Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nisboere: ’n Feesmaal van wenners

In die laaste episode van reeks twee van Nisboere sit beoordelaars, aanbieders en eregaste aan om ‘n langtafel gelaai met ‘n feesmaal vir almal. Die geleentheid is feestelik, die atmosfeer is gul en die hoop vir die toekoms is amper tasbaar.

Elke plaas wat weekliks op Laeveld Agrochem se baanbrekersreeks, Nisboere, verskyn het, was op sy eie manier ‘n lus vir die oog wat volop stof tot nadenke bied. En agter elke boerdery is nie net ‘n storie – dikwels van sukkel op die pad na sukses – nie, maar die daadwerklike moontlikheid dat die saadjie vir ‘n nisboerdery elders in ons land – of selfs die wêreld – gesaai kan word tot voordeel van die boer, die omgewing én ons planeet. Want uiteindelik word rykdom nie net gemeet in rand en sent nie, maar in alles van idees, hoop en mededeelsaamheid tot medemenslikheid en omgewingsbeskerming, alles waardes waarvoor Laeveld Agrochem staan in hul volgehoue verbintenis om nie net ons land se boere nie, maar ook ons land, te laat vooruitboer.

‘n Feesmaal van wenners

Die laaste episode van Nisboere vind plaas rondom ‘n asemrowende langtafel met ‘n indrukwekkende groepie gaste:

Die beoordelaarspaneel: Corné Liebenberg, stigterslid en bemarkingsbestuurder van Laeveld Agrochem. Marina Fourie, rekenmeester by Laeveld Agrochem en ‘n deskundige op die gebied van entrepreneurskap. Phillip Venter, Laeveld Agrochem se bemarkingsbestuurder vir plantvoeding en -dienste, was met verlof en kon dus nie by die span aansluit nie. 

2017 se Nisboer van die Jaar: Gideo van der Merwe, ook eienaar van Clean Air Nurseries waar die paneel elke week vergader.
En die eregaste: Kevin Kotzé van Jozi Bugs (in die vyfde plek op die Vyf van die Bestes-ranglys), Gavin Grgurin van Gatabi Rabbitry (nommer drie op die ranglys), Willie Botha van Hoep-Hoep Mushroom (op nommer twee), 2018 se Nisboer van die Seisoen, Alexia Hechter van McCloud’s Natural Duvets & Pillows en, les bes, die wedrenduif-boer, Samuel Mbiza, wat nie ‘n plek op die ranglys behaal het nie, maar wat ‘n baie diep indruk op Corné gemaak het.

Gevleuelde sukses

Samuel, sê Corné, het die perfekte storie. “Dis die tipe boodskap wat ons met Nisboere wil uitdra – die outjie wat jonk op skool sy kos- en vervoergeld gebruik het om sy eie duif te koop (en wat onlangs ‘n pronkduif van 350 000 euros kon aanskaf).

Slim boks met goggas

Anrich wys weer eens daarop dat ‘n mens met ‘n klein begin ‘n groot sukses kan maak – soos wat Kevin Kotzé gedoen het met “’n paar goggatjies in boks”. 

Jozi Bugs het ‘n welverdiende plek op die ranglys, reken Corné, want Kevin het ook deur ‘n penarie gegaan wat hy, onder meer danksy sy positiewe instelling, in ‘n groot sukses omskep het. Sy onderneming verg min kapitaal, hou ‘n relatief lae risiko in, en die kans op sukses is redelik goed. 

Nuwe hoogtes op dakke

Nisboer nommer vier en die man agter Urban Agri Initiatives, Nhlanhla Mpati, sê Corné, het ‘n hele klompie goed raakgevat. Hy het nie spasie gehad nie, maar het ‘n plan gemaak om spasie op die dakke van geboue te gebruik, wat ook sommer digby sy mark is. Gideo stem saam dit is ‘n slim idee.

