geboer word.

Die opbloei van die volstruisveerbedryf was beslis ’n faktor in die soeke na ’n volhoubare waterbron. Hoewel volstruise by droogte aangepas is, het die uitstekende pryse van volstruis­vere op die wêreldmark daartoe gelei dat boere lusern as weiding begin kweek het. Lusern het vloedbesproeiing benodig.

Voordat die Nelsrivierdam gebou is, het die boere uitkeerslote uit die rivier gebruik. Oewer­regte het dit egter moeilik gemaak om die water regverdig tussen verbruikers te verdeel.

Dit was ook só hoe meer suksesvol die boere hoër op langs die rivier se uitkeerwalle van grond, klip en selfs sement was, hoe warmer onder die kraag het die boere stroomaf geraak.

Francis Kanthack, ’n hidro­ingenieur wat in 1906 as die Kaap se besproeiingsdirekteur aangestel is, het besef landbou sonder die opgaar van water is onmoontlik en het die privaat uitkeerwalle as ’n “gekheid” beskou.

Dis droog in die Klein-Karoo: Die gereelde droogtes in die Klein-Karoo het tot die bou van die Nelsrivierdam gelei. Die dam het vroeër vandeesmaand slegs 13% van sy vermoë bevat te midde van die jongste droogte in die streek. Foto: Tisha Steyn

Bouwerk begin

Op grond van ooreenkomste met die Kammanassiedam word aanvaar dat Kanthack die Nels­rivierdam ontwerp het.

Volgens sy berekenings sou die Nelsrivierdam met twee hoogliggende kanale weerskante van die rivier sowat 700 morg (600 ha) onder besproeiing bring en sodoende die bestaande 450 morg (385 ha), wat reeds onder besproeiing was, vergroot.

Bouwerk het op 1 November 1913 begin, maar die bouery het nie sonder voorval verloop nie.

Die aanvang van die Eerste Wêreldoorlog het eerstens die volstruisveerbedryf in duie laat stort. Daar is ’n geneigdheid om te vergeet dat wanneer landbou swaarkry, die hele gemeenskap ly – en dit was ook die geval in dié gebied, want die gemeenskap het verarm.

Boumateriaal soos hout het onverkrygbaar geraak en moes vanaf Knysna na Calitzdorp gekarwei word. Klip het ook ’n probleem geword.

Die oorlog het gelei tot op­onthoude aan die bouwerk omdat toerusting en masjinerie moeilik bekombaar was. Geen sement kon ingevoer word nie, en Pretoria Portland Cement (PPC) moes genader word.

Boumateriaal soos hout het onverkrygbaar geraak en moes vanaf Knysna na Calitzdorp gekarwei word. Klip het ook ’n probleem geword.

Die klip digby die damwal was nie geskik nie en moes toe tot 8 km ver met perdewaens en donkiekarre aangery word.

Die dambouery het wel ’n uitkoms vir sowat 200 werkers en hul gesinne gebied, en die paar sjielings wat hulle verdien het, het die handelaars op die dorp ook aan die lewe gehou.

Die lewe van ’n dambouer was egter nie maklik nie. Waar die bouers op die rivieroewer kamp opgeslaan het, het die water besoedel geraak en gevalle van tifus en maagkoors, asook Spaanse griep het voorgekom.

Die Calitzdorp-afdelingsraad het later uiteindelik ’n hospitaal op die dorp opgerig en in 1915 is ’n tydelike skoolgebou vir die dambouers se kinders ingerig.

Die dam is in 1918 voltooi, maar die inwydingsdatum is nie bekend nie. Die plaaslike Oudtshoorn Courant het op 5 Julie 1918 só daaroor berig: “De dam is zo te zeggen klaar; wanneer men van de inwyding zal horen weten we niet.” Op 19 Maart 1922 het die dam die eerste keer oorgeloop.

100 jaar oud: Die voorkant van die damwal by Besemkop, sowat 5 km vanaf Calitzdorp. Die dam het die eerste keer op 19 Maart 1922 oorgeloop. Foto: Tisha Steyn

Die tweespalt

Benewens die uitdagings met die bou van die dam, het struweling na afloop van die voltooiing daarvan ongelukkig nie uitgebly nie.

Die struweling het eerstens gehandel oor die vergoeding wat die boere sou kry vir hul grond waarop die dam gebou sou word. Dan was daar ook die kwessie van die Calitzdorp-Groenfontein-pad wat verlê moes word.

Die CBR en die plaaslike munisipaliteit was ook voortdurend haaks oor die hoeveelheid water wat aan die dorp verskaf moes word én teen watter koste.

Visser stel die uitkoms van die struwelinge as volg in sy boek: “Uiteindelik het die gemeenskappe van die Klein-Karoo se afhanklikheid van water en die sentrale rol wat die Calitzdorpdam daarin speel, egter tot die betrokke rolspelers deurgedring. Oorlewing sou slegs deur samewerking verseker kon word . . .”

Dorpenaars het ook aanspraak gemaak op ’n stukkie paradys langs die dam waarop hulle met bote wou vaar en hengel. In 1918 al skryf ’n leser in die Oudtshoorn Courant: “ . . . dan hebben wy ook een soort van zee naby om op en af te zeilen in ontspannings uren. Mogenlik zullen wy dan ook wat vis kunnen vangen . . .”

Helaas, toe nie vir altyd nie. Vandag lê die naaste water meer as 100 m ver van die Visarend-hengelklub.

Het jy geweet?
  • ’n Swaartekragdamwal het ’n driehoekige dwarssnee en die waterkant is gewoonlik loodreg. Hierdie soort damwalle gebruik hul gewig om die druk van die water wat na die fondamente verplaas word, te weerstaan.
  • Die koste vir die bou van die Nelsrivierdam se wal is aanvanklik op £65 000 bereken, maar dit het uiteindelik £168 053 gekos.
  • Die wal bestaan uit 110 000 ton3 beton wat in ses seksies gebou is, met versterkings wat voorkom dat die wal onder die gewig van die water kraak.
  • Die inhoudsmaat van die dam was aanvanklik sowat 5,81 miljoen m3, maar weens toeslikking is dit nou sowat 4,81 miljoen m3.
  • Die opvangsgebied van die dam is 170 km², terwyl sy oppervlak 58 ha beslaan. Die kruinlengte van die damwal is 213 m.
  • Die hoogste vlak van die wal, bokant die laagste vlak van die uitgegraafde fondament, is 34,1 m. Die wydte van die afvoerkanaal is 15 m.
  • Die dam het ’n uitlaat op riviervlak, sowel as ’n besproeiingsuitlaat sowat 12 m bokant die riviervlak. Die uitlaatpype word met brons­bedekte sluise beheer.
  • Die kanaalstelsel onderkant die dam bestaan onder meer uit ’n betonkanaal van sowat 3,21 km vanaf die damwal. Aan die einde van die primêre kanaal vertak dit: die linkeroewerkanaal strek 20,92 km, terwyl die regteroewerkanaal sowat 14,5 km lank is.
Vinnige feit

Prof. Wessel Visser, mede­professor in geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, het op ’n herdenkingsdinee vir die Nelsrivierdam in Junie vanjaar sy boek DieNelsrivierdam van Calitzdorp, 1918-2018: Suid-Afrika se oudste werkende beton swaartekragdam bekend gestel.

Visser se navorsingsveld is die besproeiingsgeskiedenis van die Wes-Kaap.

Die boek is in Afrikaans en Engels en is teen R100 by die toerismekantoor op Calitzdorp beskikbaar. Skakel 044 213 3775 vir meer inligting.


Meer oor:  Nelsrivierdam  |  Landbou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.