Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nog geen groot rypskade
Sojabone. Foto: Alani Janeke

Boere in die Frankfort-omgewing in die Oos-Vrystaat het die afgelope week rypskade gehad op sojabone en mielies wat laat geplant is, maar die skielike byt in die oggendlug het nog geen grootskaalse skade aan somergewasse aangerig nie, sê Graan SA.

Volgens Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, het ligte ryp dié week baie beperk in sekere laagliggende dele voorgekom, maar ondanks vrese dat vroeë ryp mielies sal beskadig wat laat geplant is, lyk dinge nog goed.

Die meeste boere in die westelike Vrystaat en Noordwes het geen noemenswaardige skade opgemerk nie, maar sou teen die naweek meer sekerheid hê, sê hy.

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het vroeg vandeesweek gewaarsku temperature in die westelike dele van die Vrystaat begin nou vinnig daal. Ook in die sentrale en oostelike dele was dit koeler. In die sentrale dele was daar laer nagtemperature, maar dit het nog nie tot onder vriespunt gedaal nie.

De Villiers sê die ryp moet nog tot middel Mei wegbly vir mielies wat eers einde Desember en vroeg in Januarie geplant is weens die laat reën. Die later planttyd het die oestyd vir mielies met minstens ’n maand vertraag.

Dinsdag het die Weerdiens verslae ontvang van vroegoggenddou plek-plek in die westelike Vrystaat, terwyl ligte ryp oor die suidwestelike dele voorgekom het. In die Bothaville-, Bloemhof- en Welkom-omgewing is minimum temperature van tussen 10 °C en 16 °C vir die res van die week voorspel.

Die Weerdiens sê al word temperature onder vriespunt nie vir die Vrystaat voorspel nie, is temperature op die grond gewoonlik 2 °C tot 3 °C laer as wat dit 1,5 meter bo die oppervlak is. Die kanse op ryp is hoër waar daar te min grondvog is omdat droër grond geneig is om oornag vinniger energie te verloor as natter grond.

Ons verwag dus meestal ’n ondergemiddelde oes en vir party boere ’n gemiddelde oes waar daar op kritieke tye ’n welkome bui reën of twee geval het.

Data van die Weerdiens wys die vlakke van grondvog in die Vrystaat is in die algemeen taamlik hoog.

Volgens De Villiers is dit nou reeds te koel in die Vrystaat en Noordwes om die mielies tot optimum opbrengs te bring.

“Ons verwag dus meestal ’n ondergemiddelde oes en vir party boere ’n gemiddelde oes waar daar op kritieke tye ’n welkome bui reën of twee geval het.”

In die twee provinsies is die vroeë mielies egter baie swak weens die droogte en uiterste hitte in die groeifase. “Dié boere kan dalk 1 ton per hektaar of miskien 2 ton per hektaar verwag.” Die Nasionale Oesskattingskomitee het met sy tweede skatting in Maart die kommersiële mielieoes op 10,56 miljoen ton geraam. Die derde oesskatting word volgende week bekend gemaak.

De Villiers sê omdat gewasse in die westelike dele so laat geplant is, sal boere eers van middel of einde Julie kan begin stroop.

Meer oor:  Mielies  |  Sojabone  |  Mielieoes  |  Landboubedryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.