Hoe meer haas, hoe meer vooruitgang

Gavin Grgurin, die eienaar van Gatabi Rabbit, boerdery nommer drie op die ranglys, se passie vir konyne het begin toe hy nege jaar oud was. Sy pa was ‘n slagter, en omdat die gesin van Kroasiese afkoms is, het hulle dikwels konynvleis geëet. Sy eerste ontmoeting met entrepreneurskap was by die skougronde in Hillbrow waar hy die reuse- Flemish Giant-konynras gesien het. Hy het besluit “dis die pad om te gaan” en het op die tere ouderdom van tien sy eerste skou gewen. Die res is geskiedenis.

Corné wys weer op die belangrikheid van voedsekerheid. Hy beklemtoon dat konyne, wat maklik is om mee te boer en nie baie ruimte verg nie, ‘n goeie alternatief is, onder meer vir die baie boere wat na ‘n sekondêre bron van inkomste begin kyk.

Sampioen-kampioen

Volgende aan die beurt is 2018 se nommer twee nisboer en eienaar van Hoep-Hoep Mushrooms, Willie Botha. Willie was voorheen in die konstruksiebedryf, maar nadat dinge daar verkeerd geloop het, het hy en sy wederhelf besluit om met iets heeltemal nuuts te begin waarby die hele gesin vandag betrokke is. Buiten sy gesin se samewerking, is nóg ‘n faktor in Willie se sukses die feit dat hy ‘n gaping in die mark gesien het vir spesialiteitsampioene. Verdere pluspunte, verduidelik Corné, is die feit dat dié tipe sampioenboerdery redelik toeganklik is en dat dit min ruimte verg.

In die kol met wol

Uiteindelik is dit tyd vir ‘n geselsie met 2018 se Nisboer van die Seisoen, Alexia Hechter, die meesterbrein agter McCloud’s Natural Duvets & Pillows.

Al die beoordelaars stem saam dat daar ‘n klompie faktore is wat tot Alexia se sukses – en haar aanwysing as Nisboer van die Seisoen – bygedra het: die alternatiewe aanwending van ‘n bestaande hulpbron; die volhoubaarheid van haar onderneming; haar waardetoevoeging – die feit dat sy ‘n nis raakgesien het vir mense wat allergies is vir dons; die potensiële uitvoergeleenthede en die feit dat sy as ‘n jong vrou wegbreek van die stereotipe in die landbou en sodoende bewys dat ‘n mens nie oud hoef te wees om te boer nie.

Alexia gee ‘n bietjie agtergrond oor waar sy begin en hoe die besigheid gegroei het, asook wat haar toekomsplanne is. En kan nie sy of Anrich langer wag om te hoor wat Laeveld Agrochem se beloning vir haar en die ander wenners se ondernemingsgees gaan wees nie.

En die prys is…

Corné kondig aan dat die vyf boere op die bord, asook Samuel Mbiza, beloon word met ‘n uitnodiging na 2019 se Seil-Safari, met alle uitgawes gedek. “Dit sal hulle geleentheid gee om skouers te skuur met kenners, en die kenners sal ook leer by die wenners,” verduidelik hy.

Hoop vir (Suid-)Afrika!

Simonia vra Corné uit oor Laeveld Agrochem se betrokkenheid by Nisboere, waarop hy antwoord dat dit mooi is om hoop te gee. “Ons bly in die mees fantastiese land. Ons kort net hoop… En almal om die tafel ploeg terug met kennis,” verduidelik hy.
Laeveld Agrochem, sê hy, sal ook voortgaan om terug te ploeg met bystand aan die baie jong opkomende nisboere in ons land wat met verloop van tyd kommersiële boere sal word.

Les bes herinner Corné en Anrich kykers daaraan hoe belangrik die publiek se insette vir die reeks is. En dan klink almal om die tafel ‘n welverdiende glasie op ‘n suksesvolle tweede seisoen van Nisboere.


Meer oor:  Via  |  Landbou  |  Nisboere
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.