Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Nog geld vir rooibos in hoop op deurbraak

Die Suid-Afrikaanse Rooibosraad gaan nog R4,5 miljoen gee vir navorsing oor die gesondheidsvoordele wat rooibos inhou.

Talle studies word tans uitgevoer om die gesondheidsvoordele van rooibos te probeer bewys.

Volgens Joe Swart, navorsingsdirekteur van die raad, is ’n “opwindende fase” in die navorsing oor rooibos bereik.

Die Rooibosraad het reeds die afgelope dekade baie in navorsing belê.

“Ná jare se sistematiese en deeglike navorsing wat spesifiek uitgevoer is om rooibos se impak op die gesondheid van die hart te bestudeer, gaan ons begin met toetse op mense – die finale been van die navorsing,” sê hy.

Die belegging in verdere navorsing is Dinsdag deur Wesgro en die Rooibosraad in ’n verklaring bekend gemaak.

Die navorsing, wat deur prof. Jeanine Marnewick, hoof van die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) se stresnavorsingsentrum onderneem gaan word, gaan die eerste keer bepaal hoeveel rooibos in ’n gekondenseerde vorm genoeg is om hartgesondheid te bevorder.

Marnewick sê die navorsing sal 12 weke duur en begin in Augustus. Die bevindings behoort einde 2022 gepubliseer te word.

Ons wil genoegsame bewyse aan gesondheidsorgpraktisyns en pasiënte gee oor rooibos se potensiaal om sekere siektes te voorkom en te bestuur
Swart

Volgens Swart sal die geld ook aangewend word vir verdere navorsing om vas te stel wat rooibos se potensiaal is om allergieë, hartsiektes, diabetes en velkanker teen te werk.

Swart sê die groeiende vraag na natuurlike produkte vir gesondheidsdoeleindes vereis betroubare inligting oor die potensiaal vir genesing.

“Ons wil genoegsame bewyse aan gesondheidsorgpraktisyns en pasiënte gee oor rooibos se potensiaal om sekere siektes te voorkom en te bestuur.”

Ander studies wat ook uitgevoer gaan word, sluit in rooibos se impak op hooikoors en chroniese rinitis (ontsteking van die neusslymvlies) wat deur die longinstituut van die Universiteit van Kaapstad uitgevoer word.

Die Toi Ohomai Institute of Technology en die Massey-Universiteit van Nieu-Seeland gaan saam ’n ondersoek doen om te bepaal of die tee bloedsuiker kan beheer in mense met tipe 2-diabetes of prediabetes.

Verdere navorsing sal ook deur spanne wetenskaplikes by die KSUT uitgevoer word, soos oor die uitwerking van rooibos op velkanker.

Die Universiteit Stellenbosch sal die uitwerking van rooibos op hartprobleme onder mense wat antiretrovirale-medisyne gebruik, verder ondersoek. Die universiteit is ook besig met navorsing om te bepaal hoe ’n sekere eienskap van rooibos vetsug kan teenwerk.

Meer oor:  Wesgro  |  Rooibos  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.