Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nigeriese bank red klein SA landboubank

Skaars drie jaar nadat hy nuwe eienaars gekry het, gaan ’n klein landboubank – wat gedeeltelik aan die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) behoort – deur ’n Nigeriese bank verkry word.

landboubank
Grobank, wat op die hele landbou-waardeketting fokus, is drie jaar gelede gevorm uit Bank of Athens toe Afgri, die Openbare Beleggingskorporasie en Fairfax Africa dit oorgeneem het. Foto: Conrad Bornman

Tito Mboweni, minister van finansies, het die voorgestelde verkryging van ’n beherende belang in Grobank deur Access Bank van Nigerië goedgekeur.

“Die verandering van eienaarskap is deur die Omsigtigheidsowerheid van die Reserwebank en die bestuur van Grobank bemiddel om die bank en sy deposante te beskerm tydens ’n moeilike tydperk vir die bank,” lui ’n verklaring van die Reserwebank.

Grobank het sy ontstaan in 1947 as die Suid-Afrikaanse Bank of Athens gehad.

Die bank het skaars drie jaar gelede nuwe eienaars gekry toe ’n nuwe bankbeheermaatskappy, waarin die OBK, Afgri Holdings en Fairfax Africa aandeelhouers is, al sy aandele gekoop en dit hernoem het.

Die bank het op die finansiering van ondernemings in die landbou en die voedselbedryf gefokus.

Die Reserwebank het in ’n verklaring gesê die verkryging is deur die minister van finansies op aanbeveling van die Omsigtigheidsowerheid goedgekeur.

Access Bank is ’n Nigeries geregistreerde bank met ’n voetspoor in Afrika, Brittanje en Asië, volgens die Reserwebank.

“Die Omsigtigheidsowerheid en die ministerie is tevrede dat die voorgestelde verkryging in die beste belang van Grobank, asook sy deposante, is.”

LEES OOK: Grobank kry nuwe aandeelhouer

Die verkryging sal in twee stappe plaasvind.

Eers sal net ’n belang van 48,9% verkry word.

Daarna sal nog aandele verkry word om ongeveer 90,3% te hou.

Grobank sal hernoem word na Access Bank (South Africa).

“Ons glo die nuwe eienaars spoedig met deposante en belanghebbendes kommunikeer.”

Die kredietgradeerder GCR Ratings het Grobank in November verlede jaar afgegradeer.

“Dit dui die hoër risiko vir sy balansstaat aan as gevolg van die agteruitgang in sy kapitalisasie, ’n minder stabiele finansieringstruktuur wat vererger word deur die moeilike bedryfsomgewing in Suid-Afrika en die banksektor wat onder druk is te midde van die pandemie.”

Die verkryging deur Access Bank bring nuwe kapitaal van R400 miljoen na die bank.

“Grobank se kapitaalposisie is onseker en is naby daaraan om die minimum kapitaaltoereikendheidsvereistes ingevolge regulasies te oortree.”

Volgens GCR het die bank se inkomste die afgelope drie tot vyf jaar gesukkel en die bank het ’n verlies gely weens die beperkte finansiering en kapitaal vir groei.

“Die verlies het verdubbel van die vorige jaar af en dit gaan voortduur tot nuwe kapitaal gekry word om die groei in inkomste te ondersteun.”

GCR het verwag die regulatoriese kapitaalvereistes gaan nie nagekom word as die verlies voortduur sonder die kapitaalinspuiting nie.

Die belang wat bekom word, word van GroCapital Holdings Beperk verkry.

GroCapital Holdings Beperk is in 2017 opgerig met die uitsluitlike doel om as die bankbeheermaatskappy van Grobank te dien.

GroCapital het The South African Bank of Athens van die National Bank of Greece-groep verkry.

Op sy webtuiste word getoon GroCapital word 35% deur Fairfax Africa Investment, 35% deur die staatsdienspensioenfonds (GEPF) en 30% deur Afgri besit.

Die GEPF het in sy jaarverslag vir die boekjaar tot einde 2019 gesê R171 miljoen is in GroBank belê.

Die OBK het ook ’n waarborgooreenkoms met Nedbank gesluit vir ’n gerief wat aan GroCapital verskaf is, luidens die jaarverslag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.