Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
‘Niemand moet wolmonopolie in Lesotho hê’

Hoewel die premier van Lesotho Vrydag aangekondig het wolboere kan vir die volgende drie maande oor die grens handel dryf, hou die land se merinoboere steeds asem op vir wat die toekoms kan inhou.

Van die land se sowat 40 000 wolboere word deur hongersnood bedreig nadat wetgewing verlede jaar in werking getree het wat hulle dwing om slegs aan ’n Chinese maatskappy in Lesotho wol te verkoop.

Lesotho Wool Centre, die maatskappy wat deur drie ministers en Stone Shi, ’n Chinese makelaar, besit word, het sedert einde verlede jaar nog nie die boere betaal nie.

Die Lesotho-landskap. Wolboere in Lesotho is ongelukkig omdat hulle deur wetgewing gedwing word om hul wol aan slegs ’n Chinese makelaar te verkoop. Die maatskappy Lesotho Wool Centre word besit deur drie ministers van Lesotho en die makelaar Stone Shi.Foto: Thys Meyers

Van die boere is sedertdien dood aan depressie en hartkwale en van hulle het hulself om die lewe gebring.

Wetgewing by die grensposte is ook strenger as ooit nadat miltsiekte op 12 Mei in die land uitgebreek het.

Volgens berigte in plaaslike nuusmedia is meer as 50 burgers van Lesotho aan dié siekte dood.

Tom Thabane, Lesotho se premier, het Vrydag in ’n nuusverklaring gesê boere kan tot einde September aan enigiemand wol verkoop, nie net aan die maatskappy nie.

Die regering het ingestem tot ’n toegewing nadat sowat 12 000 wolboere Vrydag na die parlement opgeruk het met ’n memorandum wat eis dat die wetgewing verander word.

Malefane Sekoboto (36) ’n merinoboer van die Malealea-distrik, sê egter die grasietydperk beteken niks nie, want die skeertyd is eers later in die jaar.

Sekoboto het wel verlede week betaling vir sy wol ontvang, maar was geskok oor hoe min hy gekry het.

Ontevrede wolboere. Ongeveer 12 000 wolboere in Lesotho het Vrydag na die land se parlement in Maseru opgeruk en ’n memorandum oorhandig waarin hulle vra dat die wetgewing wat hulle dwing om wol aan slegs een onderneming te verkoop, opgehef word.Foto: Verskaf

Hy sê hy het verlede jaar ’n positiewe verskil verwag omdat hy die regering vertrou het, maar as dit só aangaan, sal hy alles moet los.

“Ek wil ’n merinoboer wees, dit is my groot liefde en passie.”

Hy het vroeër, voordat die nuwe wetgewing in werking getree het, wol aan onder meer die Suid-Afrikaanse maatskappy BKB verkoop.

“Ook hulle moenie ’n monopolie hê nie. Ek is nie teen die idee van nét in Lesotho verkoop nie, maar as daar ’n klomp kopers is, sal daar kompetisie wees en kan ons goeie pryse kry.”

Pres. Cryil Ramaphosa het Saterdag op die G20-beraad in Japan in sy toespraak gesê Afrikaleiers het besluit om ’n vryhandelsgebied te skep wat nou alle burgers in staat stel om tussen lande op dié vasteland handel te dryf.

Meer oor:  Wol  |  Wolboere  |  Grens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.